Hulle hou jou seker besig…

mandi-opperman-en-haar-vier-01

Mandi Opperman (regs) en haar kroos van vier. Foto: Verskaf.

Mandi Opperman skryf:

“Ag, kyk hierdie mooiste kinders, Ma! Hierdie boetas… en nog die sussies ook! Twee van elk, is dit nie oulik nie?”

Die woorde maak ‘n ma se hart warm, en lekker as dit sommer van ‘n wildvreemde tannie in die Spar kom.

“Hulle hou jou seker goed besig, hè?”

Wel, noudat jy vra…

Net voor 6 word jy wakker van die gesteun van ‘n 12 kg-kleutertjie wat by jou in die bed klouter. Jy balanseer hom deur die slaap met een hand verby die baba wat teen jou lê.

“Mamma, hale vyf.” Hy druk sy handjie in jou nek en vroetel lief in jou hare… wat in ‘n vlegsel gebind is en waarvan hy nou die haarwortels stelselmatig uit pluk.

Liewer maar opstaan en gaan koffie maak! Die opstaan maak die baba wakker, sy glimlag vriendelik en vreeslik opgewonde oor iets…

Kleuterman kom saam. Hy is lankal gereed om ‘n bord pap of twee op te eet. Hy dra geesdriftig vir jou ‘n paar stewels aan. Dit neem tien minute om hom te oortuig dat jy nou sommer net jou plakkies gaan aanglip, en nie die oprygstewels nie.

Nou is die baba nie meer so vriendelik nie, maar druk die fopspeen in die mond, dan kan jy dalk gou koffie gemaak kry.

Kleuterman is nou regtig ernstig oor die pap. Hy haal solank ‘n Tupperbakkie uit die kas, en hou aan bakkies uithaal in die tyd wat jy melk uit die yskas kry en ‘n teelepel afspoel om mee te eet. Skep gou pap in en maak hom sit by die tafeltjie. Nou is hy tevrede.

Maar baba se probleem het intussen geëskaleer tot ‘n histeriese huil. Sy bedaar effens toe jy haar optel, maar die bron van haar ontsteltenis word gou vir jou duidelik… Alles, alles agter is vuil. Die rokkie, beddegoed en babahaartjies.

Goed, dit is ‘n probleem. Kry eers ‘n ou handdoek en stroop die baba. Maak haar op die handdoek lê en grou in die mandjie vir skoon klere. Warm waslap doen die werk en daar is die glimlag weer terug. Manlief kry ‘n liewe bondeltjie in sy skoot. Hy koer en tjank afwisselend terwyl sy hom soen en sy baardhare pluk.

Nou is Die Vyfjarige en Sussa ook wakker. Hulle loop in die gang vas in Kleuterman, met sy leë papbak en besmeerde hempie. Die Vyfjarige druk jou in ‘n hoek vas waar jy uiteindelik nou die koffieketel aanskakel.

“Waar is my pap?”

Jy korrigeer hom met:

“Nee, mag ek pap kry asseblief, mamma?”

Hy herhaal dit getrou, maar met dieselfde gedetermineerdheid in sy stem.

Sussa wag nie eens vir jou om te help of te keer nie – onafhanklike mensie wat sy is, trek sy ʼn stoel nader en begin vir haarself brood smeer. Met ʼn gekletter, geratel en mikrogolwe wat draai en piep, gaan sy lustig voort om haar spesialiteit, ʼn grondboontjiebotter-en-kaastoebroodjie, voor te berei.

Maar Kleuterman se aptyt is nog lank nie gestil nie. Hy trek ritmies aan jou broek waar jy die pap staan en roer en laat hoor sy kreet in ‘n diep stem:

” Wors, wors, wors, wors!” Genadiglik is daar nog ‘n Vienna in die yskas.

Die Vyfjarige se pap is gereed. Uiteindelik: Koffie!

Spoel nog ‘n lepeltjie af, trap oor die bakkies op die vloer en gee vir Vyfjarige sy pap:

“Ek het gevra vir ‘n liter melk.” Jy oorweeg in ‘n splitsekonde al jou opsies.

“Dit ís ‘n liter daardie…”

‘n Oomblik lank kyk julle mekaar vas in die oë.

“O…”

Ha! Jy neem behaaglik die eerste slukkie koffie, en sluit die baba se al-weer-honger-huil en die gekletter van Tupperbakkies om jou uit.

Ja, hulle hou my nogal besig.

En daar is nie ‘n halftydruskans en iemand wat jou met koel water en inspirerende woorde weer opwen vir die tweede ronde nie. (Alhoewel Manlief sy bes doen om die rol te vervul!)

Dit is die werk van ‘n slaaf. Jy word nie ‘n sent daarvoor betaal nie. En dit hou nie op nie. Ontbyt is maar sopas verby. Soortvan… net jy het nog nie geëet nie.

Manlief oorhandig die honger baba aan jou. Hy is al laat vir werk. Ten minste is daar tyd vir ‘n soentjie en “Môre! Sien jou bietjie later, hoor.”

Is dit nou ʼn Ma se lewe? Is dit nou die moeite werd, enige iets werd? Hoekom sal mens jouself vir iemand anders afsloof, die minste wees, elke keer agter in die ry staan?

Hoekom doen ons dit – die nimmereindigende, simpel vloerskropwerkies en boude afvee en kolle opvee?

Want, ja, daar is Iemand wat dit vir my ook gedoen het. Opgeoffer en wéér opgeoffer het. Eie belange afgelê het om my onbenullige basiese behoeftetjies te vervul. Sy eie léwe afgelê, om my vuil, verwerplike wese te bedek.

Sodat ek nuwe moed kan skep, met geduld en liefde die bakkie pap kan inskep, myself kan aflê en kan glo en aan my kinders, selfs deur die klein dienswerkies, kan wys dat Hy daar is, en dat Hy álles vir ons doen en sal voleindig.

  • Mandi Opperman is ‘n suigelingsendeling van vier.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Connie

So pragtig dankie.

Heksie

Laat my nou ver terugdink aan my kroos van 3 toe hulle nog so klein was … genadiglik is hulle nou groot! maar tog dink mens met nostalgie terug aan die tye toe jy hulle nog aldrie onder een kombers kon toemaak en veilig hou.

Hannelie

Geniet hulle mamma…nou kan jy hul nog beskerm maar as hul groot word kan jy nie!!! Dan bid jy dat die Liewe Vader hul bedskerm teen die wrede wereld daar buite. Wat n mooi artikel!!!

sherise

Mandi Opperman, jy is n yster.. dit is nou n mooi stukkie in n lang tyd om te kon lees. n Ma is n wonderlike ding, sy raak ook moeg (baie moeg) maar moeg kry haar nie onder, God se genade is baie groot vir mammas.. hulle kerse gaan nooit uit nie.
Byt vas elke dag is n belleging waarin jy bele.. myne is 6 en 8 jaar oud en ek mis reeds daardie dae.. dit was rof..maar baie lekker..ek sal dit verseker oor doen as ek tyd kon terug draai…

BK

Ons is nou drie jaar getroud en het nog nie kinders nie. Ek lees die beskrywing en in my geestesoog sien ek al die kleintjies wat in my huis gaan rondhardloop. Sien ek hoe my man sit en kinderstories lees en hoor ek al hoe hy die einde van die dag by my kla oor een of ander kinder liedjie in sy kop vassit. Met ‘n gevoel van bang-opgewondenheid sien ek uit na die dag wat ons aan ons vriende en familie kan vertel dat ons ook so ‘n bondeltjie vreugde van die Here af gaan ontvang.