Identiteit, etnisiteit en pres. Cyril Ramaphosa

Maria Ried van Askam. Sy is ’n trotse Griekwa, maar pres. Rampahosa bestempel stamgebondenheid as “primitief”. Net so minag Panyaza Lesufi taalgroeperinge en braak gal wanneer Afrikaanses opvoekundige instellings oprig met Afrikaans as die taal van onderrig. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Pres. Cyril Ramaphosa het so pas aangekondig dat hy nooit stamgebondenheid in Suid-Afrika sal toelaat nie. Hy vaar uit teen wat hy in Engels tribalism noem.

Ramaphosa weet blykbaar nie wat identiteit in die ware sin van die woord beteken nie. Overgeset synde, hy is skaam om te erken dat hy direkte bande met Venda het, waar hy aan die Hoërskool Mphaphuli in Sibasa gematrikuleer het. Of dat daar vir elkeen van die elf erkende landstale in Suid-Afrika ʼn volksgroep is wie se taal onder die grondwet erken word. Ja, ʼn taal vorm deel van jou identiteit. Die meeste lande in Wes-Europa het hul eie identiteit. Dit is wat hulle ʼn nasie maak. ’n Fransman praat egter Frans, ʼn Duitser Duits en ʼn Nederlander Hollands. Jou taal is ten nouste verweef met jou identiteit.

Net meer as 100 jaar gelede het ons voorouers ʼn bloedige stryd teen Engeland geveg oor een ding: hul identiteit. Die Vrede van Vereeniging in 1902 het duidelik voorsiening gemaak vir die beskerming van Hollands in instellings soos, byvoorbeeld, skole. Die aartsimperialis en oorlogmaker, Alfred Milner, het Suid-Afrika ná die oorlog tevergeefs probeer verengels met sy Kindergarten van ingevoerde Engelse onderwysers.

Jou identiteit is dit wat jy voel jy is. Chris Burgess is uit huis uit Engelssprekend, maar hy is die redakteur van die Landbouweekblad – die grootste landboublad in sy soort ter wêreld. Chris vertel my eendag dat die Landbouweekblad sy raison d’être is – die rede hoekom hy in die oggend opstaan, sy pap eet en na Naspers se hoofkantoor in die Kaapse middestad ry om met en vir die boeregemeenskap te werk. Chris se identiteit ís die Landbouweekblad.

Engeland, byvoorbeeld, is omring deur Keltiese streke. Brittanje bestaan uit vier tuislande, naamlik, Wallis, Skotland, Noord-Ierland en Engeland. Groot-Brittanje is eintlik Grand Bretagne –ʼn verlengstuk van Bretagne in Frankryk, sedert die Fransman Guillaume le Conquérant (Wilhelm die Veroweraar) Engeland by Hastings in 1066 verpletter het. Daarna het daar vir byna 400 jaar ʼn koning op die troon in Londen gesit wat niks anders as Frans kon praat nie – Frans was dus vir geslagte lank die amptelike taal. Om hul vernedering aan die hand van Frankryk bietjie meer draaglik te maak, verkondig die Engelse die storie dat Wilhelm die Veroweraar eintlik nie Frans was nie, maar Noors. Dit is natuurlik loutere onsin, aangesien Wilhelm se voorsate hulle reeds in 911 in Normandië gevestig het – ʼn volle 155 jaar vantevore. Franse skoolkinders leer op skool dat dit ʼn Franse inval was, wat natuurlik ʼn historiese feit is. Die Iere met hul Republiek beskou hulself nie deel van Groot-Brittanje nie. As jy ʼn Skot wil beledig, noem hom ʼn Engelsman.

My buurvrou, Laurian Swart, noem haarself ʼn Afri-Kelt, want haar pa was Afrikaans en haar ma is Kornies.

Al staan Ramaphosa op sy kop, sal Suid-Afrika se Zoeloe-vorstehuis niks anders as Zoeloe wees nie – en hulle wil ook niks anders wees nie. Ironies genoeg word Zoeloes as ʼn volksgroep deur die ANC gerespekteer, maar Afrikaners en Afrikaans word deur hierdie regerende party geteiken. ʼn Verdere ironie is dat Afrikaans as taal die derde grootste in Suid-Afrika is ná isiZulu en isiXhosa. Dit maak nie vir die ANC-regering saak dat Afrikaans in Afrika ontstaan het nie. Ook nie dat Engels die grootste koloniale taal van alle tye is nie.

Ramaphosa se denke is so besoedel met ideologie, dat ek presies weet hoe sy kop werk: ingevolge die ANC se panteïstiese beleid van sosialisme, word alles in een pot gegooi met die laagste gemene deler as doelwit. Alle vorme van onafhanklike denke en eie waardes moet uitgewis word. Dit stem volkome ooreen met die doktrines van hul leermeesters in die bevrydingstryd, Lenin en Marx, wat ʼn klaslose gemeenskap nastreef. In die proses word groepsregte en groepsidentiteit vertrap en misken. Ene Andrek “Panyaza” Lusufi stik in sy koffie as hy die woord “Afrikaans” hoor. Want hy kan nie verstaan dat mens jou kinders in Afrikaans wil opvoed en laat skoolgaan nie. Afrikaanse skole pas nie in by Lesufi se sosialistiese of kommunistiese verwysingsraamwerk nie; volgens hierdie denkwyse, pas Afrikaans en Afrikaanse skole nie in by die ANC se beleid van absolute eenvormigheid en gelykstelling binne die styl van pan-Afrikanisme nie. Lesufi kan ook nie verstaan dat mens Afrikaans kan wees nie. Om die een of ander rede voel hy bedreig deur ʼn groepering van mense wat beswaarlik 8% van die totale bevolking uitmaak. Dis natuurlik nie net bleekvelliges wat Afrikaans praat nie. Statistieke dui aan dat dit die moedertaal is van verreweg die meerderheid van die sogenaamde bruin mense, en in sowat 6,5 miljoen huishoudings as eerste taal gebesig word. ʼn Verdere 14 miljoen mense praat en verstaan die taal.

ʼn Jood kan in New York of Pretoria woon, maar hy is en bly nog steeds ʼn Jood en dit is hoe hy dit verkies. As dit oor die DNS in jou bloed gaan, bly jy wat jy is. Die herrie was ook los oor die Suid-Afrikaanse Bloedoortappingsdiens Afrikaans van hul vorms laat verwyder het. Dit gaan oor die aantasting van Afrikaans as taal, maar dit sny dieper as dit. Mense en voornemende skenkers voel nou dat hul identiteit aangetas word en per slot van rekening is bloed ʼn ernstige saak!

As jy ooit op die Stade Francais in Parys was en 80 000 patriotte sing meesleurend “La Marseillaise”, dan sal jy iets beleef van die Franse identiteit.

Ramaphosa sal nie weet wie Maria Ried is nie. Maria het skrefiesoë en hoë wangbene en sy sal insmelt in die menigtes in Japan en selfs China. Sy werk in ʼn koffiewinkel in Askham. En toe ek vir Maria vra, wat sy eintlik is, verklaar sy trots, sonder om  ʼn oomblik te huiwer:

“Ek is ʼn Griekwa!”

Dit is haar identiteit, of Ramaphosa daarvan hou of nie. Groepsgebondenheid binne stam- of volksverband is ʼn werklikheid, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. En dis ook goed so. Hoe vaal en interessant sou ons bestaan gewees het as ons almal dieselfde taal en kultuur aangehang het.

Ek is noord van die Oranjerivier gebore, maar vir die volgende week of ses sal my identiteit bepaal word deur ʼn groep rugbyspelers in groen truie wat die naam “Springbokke” dra.

  • Pierre Massyn is ʼn navorser en oud-joernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Merie Perd ·

Liewe Mnr. Massyn,
Al die dinge waaroor jy pskryf is so waar. Maar ek is bevrees, nes al die ander waarhede wat hier verkondig word,sal die berig ook nerens heen gaan nie, jy mors jou energie en tyd. Stuur asb. vir all die leiers van die politieke partye jou skrywe hie bo. Miskien, net miskien, sal jy van een van hulle n reaksie kry. Moet egter niks van die anc, eff, cope, maroela of da verwag nie.- Sterkte stemmetjie in die woestyn.

humor ·

Pierre ek skat jou woondorpie is Bethanie. Jou taalgebruik maak jou bekend. Dit is plein reguit en duidelik sonder enige misverstand. dit is die tipe taal wat ons vandag in die howe en die politiek nodig het. Ja dit is nodig dat jy dit in Maroela plaas want jy sien sekere afrikaanses dink nie soos ons nie, hulle wil iets anders wees. Iets sinteties waarby ek eenvoudig net nie kan aanpas nie. My Boere Afrikaner identiteit sal ek selfs met my lewe wil verdedig.

Hagar ·

Kenmerkend van die pres en sy gevolg is dat hul gedurig met n gesplete tong praat. Het nie die mannemoed om hul ware kleur te wys nie. Op n geslepe wyse voer hul hul sosialistiese marxistiese agenda deur en probeer anderdenkendes om die bos te lei. Soms verdedig hy selfs volkere verskeidenheid- idntiteit, maar hy laat sy werk doen deur sy kaders en selfs opesisievennote. Hy besef nie dat sy basissteun slegs bestaan uit die miljoene onkundiges, ongeskooldes en selfs misdadiges nie. Hy krap nou aan sake wat selfs gevaarliker is as grondonteiening.

Stephan de S ·

Dis nou n artikel sonder weerga. Sonder om ander mense te na te kom, stippel Pierre eenvoudig sonder omhaal v woorde en breedsprakigheid die eenvoudige waarheid vd lewenswerklikheid v miljoene vredeliewende mense, saamgestel uit talle volke , nasies en tale, uit. Dit is nou voor hul misbruik word deur die ideologieë v daardie misplaaste baasspelerige skepsels, ook bekend as betaalde politici. Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons nie meer hul trekesels is nie. Pierre my respek vir jou het so gestyg. Miskien sal al die regeringspappegaaie ook n bietjie minder koggel.

Therese van Schalkwyk ·

Wéér ‘n skitterende stuk van hierdie skrywer!
Dit verduidelik ook presies waarom die woord, “nierassig”, so ‘n belaglike nuutskepping is.
Diverse en multi-kulturele samelewings? Ja.
Nierassige samelewings? Nee.

Jerry ·

Ek ondersteun die feite, synde dat CR se denke besoedel is met Lenin en Marx ideologie, fyn verweef in pan afrikanisme. Dat CR die president van n nasie van identiteitslose, klaslose en wetsongehoorsame massas is en wil wees sodat die massas ideologies dien as die middel tot die doel (verandering/sosialisme), dit is ook so en dat hy ideologies gesteun word deur onder andere ook Gordhan en Mboweni, ek praat nie eers van foefie Lesufi nie, dit is ook net so n voldwonge feit. Diegene wie hoopvol en positief raak wanneer hierdie kaders vryemark geluide maak, pasop want daardie geluide mislei jou vir jou geld waaragter hulle aan is! Wanneer hulle westerse of vryemark geluide begin maak is dit om samewerking en ondersteuning te kry om n voet in die deur te kry en as die voet in die deur is, sal jy hom nie weer daar uitkry nie! Hoe dit ookal sy, daar kan nog iets gedoen word aan die besoedeling in die Vaalrivier, maar daar kan ongelukkig niks gedoen word aan die besoedeling in kader denke nie en ook nie aan n toekomstige naamsverandering vir die Vaalrivier (Rioolrivier) nie. CR staan as ANC kader aan die rewolusionere kant van die rivier saam met al die ander rewolusioneres, dit sluit Zuma, BLF en Malema in. Neem dus kennis dat nie een van hierdie kaders ideologies aan die skrywer se kant van die rivier staan nie, behalwe wanneer dit hulle pas en om hulle opponente te mislei!

aj ·

Sien jy nou wat die ‘oumense’ na 1948 laat besluit het op AFSONDERLIKE ONTWIKKELING as visie en missie vir Suid Afrika?

Hou dop … dit kom terug! Natuurlik onder ‘n ander naam!

JohanL ·

Dankie Pierre vir ‘n skitterende verwoorde artikel. Die Grondwet is natuurlik veronderstel om juis alle groeperings (maw identiteite) bestaansreg, erkenning en respek te gee. So as geagte Mnr Ramaphosa ons almal in een blik wil druk, dan toon hy mos geen respek aan ons land se Grondwet nie?

Waarskynlik kom sy gevoel juis van wat hy ervaar binne die ANC – as Venda is hy die teiken van veral die Zulu en Xhosa se vyandigheid jeens hom as Venda. Laat ons nou maar reguit en eerlik wees, die Zulu het nie veel tyd vir die Xhosa nie (en andersom) en so het hulle ook nie veel tyd vir die Venda nie. Ons almal weet dat “tribalism” ‘n probleem is binne die ANC. Maar dit is hulle wat dit ‘n probleem maak en nie ander bevolkingsgroepe kan respekteer nie. Nou wil Ramaphosa dit systap met sy uitsprake dat hy dit nie sal duld nie. “The mind boggles” !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.