Is Afrikaners op die regte pad?

Geloof

Argieffoto.

Deur Breytie Breytenbach

In die kommentaar wat deur  Maroela Media-lesers gegee word, verskyn dikwels die standpunt dat God die Afrikaners sal beskerm teen die aanslae van die huidige situasie in die land. Tot hoe ʼn mate het ons gronde om so ʼn oortuiging te hê en te verkondig? Sonder om op blote godsdiensteorieë te steun, is ons geregverdig om te aanvaar dat God aan ons kant is en nie aan die kant van “die vyand” nie? Daar is immers Christene onder al die groepe in ons land.

Daar was ʼn tyd, lank gelede, toe Sondag as ʼn sabbat beskou is en spesifiek Christen-Afrikaners het die dag as heilig beskou. Baie “moenies” het op ʼn Sondag gegeld, soos dat kinders nie mag swem nie, nie met ʼn bal mag speel nie en voeg enigiets by wat die woord “speel” impliseer. Verder is daar op ʼn Sondag kerk toe gegaan en daarvoor moes “kerkklere” aangetrek word. Mans het gewroeg in swart pakke op warm somerdae, maar daar was nie toegewings nie. As jy te ver van ʼn kerk gebly het om elke Sondag die erediens by te woon, is daar oor die radio na ʼn kerkdiens geluister of die plaaslike ouderling het ʼn groepie bymekaargebring en ʼn preek uit ʼn boek voorgelees terwyl almal in “kerkklere” gesit en luister het.

Vandag is dinge baie anders. Kerke het nie meer die greep op die gemeenskap wat hulle gehad het nie. Sondag word nie meer as “heilig” beskou nie, maar wel as ʼn dag om te ontspan. Was ons as volk nader aan God in daardie tyd, lank gelede? Of is ons steeds net so naby aan Hom, al lyk dit op die oog af of daar erge vervlakking en verwydering gekom het tussen ons en God?

Daar is ook vervlakking op ander terreine, soos opvoeding wat tot groot mate oorgeneem is deur kommersiële ondernemings, sterk ondersteun deur slim advertensies; huweliksverhoudings wat maklik tot ʼn einde gebring kan word sonder skande en met dramatiese gevolge vir die kinders; misbruik van allerhande soorte; vereensaming en depressie.

Hoe moet Christen-Afrikaners hulself as geestelike mense verstaan binne die huidige vloed van kommersialisering en vervlakking? Moet ons bekommerd wees?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Meneer ·

Dalk is dit juis deel van die probleem! Wie het besluit Sondag is die Sabbat? Beslis nie God nie!!

Veritas ·

Die besluit om die Sabbat na Sondag (die dag van die songod Ra) te verskuif, is deur die Rooms Katolieke kerk geneem. Die besluit is deur die meerderheid ‘Gereformeerde’ kerke gesteun en nagevolg. Dit is ‘n onbybelse besluit wat direk indruis teen die Woord van God.

neelsie ·

As “christene” oor sulke nietighede kan verskil, sal die satan nog groter wigte tussen hulle indryf!
Hou op om mekaar af te breek en keer terug na GOD!!

pjkruger ·

Beslis het God die sabatdag ingestel. Lees net jul Bybel meer gereeld. Ex.20: Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. 
9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; 
10 maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.” Sterkte

Louis ·

pjkruger ek dink die vraag was gewees wie besluit het dit moet Sondag wees? Want sover my kennis strek is die 7de dag Saterdag.

SHERRI ·

Ek het sabbat op n saterdag, sondag is die eerste dag van die week.omdat ons in die “laaste” dae is, sal al hoe meer dinge wegval en al hoe meer goddelose goed populer wees.
Ek dank die Vader dat HY al so met my gewerk het, ek sidder om te dink hoeveel mense gan nie gered word nie, hoeveel mense gan geskok wees as Jesus binnekort kom en hulle dit nie verwag het nie.
Ek wil nie meer deel wees van al die aardse dinge ens nie, ek is so hard besig om God se pad te probeer volg.
As jy die Here wil prys en loof, sal jy enige ding dra, klere het tog niks met jou verhouding met God te doen nie, en ek sit ook nie op sondae in die kerk nie, maar my tyd op n saterdag en enige ander dag is so spesiaal, en dit sal ek nie nou verruil vir enige iets nie.dis net vir my hartseer dat God so lank moes wag vir my om bietjie “wakker”te skrik.

Pieter van der Dussen Senior ·

Gelowiges GLO met die hart en bely met die mond ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese : God: Kenbaar uit Sy skepping self, genoegsaam selfopenbarend in Sy Woord sodat ons in hierdie lewe tot Sy eer en die saligheid van die uitverkorenes, van ewigheid af Sy Eiendom.
Hulle GLO EN BELY, erken en aanvaar stellenderwys en onvoorwaardelik dat hierdie Woord van God deur die heilige mense van God dit, deur die Heilige Gees van God gedrewe, gespreek het en daarom nie aan enige menslike vertolking onderwerp mag word nie (2 Petrus 1:16-21).
Daarom eerbiedig elke gelowige die Wet van die HERE wat HY in die Tien Gebooie vasle – met Sy Eie Hand in twee kliptafels gegrafeeer het.
In die Wet het HY die sewende dag as volkome rusdag verordineer, vasgestel. Die deur eie skuld sondige mensdom moes die eerste ses dae werk – soos God in Sy skeppingswerk. Die sewende dag moes hulle afsonder om die vervulling van die Messiasbelofte (Genesis 3:15) af te wag. Maar Christus het op die eerste dag (Sondag) uit die dood opgestaan (Matteus 28:1……) en so die nuwe Messiaanse bedeling (Testament) ingelui waarin die gelowiges uit Christus se opstanding lewe en nie meer na Hom toe nie. Op die eerste Pinkster-Sondag het God die Heilige Gees uitgestort. daarom is Sondag die Dag van die Here (Handelinge 20:7, 1 Korintiers 16:2). Die toedeling van Sabbat as Sondag dien as aanmaning dat die Wet ons tugmeester na Christus toe is (lees Galasiers hieroor).
Sela.

Pieter van der Dussen Senior ·

Dankie Breytie vir die ernstige waarskuwing. Die talryke kerkgeboue in die land getuig sigbaar dat ons nie nutteloos gelewe het as Afrikanervolk (en ander van Europese herkoms) wat met die Evangelie hierheen gestuur is, ja gestuur is nie. Die Afrikanervolk is inderdaad op hierdie bodem geskep met die eienskappe om dit Skriftuurlik met Evangelie en onderwerping te laat gedy. Ook die heidense volke wat saam met ons hier woon en onder wie daar vandag talryke gelowiges is. As jy (en enigiemand anders) belangstel: Stuur jou e-posadres na [email protected], dan stuur ek vir jou uitgebreider leesstof hieroor.

Breytie ·

Pieter, my e-pos het nie geslaag nie: mailbox unavailable

Breytie ·

Ek sou graag die debat effens wil laat skuif na die gehalte van Afrikaners se verhouding met God. Die viering van Sondag is seker ‘n maklike manier om die verhouding te meet of te evalueer, maar is dit regtig nog so? Deesdae word Sondag so baie soos ‘n ontspandag gevier dat dit nie meer kan dien as aanduiding van ‘n sterk of swak verhouding tussen ons en God nie. Nogtans is dit duidelik dat mense ernstig is oor God en Sy gesag oor ons, maar is ons in ‘n posisie om te aanvaar dat Hy werklik ‘n plan het te midde van die verval rondom ons? Is ons op die regte plek, of is ons juis die oorsaak van ons eie probleme?

John ·

Die kerk soos ons Afrikaners dit ken, is geskoei op die Nederlandse/ Duitse/Engelse vorms. Die Amerikaanse kerkstyl het mettertyd ook loslitkerkdienste by ons laat posvat. Die dominees het self ‘n groot rol te speel in die invoer van ‘bands’ en die wegdoen met orrelspel en halleluja-liedere/psalms/gesange en die sg liedboek/sangboekies ingevoer. Die Russiese en Griekse Ortodokse Kerke le nader aan die antieke Christelike kerkstyl en is baie meer statig en bevredigend en neig tog ‘n gevoel van heiligheid eerder as ‘n die lekker psigo-godsdientige lesing met die Bybel as aanknopingspunt van ons dominees deesdae. Dit is hier waar die probleem na my mening le: Die predikante gee lesings oor alles en nog wat en die wil van die Here speel tweede viool. Die vraag hang dus ook daarmee saam of ons predikante nog op die regte pad is en respek verdien.

Ben Prinsloo ·

Uit al die kommentare hierbo het ek tot die besef gekom dat die rede vir die blanke se onderdrukking is as gevolg van sy geloof. Efese 4 praat reguit van die eenheid van die geloof. Maar ons het soos n klomp skape afgedwaal van Sy lering en instellings en dit is die rede waarom ons vandag in benoudheid sit. Dit sal nie met ons volk beter gaan alvorens ons nie weer ons waardes en verordinge begin nastreef nie.

Pieta ·

Hoe wonderlik is dit dat jou vertolking van die Christelike geloof en die sogenaamde ‘dwalinge’ van gelowiges, nie van enige toepassing op die oorgrote meerderheid van Christen gelowiges is nie.

Mike ·

Sondag word op die eerste dag vd week ( Sondag) gevier. Jesus het op Sondag uit d graf opgestaan – 1ste dag van die Nuwe Bedeling van redding deur Jesus Christus

Veritas ·

God het die sewende dag die Sabbat gemaak. Geen ander wese het die reg of die mag om dit te verander nie. Nêrens in die Bybel staan daar geskryf dat God die eerste dag van die week as Sabbat geheilig het nie. Dit is ‘n mensgemaakte instelling en strydig met die bevel van die Almagtige.

John ·

Die Nuwe Testament staan onder die nuwe bedeling waar Christus die 10 gebooie vereenvoudig het tot die aanbidding van die Hemelvader en om jou naaste lief te he soos jouself, wat alles dus omvat. Hy het self wonderwerke op die Sabat gedoen en is aangespreek daaroor. Die ortodokse Jode in Israel probeer hou by die Ou Testamentiese reels ook tov die Sabat. Dit is ‘n feitlik onbegonne taak in dis moderne wereld. Die Weste se dae van die week is geskoei op die name van gode uit die ou tyd. Vir ons om reels en regulasies te volg en te glo ons is nou goeie Christene wat seen verdien, is om soos die ou Fariseers/Skrifgeleerdes te redeneer.

HEVW ·

Veertig jare se studie beindruk eintlik niemand nie. Veral as dit met n reeds bepaalde voorveronderstelling gepaart gaan. Ontelbare mense deur die geskiedenis is met die lees van n enkele teks aangegryp en het dit lewenslank as Godswoord beleef. God se Woord staan nie alleen nie. God se Woord en die Heilige Gees werk as eenheid om vir Hom n volk te versamel. Oor die geskille rakende watter dag die regte dag van aanbidding is , kan maar net gese word alles wat Christus Jesus plus is en oordryf word is nie die ware weg tot lewe nie. Die ware lewe is in Christus Jesus alleen op gesluit. Wat die wegdoen van tradisie betref wil ek se. Die moderne opvatting die afgelope dekades deur sommige predikante dat die kerk meer aan die wereld gelyk moet word sodat die menes van die wereld makliker bereik kan word, het n God – onerende gees in die kerk ingedra. In so n mate dat self die wet en die geloofsbelydenis weggelaat is en dat daar geen element in die erediens is wat ontsag en eerbied jeens God demonstreer nie. Dit is alles die gevolge van liberalisme wat die kerk filtreer het. Vele predikante het op koste van Kerkrade na Amerika gegaan om hierdie gees hier te kom vestig Die bewysbare gevolg is dat die wereld toe nie almeer soos die kerk begin lyk het nie, maar die kerk het almeer soos die wereld ontaard.

Polaris ·

HEVW, ek dink 40 jaar se studie oor die onderwerp is wel merkwaardig. Die aantuiging oor “vooropgestelde idees” is erg misplaas, vee eerder voor jou eie deur. Let asb. daarop dat ek niemand verkwalik omdat hulle gelowig is nie en daarom waardeer ek nie jou skuins klappery nie.

HEVW ·

Wat John se van psigologiese “prediking” instede evangelie prediking wil ek volmondig ook saamstem.
Dit is ewe eens n produk van Amerika. In baie predikante se studeerkamers oorheers hierdie litratuur. En dit is baie maklik om dit te gebruik en bykans 100% plagiaat te pleeg. Baie lidmate hou nogal hiervan want dit is interessant. Veel word gekonsentreer op die inspan van die rede wat dan dien tot nuwe gedragsbetrone sonder om te beklemtoon dat geloof die gawe van God is. Sien Ef 2; 8 en 10. Die tipe” prediking” skep die opvatting dat redding opgesluit le in die vermoe van die mens wat dan natuurlik n ernstige dwaling is.

John ·

Daar is mos die Mesiaanse Jode/Christene (ook in SA) wat op Saterdae byeenkom om te aanbid. Bybels ooreenkomstig die Joodse Ou Testament word gebruik. En sekere gebruike soos om nie varkvleis te eet nie, word gehandhaaf. Die probleem is juis dat al die kerkgenootskappe almal hul eie vertolking van die Bybel het oor sake soos die doop en die Nederlandse kategismes ens., die Katolieke Kerk se siening oor die vergewing van sondes en oor heiliges op aarde, om maar enkeles te noem. Predikante haat mekaar letterlik oor hierdie verskille. Die Jode is teen beelde in sinagoges en die Katolieke soen en aanbid feitlik die beelde van Maria. Dis chaos om die minste te se.

HEVW ·

As ons tog maar die wet net reg wil verstaan. In Eseg 20 : 11 En Ek het My insetting gegee en My verordeninge aan hulle bekend gemaak……. Sodat hulle, die mens, daardeur kan lewe. In die NT se Christus aan n wetsgeleerde: Jy het reg geantwoord gaan jy en doen net so en jy sal lewe.” Nerens se die Woord dat ons deur die vervulling van die wet tot lewe of dan tot redding kan kom nie. Ons kan nie die nakoming van die wet of dan werke van geloof skei nie. Geloof en werke is een. Werke is die konkrete gestalte van geloof.Lees Jakobus. Elke handeling van die gelowige is n geloofsdaad in diens van Sy eer en koninkryk. Baie interessant kyk wat staan op die laaste bladsy van die Woord. Openb. 22: 13 en 14.

Rina van den Heever ·

Gewoonlik was dit die man wat vir die vrou vertel het wat om op n Sondag aan te trek of doen. Die manne het lekker ontspan en die vroue swoeg vir middagete. Ek as oudste dogter moes natuurlik al die donkie kookwerk doen, agterna die skottelgoed was en nog vir pappa en die boeties (en kuiermense) tee aandra. Nie baie christelik nie as jy my vra.

TTh ·

Nee, —– mense in die algemeen soek nie meer na God nie, dit is ‘n saak vir die individu. Die Afrikaner volk het as volk God reeds verwerp, gemoderniseer, vervlak, verkerk, verander, gediversifiseer ens. God is nog steeds dieselfde, niks het by Hom verander nie. Sondag rituele en tradisies is snert en onskriftuurlik van altyd af, die antwoorde is in die Woord. Die Afrikaner is nie op die regte pad nie want die volk wil nie op die regte pad kom nie

Disselboom ·

Jammer Breytie – jy wend ‘n goeie poging aan om mense tot nadenke te stem, maar die lae vlak van die bespreking hier (met enkele uitsonderings) en ongelowige en oneerbiedige snert wat Afrikaners hier kwytraak, is ongelukkig ‘n antwoord dat die Afrikaner – die eens-protestants-Christelike volk wat dwarsdeur eeue van pionierslewe gelowig gebly het en eerbied vir Christus en Sy kerk gehad het, en God gevrees het – op die verkeerde pad is. Die gelowige minderheid is genadiglik nog behoue, maar die selfingenomes en weerspanniges wat dink jy kan oor God en oor Sy kerk praat soos jy wil en sommer op die koop toe ‘n klomp twak praat asof jy ‘n kenner is, is te veel en te sigbaar om te probeer dink hier is nog oor die algemeen gelowige kerkbegrip.

John ·

Van die mooiste en vervullendste dienste wat ek ooit bygewoon het, was op Geloftedag, maar die’ dag is saam met die baba en die badwater by die voordeur uit na die Afrika-rommelhoop. Die langnaweke en vakansies rondom ons geestelike dae, vervlak ons geloof en ons predikante is ok woerts weg na hul ‘seegemeentes’. Goeie verskonings vir alles is ons ondergang!

Johann Marx ·

Ons het ‘n ongelooflike goeie predikant. Hy kan ‘n gehoor aan sy lippe laat hang, en saam neem op ‘n ontdekkingsreis. Verlede Sondag was hy weer op sy stukke….so meesleurend dat die man langs my in meevoering en in gedagte ‘n sigaret opgesteek het…in die middel van die preek!! Ek was so geskok ek het amper my bier laat val……

Breytie ·

Disselboom, dankie vir jou begrip. Tog dink ek hier is twee duidelike boodskappe in die kommentare tot dusver.

Die positiewe boodskap is dat ons Afrikaners nog nie regtig weggedraai het van God nie. Daar is verskil van mening oor die kerk en die gebruik van Sondae, maar duidelik word God steeds aanvaar as die hoogste gesag. Daar mag foute in die benadering wees, maar as daar ‘n verhouding met God is, sal waarheid meer en meer ontdek word. Ek dink ons kan gerus wees dat God ons (nog) nie verlaat het nie.

Die negatiewe boodskap is dat ons erg na mekààr hap. Ons maak foute in ons horisontale verhoudings met ander Afrikaners. Verhoudings is alles. Hoe meer jy die ander aanvaar as mens met tekorte soos jy, hoe meer sal jy sy stryd leer ken, en hoe makliker kan jy verstaan . Afrikaners het nodig om mekaar beter te leer ken en ons sal ernstig plan moet maak.

Ek weet wat ek gaan doen.

Bertus ·

Breytie, in antwoord op jou twee ‘duidelike boodskappe’.
Daar is reeds groot getalle Afrikaners wat nie langer die ‘hoogste gesag’ aanvaar wat tot al die verskillende instellings en vertolkings aanleiding gee nie.
Soos gelowiges onder mekaar hap, het die oorgrote meerderheid van die mense wat nie meer die gelowighede aanvaar nie, ervaar dat gesprekke hieroor met bitsighede – van beide kante – gepaard gaan en derhalwe vermy moet word. Soos die pes.

Polaris ·

Maroela verwyder sommer die res van my kommentare ook asseblief. Vaarwel my ou volkie.

Breytie ·

Bertus, as jou woorde beteken dat baie Afrikaners hulleself van God af wegdraai as gevolg van die optrede van mense – arme, swak, afhanklike wesens wat voortdurend foute maak – dan is dit ‘n ramp wat juis ook deur daardie Afrikaners se swakheid meegebring is. Hulle moet liewer eers hulle eie verhouding met God versterk sodat hulle nie deur negatiewe opmerkings regeer word nie. Dit wys net weer dat jy nie deur die kerk met sy lidmate of deur die viering van Sondag by God kan uitkom nie.

Maria van Dieweeck ·

Handelinge 2, die `bloudruk’ van die kerk van Christus. Kom ons wys nie vinger na mekaar nie julle .Ons moet liewer uitreik na mekaar en deur ons eie lewens, n impak te maak. LIEFDE, LIEFDE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.