Is daar iets waaroor jóú hart bly is?

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Deur Karin Muller

Te midde van knersend moeilike finansiële omstandighede het die ma besef sy moet hulle twee kleuters beskerm. Sy moes iets doen dat ten minste hulle tweetjies positief bly. Ná afleggings by haar man se werk het dinge dadelik versleg. Hulle het dit nooit breed gehad nie, maar die finansiële druk het sy tol begin eis.

Met elke onderhoud waarna hy uitgenooi is, het hoop opgevlam. Met elke e-pos of telefoonoproep wat hom hartlik bedank vir sy aansoek, maar terselfdertyd inlig dat sy aansoek onsuksesvol was, het die hoop vervaag. Die spanning in die huis het breekpunt bereik wat skielik deur onbekende argumente gekenmerk is.

Die ma het twee boekies uit die kas gaan haal en albei kleuters se name voorop geskryf. Elke aand ná storietyd het sy die twee boekies uitgehaal en vir elkeen gevra om twee dinge op te noem waaroor hulle hartjies daardie dag bly was. Die reël was dat hulle enigiets mag noem, maar hulle mag nie in dieselfde week iets herhaal nie. Sommige dae het die antwoord langer geneem as ander dae. Party dae kon hulle nie wag om te antwoord nie.

Die maande het verbygedraal en die bladsye van die boekies is volgeskribbel – elke dag se datum en daaronder die inligting. Die boodskap het begin deurskemer: Maak nie saak hoe moeilik jou omstandighede nie, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.

’n Paar weke later het haar man ’n oproep gekry dat hy vir ’n tweede onderhoud genooi is. Hulle opgewondenheid het geen perke geken nie. Sy het die laaste geldjies afgeknyp en ’n nuwe baadjie vir haar man gaan koop. Hierdie keer gaan anders wees as die vorige kere.

Sy was besig met die wasgoed toe haar man haar ’n paar dae later bel. Die aansoek was onsuksesvol.

Haar hart het ineengekrimp. Ter wille van haar man het sy haar trane probeer sluk en dapper gesê hy mag nie moed opgee nie. Sy het besef sy klink nie oortuigend nie.

Nadat hy afgelui het, het sy op hulle bed gaan sit. Snikke het spontaan deur haar liggaam geruk. Dit was meer as daardie dag se trane. Dit was weke en maande en jare se trane.

Eers toe sy haar trane afvee, besef sy dat hulle seuntjie stil op die rand van die bed sit. Sy het ingedagte na haar hande op haar skoot gestaar. Die laaste ding wat sy wou hê, is dat hy haar so moes sien. So moedeloos. So desperaat. So verbitterd.

Hy het effens nader geskuif en styf teen haar kom sit. Skielik het hy na haar gekyk en gevra: “Is daar enigiets waaroor Mamma se hartjie vandag bly is?”

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

SkarrelKind ·

Dis vir my opvallend dat die lesers veel eerder kommentaar lewer op negatiewe goed as op goeie goed, wat volgend my ‘n goeie indikasie is van waarom sommige van ons is waar ons is.

Ek het jou artikel geniet Karin, dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.