Lesersbrief: Is jy nog trots op jou taal en jou kultuur?

frik-lotz-sasolburg

Frik Lotz. Foto: Verskaf.

Frik Lotz van Sasolburg skryf:

Ek glo dis ’n geldige vraag as mens kyk na die omstandighede vandag in Suid Afrika. Daar is mos niks fout daarmee om trots te wees op wie en wat jy is nie. Is jy ’n Zoeloe? Wees trots daarop! Is jy ’n Sotho? Wees trots daarop! En is jy ’n Afrikaner?

Nou ja, wees trots daarop om ’n Afrikaner te wees! Netso moet jy trots wees op jou taal. As voorbeeld moet Afrikaanssprekendes trots wees op die taal en dit oral gebruik waar hulle kan. Praat die taal, skryf die taal en droom in die taal!

En is jy ’n Afrikaner wat voel jou kultuur en erfenis is vir jou belangrik? Wel, dan moet jy opstaan vir jou kultuur, jou erfenis, jou tradisies en jou geskiedenis. Moenie toelaat dat dit wat jou na aan die hart lê, op getrap word en vernietig word nie. Suid Afrika is ’n land met baie tale en kulture en elkeen se reg om sy taal te gebruik en sy kultuur te beoefen, moet gerespekteer word en bevorder word. Daarom is dit onaanvaarbaar dat ’n taal soos Afrikaans oral uitgewerk en misken word.

Só word Afrikaanssprekendes benadeel en word daar op hul regte getrap. En ja, dan trek die Afrikaner ook aan die kortste end deurdat sy bydrae aan hierdie land misken en soms ook ontken word. Die Afrikaner se geskiedenis word verdraai, sy monumente en standbeelde word verag en beskadig, en dan kry die Afrikaner en wit mense ook oor die algemeen die skuld vir alles wat fout is in die land. Dit is mos onregverdig en kan nie so aangaan nie of hoe?

Daarom moet elkeen van ons opstaan vir sy regte, trots wees op sy taal, trots wees op sy kultuur en dit uitleef.

Wees dus trots op wie en wat jy is!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Charles ·

Net so Frik, net so! Baie dankie :)

Maar dan moet ek ook ‘n stuiwer in die armbeurs gooi, en byvoeg dat AFRIKANERS SELF partykeer verantwoordelik is vir genoemde miskenning en vertrapping, synde dit die geval die wees dat die afstootlike siekte van “multikulturaliteit” (lees: demografiese selfmoord), selfhaat en oikofobie ook skynbaar ons grense bereik het.
My vraag: waarom!? Dit is onnodig, sonder grondslag, en onsinnig. Maar dan moet ek ook byvoeg dat daar min volkere is wat hul taal SO liefhet soos ons, buiten vir die paar wat ly aan oikofobie!

Kyk vir ‘n voorbeeld maar net na die asemrowende groei en hoe standaard van onse eie Afrikaanse Wikipedia, dis ongelooflik; asook die bloeitydperk wat Afrikaans JUIS tans beleef as gevolg van onderdrukking van ‘n nou-geworde volksvreemde en onthutste staatsbestel af.

Afrikaans is die gom wat ons bewonderenswaardige en trotse volkie bymekaarhou, EN DIT WOEKER EN LEEF OMTRENT!

Viva Afrikaans! ·

Ek stem heeltemal saam. As ek een ding kan uitsonder…….Ek as ouer is veral dankbaar vir die afrikaanse Wikipedia. Al was dit ‘n goeie oefening om al die engelse woorde in die woordeboek na te slaan as ons help met take, was die maklike manier maar google translate – en dit was ‘n fiasko!! Al het ons partykeer lekker gelag oor die sinne wat daar uit gekom het, moet ek sê dat Afrikaanse Wikipedia die beste is! Bou voort op ons taal en kultuur – maar pasop om ekslusief te wees – partykeer voel ons egte afrikaners uit ons eie kultuur uit as gevolg van mense se eksklusiwiteit….

John ·

Wat sou mens dan die nuwe dinamika noem binne sekere Afrikanergeledere oa die NNNP+ hetsy die VF+ wat vir stemme nou ander kulture opsuig… Wat bly van ons oor? Net sodat ‘n paar Pieter-ooms staatsalarisse kan trek? Hoe dom of angstig hoop die mense is ons?

Annamarie Olivier ·

John dit gaan hier oor die taal Afrikaans, dit wil voorkom of jy die VF+ wil bykom en nie die berig gelees het nie. En dit is duidelik waarom ons agter uit boer omdat die een afrikaner altyd die ander in die grond wil trap ipv saam werk of net sy mening vir homself hou.

Reinhardt ·

Ekt nog altyd gehou van ons taal en kultuur, maar vandat ek die besigheidswereld betree het en besef het hoe Engels alles is, het ek skielik ongelooflik bedreig begin voel. Met alles wat so verengels het ek inderwaarheid MEER trots op my taal en kultuur begin raak. Waar ek voorheen nie sou omgee om n Afrikaanse produk of besigheid te ondersteun nie, doen ek dit nou opsetlik sodat dit kan floreer!

Gert ·

Die groot leuen wat in Suid-Afrika gepropageer word, is dat Engels Die Wêreldtaal is. Die ware feite is dat slegs 5.2% van die wereldbevolking Engelssprekend is, en dat Engels slegs die 3e taal vir kommunikasie tussen verskillende groepe is. Die aandrang op Engels in Suid-Afrika is boonop baie vreemd omdat die meerderheid eintlik glo dat kolonialisme sleg was, en dis oorwegend deur die Engelse beoefen.

lanie ·

Ek is Afrikaans en trots daarop. Maak nie saak wat in die korporatiewe wereld gebeur nie. Afrikaans bly bo.

Jerry ·

Annamarie Olivier as John sy mening eerder vir homself moet hou, wie verbeel jy jouself is jy dat jy nog steeds jou mening kan uitspreek. Wie het jou geskool wat vir jou gese het dat ander mense nie hulle opinies mag uitspreek wanneer hulle van jou verskil of die artikel verkeerd gelees het! Lewer kommentaar op die artikel en los medekommentators om hulle se te se! Jy kla oor taal en oor vryheid van spraak ens, maar dan is jy die eerste een om vir n ander een te se hy mag nie kommentaar lewer nie! Hierdie lewe wentel nie net om ons eie ek nie, dit wentel om alles en almal van die skepping!

Patriot ·

Daar is nie `n mooier taal as Afrikaans, daar is nie `n mooier landslied as Die Stem nie. Ons kultuur is kosbaar en uniek.

rollie ·

Wat is hierdie kultuur van ons wat so uniek is? Behalwe vir “moan” (waarin baie Afrikaners goed in is) wil ek graag weet.

Jerry ·

AfriForum se onversetlike skoorsoekstrategie wat gevolg was in hulle strewe na geregtigheid, beskerming van Afrikanerbelange en regte het na regte tot erger onverdraagsaamheid teenoor die Afrikaner gelei en het in effek die aanslag teen die Afrikaner, sy geloof, taal en kultuur vermenigvuldig en versnel tot so n mate dat Afrikaner belange reeds uitgedien en uitgesluit geraak het uit die breer SA samelewing en ekonomie. Die enigste ware toevlug waarheen die vreesbevange Afrikaner hom dus op die einde van die dag kan wend vir beskerming van belange, taal en kultuur is toe nou heel toevallig en gerieflik slegs beskikbaar by AfriForum/Solidariteit selfbeskikkingsprojekte. Dit is waarheen die AfriForum/Solidariteit strategiese projekte en bravade die Afrikaner gelei het, na gedwonge isolasie en gedwonge selfbeskikking! So ja, Frik is reg, alles van die Afrikaner word uitgewerk en misken en daarom moet ons opstaan vir ons regte, trots wees op ons taal en ons kultuur uitleef, eksklusief en in isolasie! Ons kan verskil oor die redes, maar die feite rondom die benadering wat gevolg was en die eindresultaat, spreek vanself! n Klein groepie Afrikaners gaan dus trots wees en hul taal en kultuur uitleef, dit ten koste van die meerderheid Afrikaners wie dit seker maar verdien om in die woestyn op te eindig aangesien hulle heel moontlik sou ja gestem het in die referendum voor 1994!

Frik Lotz ·

Jerry, ek sien jy lewer orals kommentaar op verskeie artikels en ek kom agter jy is baie venynig teenoor die VF Plus en al die mense wat bereid is om op te staan vir Afrikaans en trots is op hul kultuur, erfenis en geskiedenis. Ek en die meerderheid Afrikaners is nie skaam oor ons taal en kultuur nie en sal dit bevorder waar ons kan en op n sinvolle, positiewe manier. Ons is trots op wie en wat ons is! En jy?

attie ·

Afrikaanses praat al meer Afriels. Luister hoe vleg ons Engels in ons gesels in en op TV hoor mens soms in elke sin ‘n Engelse woord. Kom in tradisionele Afrikaanse omgewings en ons sien dat Afrikaanses dink hulle moet in Engels besigheid doen. Gaan kyk in Faerieglen hoeveel winkels het Engelse name. Is ons onder die indruk dat Engels “in” is of is dit ‘n kwessie van traak my nie. In Afrikaanse kerke word Engelse liedere blykbaar verkies bo Afrikaanse liedere. Wys my ‘n groep Duitsers wat verkies om Frans of Engels te sing. Kom ons word ‘n slag wakker in ons pragtige land. Kom ons wees trots op ons taal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.