Is ons liefdadigheid dalk ʼn humanitêre tydbom?

bedelaar-sluipslaper

Foto: Werner22brigitte/Pixabay.com

Ons word oral daarmee gekonfronteer: Die smekende oë met ʼn verrinneweerde stuk karton voor die bors by die verkeerslig, die spreker van die een of ander organisasie wat ons gemeente smekend kom vra om tog ʼn paar rand of ʼn klompie nie-bederfbare produkte te gee sodat kospakkies uitgedeel kan word, die nuusbriewe van evangeliste wat die swaarkry van armes maand vir maand met ons deel, die statistieke op die TV en internet wat die werklikheid van die verswakkende ekonomie en toenemende werkloosheid vir ons amper daagliks uitskree…. En ons reageer deur te gee, want die Bybelse opdrag is dat ons die armes moet help en ons gewete spreek ons aan oor veral die arme kinders van daardie honger gesinne.

Dis waar, die Bybelse opdrag ís dat ons die armes moet help. Die vraag is egter: Help ek werklik die smekende oë by die verkeerslig wanneer ek ʼn paar rand deur my motorvenster in sy hand stop? Help al die kospakkies wat aan armes uitgedeel word deur persone en organisasies wat betrokke is by armoede-bediening werklik? Dryf daardie kospakkies nie dalk juis die ontvanger daarvan in groter moeilikheid nie? Is kospakkies en ander lewensmiddele uitdeel regtig wat die Bybel bedoel met “help die armes”?

Ek is bevrees ons is besig om ʼn groot klomp skade te doen met ons huidige siening van armoede-bediening, omdat ons nie behoorlik kyk na wat die Bybel vir ons sê oor die mens se skeppingsdoel nie en ook nie mooi nadink oor wat die gevolge van ons liefdadigheid is vir iemand wat fisiek in staat is om te werk en sy versorging te verdien nie.

God het die mens geskep met die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk. Wanneer iemand egter toegelaat word om dag vir dag baie min te doen terwyl hy gereeld versorg word, word iets van daardie persoon se menswees gesteel. Ja, hy gaan slaap weliswaar vanaand met ʼn vol maag, maar sonder die diep tevredenheid van vervulling wat ʼn werker ervaar wanneer hy weet dat hy vandag iets vermag het, dat sy lewe ʼn verkil op hierdie aarde gemaak het. Ironies genoeg word sy kreatiewe vermoë om iets te doen aan sy situasie deur vir homself te probeer werk skep baie keer juis gedemp deur ons liefdadigheid.

En ja, die Bybel gee ʼn perspektief op armoede-bediening wat heeltemal te veel kere misgekyk word (dalk omdat dit in die Ou Testament geskryf staan?) Rut en haar skoonma sou waarskynlik onder die “armes” kon tel toe hulle uit Moab in Betlehem aankom. Tog was dit vir Rut moontlik om dadelik ʼn plan te maak om haar en Naomi te versorg, sonder dat dit vir haar nodig was om te wag vir ʼn weldoener om vir hulle kos te bring. Die rede daarvoor was dat God ʼn wet vir Israel gegee het wat sê: “Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God” (Levitikus 23:22).

Ek dink dit is belangrik om te sien dat hierdie wet insette (harde werk) van die arme en die vreemdeling vereis as voorwaarde dat hy versorg kan word. Ek glo dat God hierdie wet so gespesifiseer het omdat Hy weet dat Hy die mens gemaak het as werker wat elke aand moet kan gaan slaap met ʼn stukkie trots en vervulling in die wete dat hy gedurende die dag iets vermag het.

Ek weet dat ons in ons dag nie wenakkers het om op lande te los vir armes en vreemdelinge om af te oes nie, want die meeste van ons is nie boere nie. Maar ek glo tog met my hele hart dat God vir ons die kreatiwiteit sal gee om die gees van hierdie wet in ons armoede-bediening te begin toepas as ons Hom daarvoor vra. Ek glo werklik dat dit dringend tyd word om dit ernstig te oorweeg om maniere te soek om die gees van hierdie wet in ons liefdadigheid te begin toepas, as ons regtig ʼn verskil in die armes se lewens wil begin maak. Anders mag ons liefdadigheid dalk wel ʼn humanitêre tydbom word.

Ledigheid is bowendien mos die duiwel se oorkussing.

Lana Hitge

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
noddy

Sure, gee jy dan vir die van hulle wat wil werk, werk. Glo my, daar is baie van hulle, maar hulle velle is te wit.

charmaine

Dit is so help ons regtig di wat bakhand staan? Ek se nee. Ek het al gesien hoe word Kos in n asblik gegooi wat deur n goeie daad aan n verkeersligbedelaar gegee is. En gedink ok Jy is Ni honger nie. Die mense soek geld vir gom en dwelms. Hulle word Ni honger Ni, hulle soek di gom en dwelms Om op n “high” te gaan dis wanneer hulle goed voel. Kos is di laaste ding waaraan hulle dink. Die volgende “FIX” is belangriker. Hartseer maar waar.

yumna

Dit is soos jy se Noddy maar dan ook aan die ander kant van die bladsy kan ek by noem soos die spreek woord se……….gee n hond vandag n been dan is hy more weer terug. My ma het altyd gese as jy leer om die vis self te vang, skoon te maak en voor te berei sal jy elke dag eet, maar as jy net aansit aan tafel en dit word vir jou gedoen wat maak jy as die hand wat jou gevoer het nie meer daar is nie, sterf van die honger? So ja ek stem saam die… Lees meer »

Dawie

Ja, dis maklik om kommentaar te lewer met ‘n witbrood onder die arm en om neer te sien op diè wat nie werk het nie. Probeer jy jou gesin aan die lewe hou as jy nêrens werk kry nie. Nie almal verwag dat alles net in hulle hande geprop moet word nie hulle soek net ‘n geleentheid om te kan werk.

Eliza-beth

Laaste sin – 100%. Ek gee NIE by robots want ek het al gesien wat daarmee gebeur. Ekge ook nie geld maar kos, klere, ens. Ek gee dit vir kinderhuise wat ek ken en vir diere organisasies wat ek vertrou. Minstens ‘n derde van my salaris elke maand gaan vir plekke wat ek weet dit bitter nodig het en wat ek weet dit reg gebruik.