Ja, God bestaan en ek ken Hom

Carmen Bornman, ʼn 15-jarige tuisskoolleerder van Centurion*, skryf:

h07-cross_sunset-10Bestaan God werklik? Is daar bewyse dat God bestaan? Dit is ‘n vraag wat elke persoon hom- of haarself die een of ander tyd afvra en wat die afgelope tyd opnuut in die media onder die loep gekom het.

Die bestaan van God kan nie as waar of onwaar bewys word nie. Die Bybel sê ons moet deur geloof die feit dat God wel bestaan, aanvaar.

“Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is goeie rede voor: ’n Mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.” (Hebreërs 11:6)

Die Bybel sê: “As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe mooi God se handewerk alles rondom ons versier. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister. Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder oor. Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie. Hulle boodskap word versprei sonder klanke.” (Psalm 19:1-4).

Die natuur is een van die mooiste dinge wat die Here gemaak het. Dit is klaar ‘n bewys dat God bestaan. Nie waar nie? As jy in die motor ry, of dit nou is om jou kinders af te laai, en of jy van die werk af kom, kyk net bietjie om jou rond. Wat sien jy? Mense, plante, en soms diere… Dit is alles wat ons wonderlike God gemaak het.

Deur na die sterre te kyk, begrip te hê vir die grootsheid van die heelal, al die wonders van die natuur te sien, om na ’n mooi sonsondergang te kyk, dui alles op ’n Skepper God. In Prediker 3:11 lees ons, “God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe Sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie.”

Dit is moeilik om te verstaan hoe alles in net ses dae kon gebeur… Maar ons dien ‘n God wat sterk is as ons swak is… Ons dien ‘n God wat ons beskerm as ons bang is… Ons dien ‘n God wat ons liefhet al doen ons verkeerd… Wanneer jy ‘n persoonlike ervaring met God gehad het, en Hy Homself aan jou geopenbaar het van wie Hy is en wie jy is in Hom, sal jy werklik kan verstaan wie God is.

As dit nie genoeg is nie, is daar bewyse in ons hart. Daar is iets diep binne ons wese wat erken dat daar meer is as net hierdie lewe en iemand groter as hierdie lewe.

Sommige van ons sal dit ontken, maar een of ander tyd in jou lewe het jy al gewonder of daar iets groter is as ons. Ons begin twyfel en wonder. Daarna begin jy vrae vra, en jy is dringend op soek na antwoorde… Jy soek en soek en jy vind niks, en daarom moet ons God werklik ervaar om die antwoorde te kry. Mense is geneig om in die geskiedenis van die Bybel hulle antwoorde te gaan vind. Dit is nie verkeerd nie, maar somtyds is dit nodig om eerder in die Woord self jou antwoorde te gaan vind.

Daar is ook logiese argumente vir God se bestaan. Daar is eerstens die ontologiese argument. Die vorm van die ontologiese argument wat die meeste gebruik word, is om die konsep van God te gebruik om God se bestaan te bewys. Dit begin met die definisie van God as “daar is niks denkbaar groter as God nie.” Daar word dan geredeneer dat om te bestaan, groter is as om nié te bestaan nie en dat die grootste denkbare wese dus móét bestaan. As God nie bestaan het nie, sou God nie die grootse denkbare wese gewees het nie, maar dit sal teenstrydig wees met die definisie van God.

’n Tweede argument is die teologiese argument. Die teologiese argument verklaar dat aangesien die heelal so ’n wonderlike ontwerp het, daar ’n Goddelike ontwerper moes wees. Byvoorbeeld, as die aarde net ʼn bietjie nader aan of verder van die son was, sou baie van die lewe wat tans bestaan, nie kon bestaan nie. As die elemente in ons atmosfeer net ʼn klein bietjie anders saamgestel was, sou elke lewende ding op aarde gesterf het.

’n Derde logiese argument vir die bestaan van God word die kosmologiese argument genoem. Elke gevolg moet ’n oorsaak hê. Die heelal en alles daarin is ’n gevolg. Daar moet iets wees wat veroorsaak het dat alles ontstaan het. Daar moet dus iets wees wat nie ’n “gevolg” is nie, wat kan veroorsaak dat alle ander goed ontstaan. Hierdie iets wat nie ’n “gevolg” is nie, is God.

’n Vierde argument staan bekend as die morele argument. Regdeur die geskiedenis het elke kultuur ’n vorm van wetgewing gehad. Almal het ’n sin vir wat reg en verkeerd is. Moord, lieg, steel en onsedelikheid word bykans universeel verwerp. Waar kom hierdie sin vir reg en verkeerd vandaan, as dit nie van ’n heilige God kom nie?

Ten spyte van al hierdie argumente sê die Bybel dat mense die duidelike en onbetwisbare kennis van God sal verwerp en eerder ’n leuen sal glo. Mense sê dat hulle nie in God glo nie, omdat dit “nie wetenskaplik” is nie of “omdat daar geen bewys nie”.

Die ware rede is dat wanneer iemand erken dat daar ’n God is, hulle ook besef dat hulle aan God verantwoordelik is en Sy vergifnis nodig het. (Romeine 3:23; 6:23).

As God nie bestaan nie, kan ons doen net wat ons wil sonder om bekommerd te wees dat God ons sal oordeel. Ek glo dat dit is hoekom evolusie so sterk aangehang word deur baie mense. Dit gee mense iets anders om in te glo as in ’n Skepper God. God bestaan. Die feit dat sommige so aggressief probeer bewys dat Hy nie bestaan nie, is juis ’n argument vir Sy bestaan.

Hoe weet ek God bestaan? Ek weet God bestaan omdat ek elke dag met Hom praat. Sy antwoord is nie vir my hoorbaar nie, maar ek voel sy teenwoordigheid, sy leiding, ek ken sy liefde, ek smag na sy genade. Daar het dinge in my lewe gebeur wat geen ander verklaring het nie, as dat dit God was. God het my so wonderbaarlik gered en my lewe verander dat ek nie anders kan nie as om sy bestaan te erken en Hom te prys. Geeneen van hierdie argumente op hulle eie kan iemand wat weier om te erken wat so duidelik is, anders oortuig nie.

Uiteindelik moet God se bestaan deur geloof aanvaar word (Hebreërs 11:6). Geloof in God is nie ’n blinde sprong die donker in nie, dit is ’n veilige stap in ’n helder verligte kamer.

* Carmen Bornman is ‘n 15-jarige tuisskoolleerder van Centurion. Haar standpunt, “Ja, God bestaan en ek ken hom”, is ʼn bydrae in reaksie op Maroela Media/Die Groot Debat se uitnodiging aan jongmense en studente om hul standpunt te stel oor aktuele sake. Lees meer hier.

Let daarop dat geen van die standpunte in hierdie stuk of op Die Groot Debat noodwendig Maroela Media se mening weerspieël nie. Klik hier om Die Groot Debat se waardes en beleid te lees.

Lees ook:
Jongmense kan nou ook hul stuiwer in die armbeurs kom gooi
Só help ek die taal leef
Taalmoord ons voorland as ons nie baklei nie
Basson se argumente rondom Steve se Stem tas mis

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Linda Heckroodt ·

Well done Carmen. Daar is geen meer pertinente en relevante vakgebied as Apologetiek! Elke basiese denkende persoon MOET homself afvra oor die ‘oorsprong, betekenis, moraliteit en bestemming’ van ons lewens. Die God van die Bybel, is die enigste God wat hierdie vrae kan antwoord met ‘logiese konsekwentheid, empiriese toereikendheid en ekperiensiele relevansie’. Die teologiese (of seker teleologies?) argument in sigself is feitelik voldoende om die bestaan van ‘n transcendente, alomwetende, almagtige, intelligente, liefdevolle Wese te bewys.Niemand betwyfel die bestaan van sagteware ingenieurs :-). Hoeveeel te meer die ingenieur van die DNA of sel, wat oneindig meer kompleks is! Bill Gates self het gese, “DNA is like a computer programme, but far far more advanced than any software ever created”. Hou so voort! Linda & familie, tuisskool gesin van baie jare :-)

Richard ·

Geen probleem met die “bestaan” van god nie, want die bybel sê so. (Daarmee ook geen probleem nie)

Waarmee ek wel ‘n probleem het is dat geloof deur sommige aan ander opgedwing word. Dit kan in ‘n skool wees, by die werk, of self in ‘n regering.

Godsdiens behoort in jou huis, in jou kerk, en tussen jou vriende/familie wat daarmee saamstem. Ek het respek vir alle gelowe, maar weereens, dit is ‘n private aangeleendheid.

Sommige Christene (as ons nou van die Suid Afrikaanse konteks praat) maak kapsie teen wette, en regulasies wat hulle nie “pas” nie. Of dit nou gay regte is, aborsie, of selfs voorbehoeding waarteen sommige Katolieke erg gekant is. Dis teen hierdie soort gelowiges wat ons teen moet waak. Fundamentalisme is baie gevaarlik, en kan tot baie groot tragedies lei, soos ons tans sien in baie Afrika en Arabiese lande, wat baie van hul landswette skoei op “christelike waardes” en “islamitiese waardes”

As jy gelukkig is met die bestaan van god, dan is dit goed so, maar onthou waak teen “religious fundamentalists” wat geen ander geloof respekteer, of enige ander siening nie.

Dave ·

Carmen het nie geargumenteer maar bloot geredeneer, Eugene.
Ek komplimenteer haar ook daarvoor.

Charlotte ·

Ek is nie seker wat die boodskap van jou artikel is nie – jy open met “Die bestaan van God kan nie as waar of onwaar bewys word nie” en sluit ook af met “Uiteindelik moet God se bestaan deur geloof aanvaar word”. Tog, die res is gewy aan blykbare bewyse vir die bestaan van a god ?

Jou bewyse sluit in :
– “Die natuur is een van die mooiste dinge wat die Here gemaak het. Dit is klaar ‘n bewys dat God bestaan”
– “Deur na die sterre te kyk, .. die wonders van die natuur te sien, ..na ’n mooi sonsondergang te kyk, dui alles op ’n Skepper God”
– “daar [is] bewyse in ons hart”

Hoe op dees aarde is bg. bewyse ?

Verder stel jy “Dit is moeilik om te verstaan hoe alles in net ses dae kon gebeur..” en die blykbare rede daarvoor is omdat “..ons ‘n God dien wat sterk is .. en ons swak”
Nee Carmen, die rede waarom dit al minder gekoop word deur ons swakkelinge is omdat daar :
a. weereens geen bewyse is ten gunste van `n skepping in ses dae nie, en
b. daar wel bewyse is ten gunste van `n heelal wat waarskynlik meet as 14 miljard jaar geneem het om tot stand te kom !

Voeg hierby die feit dat elke denkbare spesies ook moes evuleer oor etlike miljoene jare en ons vind onsself skielik in `n situasie waar amateur godsdiens wetenskaplikes begin aanvoer dat ‘6 dae’ `n relatiewe begrip is, want sien “`n duisend jaar is soos een dag vir die almagtige” etc. etc.

“Die teologiese argument verklaar dat aangesien die heelal so ’n wonderlike ontwerp het..”
Ek neem aan hierdie ‘on-‘ argument is `n skepping van die godsdiens wêreld ? … dalk het god dit geskep ?
Carmen, daar is, in my mening en waarskynlik in meeste logiese koppe, hoegenaamd geen ontwerp sigbaar in die heelal nie. Dit is dan als chaoties, vanaf ontstaan tot en met nou. Die feit dat daar nou `n afgekoelde aarde knus en veilig binne die ‘Goldilocks’ analogie tussen planete en ster hang is a.g.v. tanende energie. En pop die sub mikroskopiese vlak is die heelal klinkklaar onvoorspelbaar … geen ent bestemming nie en letterlik enige mikroskopiese -, molekulêre – of hoër vlak gebeurtenis is een van etlike moontlikhede. Indien die aarde dus weer van vooraf sou bestaan kon reptiele nooit die lig gesien het nie … sou daar nie `n vernietigende komeet aangekom het nie … was die fundamentele bou blokkie van ‘lewe’ nl. DNS dalk afwesig.

Neem ook asb. `n oomblik en vra jouself die volgende :
‘As god se ontwerp dan perfek was, waarom die hele lot uitwis en van voor af begin ?’ Ek verwys na die oorgang vanaf reptiele na mammalia.
‘is `n wilde hond wat wag by `n agterstewe van `n blouwildebees om die pasgebore kalf te verslind deel van die ontwerp ?’

Die Christen godsdiens het vandag meer as tienduisend denominasies en sektes. Elke dag kom nog `n paar tot stand. Die bewyse is ook duidelik dat jou persoonlike oortuiging uit en uit bepaal word deur geografie, nie die heilige gees nie. Bitter min Japannese kinders verwerp Shinto en aanbid die Christus.

“Waar kom hierdie sin vir reg en verkeerd vandaan, as dit nie van ’n heilige God kom nie?”
Carmen, toe homo sapiens sapiens nog nie eers toor dokters gevrees het nie, voor ons nog die voorvaders direk geraadpleeg het sonder om `n toor dokter met aalmoese om te koop, het “die mens” al reeds `n sin vir ‘reg en verkeerd’ gehand. Morele waardes het sy ontstaan in geordende groepslewe nie `n god nie.

Die sg. aggressiewe bewyse van die non-godsdienstiges dat god nie bestaan nie kom gewoonlik a.g.v. godsdienstige inmenging in publieke aangeleenthede soos bv. skool onderrig, waar godsdienstiges dit as hul reg eien om alle leerlinge te onderwerp aan hulle godsdiens ongeag die protes van die ouers. Dit is waarskynlik ook a.g.v. die totale afwesigheid van enige bewyse dat god wel bestaan en die nadelige uitwerking hiervan op `n onskuldige kind – wie omtrent enigiets sal glo wat hy vertel word – m.a.w. dogma.

Geloof in God is `n saak van bloot dit – geloof. Niks meer nie

Willem Erasmus ·

Charlotte, self kon ek dit nie beter stel. Ek vind jou antwoord rondom chaos erg interresant, jy is duidelik geskoold of bewus van die physica en cosmologie !

Die probleem wat ek met gelowiges ondervind is dat hul nie kan snap dat iemand kan verskil. Ek dink godsdiens is ‘n persoonlike saak, moet dit nie op ander afdwing (soos onskuldige kinders).

Selfs my beste vriende weet nie eens dat ek agnosties/atheist is, ek hou dit vir myself. Ek respekteer ander mense. Wanneer aan tafel met gelowiges, dan eerbiedig ek dit wanneer gebid word (alhoewel ek dit as belaglik beskou). By troues en begrafnis luister ek verveeld na die preek, maar ek hou my gevoel privaat. My twee dogtertjies gaan die eerste generasie wees wat sonder dogma grootword, sonder ‘n kerk wat vrees aanpraat.

Groetjes uit Ellisras,
Willem Erasmus

Eugene W Steyn ·

Mag ek ietsie uitwys oor die uitleg en gevolgtrekking van julle bydraes asb?

Carmen se artikel:
Opening: Bestaan God werklik? Die bestaan van God kan nie as waar of onwaar bewys word nie.
Lyf: Sy noem verskeie redes en argumente wat dalk God se bestaan kan bewys (haar uitgangspunt is dat God se bestaan waar is).
Slotsom: Uiteindelik moet God se bestaan deur geloof aanvaar word.

Charlotte se bydrae:
Opening: Nie seker wat die boodskap van die artikel is nie – bestaan van god?
Lyf: Sy noem verskeie redes en argumente wat dalk God se bestaan kan teenbewys (haar uitgangspunt is dat God se bestaan onwaar is).
Slotsom: Geloof in God is `n saak van bloot dit – geloof. Niks meer nie

Baie geluk! Julle het dieselfde gevolgtrekking…

Thys Human ·

Dankie, Charlotte, vir ‘n baie deeglike en goedgegronde inset. Ek hoop dit verdwyn nie soos ander se teenargumente vir Carmen se artikel blykbaar verdwyn het nie.

Ek wil ook nie vir Carmen aanvat oor haar menings nie. Ek het op 15 self so sterk oor my geloof en die “onweerlegbare waarheid” van die Bybel geglo. Trouens ek het op 18 nog garagedienste vir die swart personeel van buite-koshuise op die PUK gehou. Maar ‘n jaar later, toe ek my oortuigings en geloof behoorlik begin ondersoek het, het ek tot totaal ander insigte gekom – en in die 60 jaar sedertdien dit nooit weer gewysig nie – inteendeel, eerder meer “ongelowig”, dalk selfs “radikaal” geword sodat ek vandag in die openbaar en op webwerwe soos hierdie met groot sekerheid en oortuiging kan verklaar dat ek ‘n non-teis is – dws iemand wat aanvoer dat daar nie ‘n godheid bestaan of ooit kon bestaan het nie – en dan ‘n stappie verder gaan en beweer dat ek dit aan die hand van totale gebrek aan enige aanduidings van enige bo-natuutrlike en op grond van wiskundige kansigheid kan “bewys” dat daar nie so ‘n godheid bestaan nie. Ek het sterk steun vir my eie aanvanklik “ongegronde” sieninge gekry in die werke van iemand soos Victor Stenger.

Ek trek nie te velde teen die gewone gelowige se oortuigings en sieninge nie. Geloof in ‘n opperwese is vir meeste mense ‘n absolute nodigheid om deur die dinge van die lewe te kom – al is dit net omdat hulle geloof hulle moed en volharding voorsien.

Maar ek trek toenemend te velde teen teoloe, predikante, ekstremistiese gelowiges en stiksienige anti-wetenskap fundamentaliste wat volhou om in weerwil van onweerlegbare feite en bewyse en inligting oor die ongeloofbaarheid van godsdienstige werke soos die Bybel, die Koran en ook andere soos die Gita’s, die Oepanishads, ens. voortgaan om hulle betrokke godsdienstige oortuigings in mense se kele af te druk – veral op jongmense.

Dis tyd dat die verdraaiings en leuens en wanvoorstellings van godsdienste uit skole en onderwysinrigtings verban word. Ja, dit mag in die huis “bedryf” word en dit sal natuurlik in die kerke en “heiligdomme” verkondig word, maar dit sal toenemend in onguns raak namate ons mense beter ingelig, beter geleerd en minder deur skewe propaganda beinvloed word.

Sterkte Carmen. Jy kan dalk vorentoe vind dat jou huidige stellighede en oortuigings nie so vas op die aarde staan as wat jy dink nie.

william ·

Die letterlike verstaan van die bybel sal ons nerens bring nie. Jesus was n gewone mens alhoewel hy n buitengewone mens was. Hy was radikaal in sy denke, daarom het hulle nie van hom gehou nie. Hy gee ons die verse
kering dat ons net soos hy kan wees. Hy was nie in n stal gebore nie,sy ma was nie n maagd nie en hy het nie uit die dood opgestaan nie. Ons is almal gode en dit wat Jesus in homself ontdek het is ook in ons teenwoordig. Hy praat geestelike taal ,daarom verstaan ons hom nie en vertolk alles letterlik. Hy het nie kerke kom stig en religie verkondig nie. Hy maak gebruik van metafore, beeldspraak, simbolisme en gelykenisse om n geestelike boodskap en lesse aan ons oor te dra. Hy het ons kom leer wat moraliteit en spiritualisme is en hoe ons beter mense kan wees.Net hulle wat die dieper betekenis van sy woorde verstaan sal weet.

Petro ·

Dit is die mooiste woorde om uit ‘n tienerkind se mond te hoor! Skole word oorval met satanisme en dan nog skoollesse wat beweer dat God nie die wereld geskape het nie en ook nie bestaan nie. Alles hang om Darwin se boeke en die big-bang-teorie. Steek julle maats aan met hierdie brief, julle is immers die jeug van more. As julle die Woord van God nie verder met julle vat nie, sal dit niks beteken nie. So, jongmensies, kry die Jesus-virus en steek almal aan wat julle kan aansteek!!!!! God is groot en Hy bestaan wel!

G Eloff ·

Thys ,WOW ,so scholarly .Charlotte ,ek hoop nie jy leer kinders nie . Is jy n kat persoon? Shannon , die een is dan van porselein ? (rykes kan seker n goue een bekostig)William(Willem)Alles dit in een kop he ,Mormonism,Kultolisisme god of forces,satanisme die,talmud, ens (Ek sal myself nie uitgee as n crap kenner nie ),Jy’s verward . Willem as jou vriende Christene was moes hulle nie eers saam met jou eet nie IIJohannes_1:10 ” As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.” Maar hulle is geleer om “ander se seining te respekteer” My kommentaar was moontlik “TE” en is sodoende nie gepubliseer nie . Nie ter wille van’ blindes hierbo nie maar vir die wat gewalg is deur wat gese is -.Spreuke_26:4″ Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.” Spreuke_26:5 Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie. ” Mens kan agterkom dat iemand anders julle mening vir julle vorm

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.