Jongmense kan net vir kultuurerfenis opstaan as hulle dit ken

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Hier is die opvolgbrief van Afrikaners, skrik wakker uit jul winterslaap.

Is jy Afrikaans? Is jy ʼn Afrikaner? Wat doen jy vir Afrikaans en Afrikaners? Jammer, maar om net kommentaar te lewer op Facebook, Twitter en Media24 tel nie as “iets doen nie”. Ja dit is nodig, maar eerlikwaar, wat bereik dit?

Ek het ʼn idee. Wat van jy begin jou kinders en hul vriende stories vertel van die Tweede Vryheidsoorlog, of van die dapper Racheltjie de Beer en Wolraad Woltemade? Indien jy ʼn onderwyser is, begin die kinders vertel van die geskiedenis wat uit hul boeke gelaat word. Nou die dag vra ek ʼn vriend van my of hy weet wat Geloftedag is. Hy antwoord my heel vriendelik dat hy eens op ʼn tyd geweet het, maar vra of ek hom asseblief kan herinner. Ons geslag ken nie meer die storie van Bloedrivier nie, wat nog te sê van die Gelofte van 16 Desember 1838. Ons het as ʼn volk die gelofte van daardie dag verbreek omdat ons nie meer, soos dit in die gelofte lui, ons nageslag vertel van wat daardie dag gebeur het nie. Ons kerke is leeg op dié dag wat ons aan God beloof het om te eer as ʼn Sabbat.

Ons kan nie van ons jongmense verwag om op te staan vir hul taal, kultuur en erfenis as hulle dit nie ken nie. So kom ons leer hulle daarvan. Moedig jou kinders aan om aan te sluit by die Voortrekkers. As jy in Gauteng bly, neem jou kinders na die Voortrekkermonument en vertel vir hulle die stories van Piet Retief en Andries Pretorius. As jy in die Kaap bly, gaan wys jou kinders die Taalmonument by die Paarl en wys hulle op die woorde by die ingnag: “Dit is ons erns”. In die Noord-Kaap is daar Magersfontein en in die Vrystaat-Natal omgewing die Bloedriviergedenkmonument.

Kom ons betree dan die meer moderne tyd. Vertel vir jou kinders hoe die Afrikaner uit absolute armoede verrys het ná die ABO en die Groot Depressie en met moeite en eie geld instansies soos Sanlam en Absa gevestig het. Vertel jou kinders hoe Afrikaner-bloed, -sweet en -trane die land gebou het tot ʼn moderne staat. Vertel hulle van die Afrikaner se uitvindings wat die wêreld verander het.

Jy hoef nie ʼn aktivis te word om ʼn bydrae te lewer nie, jy hoef net te help.

Ons probeer altyd om die res van die land te oortuig waarom ons hier hoort en wat ons gedoen het om dit te verdien, maar ons weet self nie regtig hoekom nie. Sodra ons vir ons mense iets gee om op trots te wees, het ons iets waarvoor ons kan baklei.  Kom ons maak soos in die 1930’s en vat hande, al verskil die Afrikaner volk se idees van politiek, kan ons saamstaan op grond van ons taal, kultuur en erfenis. Kom ons bou onsself weer op tot ʼn mag waarmee rekenskap gehou moet word. Kom ons sê vir onsself en die res van die wêreld niemand kan net oor ons kan loop nie, want ons is Afrikaners.

Ek laat julle met ʼn aanhaling van Bok van Blerk se liedjie, “Sing Afrikaner Sing”:

“Sing Afrikaner sing, as ons almal een word kan ons die stilte breek”

Kom ons breek die stilte.

Groete

Pieter Burger

Derde Jaar Ingenieurswese Student

  • Die brief is verkort om by die woordbeperking van 500 tot 600 woorde per brief te pas

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Patrick ·

AMEN Pieter Burger. Het ons land maar meer jong mans soos jy gehad!!

Winston ·

Puik gestel en ek hoop regtig daar is baie mense wat hierdie voorstelle sal onthou en dit doen. Daar is so baie om ons afrikaner kinders te leer. Ek hou my klein kinders op hoogte in samewerking met hulle ouers, wat dit ook doen. Ons is trotse afrikaners, waarom moet ons wegkruip? Ons moet een word in ons taal.

Bruno Stef ·

Ek wonder soms of die grootouers die kleinkinders moet vertel van die verlede omdat in my eie omstandighede my oupa my as kind in die laat 1950 altyd van die ABO vertel het en vreeslik verbitterd was teenoor Engelse.Die selfde het met my gebeur in die laat 1980 toe ons andersdenkendes deur die media as agterlik en ver-regs bespot en verkleineer was daarom is baie van ons nog verbitterd vandag.Die resultaat van NP wigte en teen wigte wat onwerkbaar is tref ons ten volle vandag teenoor ons eie Selfbeskikking wat ons destyds al voor beywer het.Dit lyk my ons ouer mense moet maar eerder stilbly en gelydelik uitsterf die nuwe geslagte dink anders as ons.

Ben Raubenheimer ·

Gaan doen Tradisionele Boeredanse, ook Volkspele, lees meer oor ons volksboukuns, kom meer te wete oor ons volksgeneeskuns, ons volksgelowe, ons geloof van die volk, ons volkswetenskap, volkskuns volkstaal, volksliedjies, ons volksbedrywe, ens. ens.

DS ·

Het iemand dalk vir my n “link”, webwerf of bron, waar ek kan gaan lees oor ons afrikaner geskiedenis asook al die verhale oor ons helde. Dit is moeilik om op die internet te weet hoe geloofwaardig die webwerf is wat jy gebruik.

Rochelle Nieuwenhuizen ·

My klein bydra vir die behoud van Afrikaans gebeur hier in Bundaberg, Queensland in Australie…..
Ek bied ‘n Afrikaanse Musiek Program aan op ‘n Plaaslike Radio Stasie genaamd Coral Coast Radio. Die program se naam is AFRIKAANS SONDER GRENSE. Gaan LIKE gerus vir ons op Face Book en word ook deel van die Afrikaanse Musiek Familie buite die grense van ons Geboorte Land. Die aanbieding van die program is 100% op ‘n vrywillige basis. ASG word al 7 jaar deur my aangebied, en ja ons PRAAT NOG SUIWER AFRIKAANS hier in Australie.

Dankie ook aan Maroela Media wat soms intressanthede berig wat ons hier aan die mense kan aanbied.

Groete uit Bundaberg
Australie
Rochelle
ASG

charles ·

iemand het my eenkeer gevra hoekom ek my LLB by Unisa in Afrikaans doen, my antwoord was: ek is Afrikaans en wil my graad in Afrikaans doen, ek het my vorige twee ook in Afrikaans gedoen! :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.