‘Julle was ’n wonderwerk’

Die skrywer Carina Stander se ouers, Sarel (83) en Truiki Stander (84), is vier dae uitmekaar aan Covid-19 dood. Sy skryf:

Ek, my broer en suster is in ‘n plaashuis grootgemaak waar geen onderwerp taboe was nie. Dis ons oopkopma wat ons geleer het om ‘n “vrye sê” te hê, soos sy dit genoem het; om met vrymoedigheid én sensitiwiteit te praat.

Ons intelligente, vrydenkende ma wat so begaafd was met woorde, het haar nie laat muilband nie. Daar is sommerso aan die kombuistafel gepraat oor geloof, politiek, seks, boerdery, taalkunde, geld, die liefde en die dood. Oor die dood is daar met deernis gepraat, maar soms ook met ‘n titsel galgehumor. ‘n Lag by die traan. Van ons kinderdae af het ons ouers openlik vir God gevra of hulle eendag in hul oudag saam kan sterf. Hulle het selfs ‘n paar versoeke ingesit byvoorbeeld al die kinders moet darem mooi groot en gelukkig wees en die kleinkinders behoorlik opgeskote; dit moet asseblieftog nie ‘n grusame dood wees nie; niemand moet lank ly nie; mag dit aan die einde van ‘n lang en vol lewe saam wees. So het ons ouers gesels – hul voete op die aarde en hul gedagtes in die hemel. Dit was van altyd af ons lewensblye, blymoedige, diep gelowige ouers se hartewens om saam te leef en saam te sterf.

Sondag is ons pa ná ‘n Covid-19-siekbed van skaars vyf dae (drie dae by die huis, twee dae in die hospitaal) oorlede. Al het niemand vir ons ma vertel hy het in die kamer oorkant haar gesterf nie (omdat niemand haar weens Covid-19 mag besoek of vashou nie), het sy skielik drasties verswak. Maandag het ons met haar oor die fisioterapeut se selfoon probeer praat, maar sy het net gesnak na asem en gestotter oor ‘n brief wat sy vir ons pa wil skryf en oor haar liefde vir hom. Dinsdag het sy nie ‘n geluid gemaak terwyl ons met haar praat nie, maar toe ek vir haar vertel dat ek die brief namens haar vir Pa sal skryf, het sy gekreun om te probeer praat. My hart het soos ‘n boek geskeur…

Ons drie kinders, wat ons deur die jare verwonder het aan ons ouers se innige liefde vir mekaar, het verstaan waarom hulle in hul oudag saam-saam wou oorroei na die Anderkant. Gister het ons nuus gekry dat ons ma se suurstofvlakke geval het tot onder 60% (‘n gesonde mens s’n is 95%+) en toe het ons elkeen ‘n afskeidsboodskap vir haar op die fisioterapeut se selfoon gestuur. Boodskappe wat borrel van die dankies vir haar heerlike humorsin en woordspeletjies, haar fyn siel, haar kragtige gees en die geborge vryheid waarmee sy ons grootgemaak het. Dis te danke aan haar dat ek ‘n skrywer geword het. Die fisioterapeut het ook my ma se gunstelingliedjies vir haar gespeel: “Amazing Grace”, “Nader my God by U” deur die streelstem van Gé Korsten uit haar jongdae.

Vanoggend, presies 111 uur (vier en ‘n halwe dae) nadat ons pa gesterf het, het sy Ribbebeentjie, soos hy haar genoem het, haar laaste aardse asem uitgeblaas en in haar sielsgenoot en lyfmaat se voetspore gevolg.

Dalk kon sy in haar geestesoog sien hoe Pa haar laggend nader wink van oorkant die Rivier, glinsterend soos die somerreën met ‘n waterlelie in die hand. Ons, wat gebore is uit die liefdesverbond tussen ‘n buitengewone man en ‘n buitengewone vrou, sal hulle so onthou: Hand aan hand. Skouer aan skouer. Joined by the hip. You loved well, Papa en Mutti.

Ons loof die God wat julle jul lewens lank aanbid het vir die eer om julle te kon ken. Hoe vreemd dat ons harte op dieselfde oomblik so heeltemal stukkend én heeltemal heel kan voel; so bitter seer én sielstevrede; so bloedrougeskaafleeg én oorlopensvol van dankbaarheid. Ons hét dit vir julle vertel terwyl julle geleef het en ons sê dit weer: Waarlik, julle was ‘n wonderwerk.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petro

Dit is n ongelooflike aangrypende lewensverhaal. Baie dankie dat julle dit deel. Julle kinders kan met vrede julle lewens voortsit met die wete dat julle ouers waarlik wonderwerke was!

KhoiKhoi

Pragtig!
Ons ouers is albei 85 jaar oud en hierdie skrywe is ook hulle in lewe- die ope manier van groot word en daardie liefde.
Dis ook ons weens dat hulle saam sal stef.
Hulle sal verskriklik kwyn die een sonder die ander.
Maar ja, my pa, ‘n afgetrede Lutherse Pastor, sê die dag as hy 93 jaar oud is sal hy besluit of hy will sterf.
Sy ma, my ouma, is het op 93 afgesterwe!

Donene

Vir die van ons wat nog gebless is om vanoggend wakker te word langs ons lewensmaat, is die ‘n getuienis om meer te vergewe, meer toe te laat dat die liefde ons verskille oorspoel, meer oop te wees vir Abba se leiding in ons verhouding, sodat ons ook eendag ‘n getuienis van so ‘n liefdesverhaal kan wees. Dis nooit te laat vir ‘n nuwe begin nie…..