Lesersbrief: Jy moet besluit, Pappie

deure-keuses-opsies

Foto: Qimono/Pixabay.com

M Pienaar skryf:

Dit help nie om te vra waar gaan alles dan heen nie. Jy moet besluit.

Die weerpatrone en klimaat verander voelbaar – veral Suid-Afrika is ʼn sensitiewe streek. As die teorieë hieromtrent korrek is, gaan Sentraal- en Suider-Afrika stelselmatig verder verdor en landbou sal aggressief hierby moet aanpas.

Dit is duidelik dat gewelddadigheid en misdaad toeneem en dit gaan nie gou verbeter nie. Die volgende president en regering sal nie anders wees nie – ʼn nuwe “presedent” is as’t ware geskep. Skaars hulpbronne en hongerte, onder meer, is gevaarlike katalisators.

Tegnologie en kennis is soos ʼn sneeubal in die eerste wêreld – is jy op die hoogte? Onthou gerus ook – nie alle tegnologie is “vriendelik” nie, dit kan en sal toenemend vyandig ingespan word. Waar laat dit jou?

In Afrika wys die geskiedenis en statistieke ons: hier is ons lief vir praat, kla en dreig. Min planmatige, praktiese deurvoering vind egter plaas – die politieke wil ontbreek. Daar is ook donker magte wat saamspeel om die gewone bevolking te polariseer, soos die verspreide etniese verdeling wat daagliks verdiep (dink maar aan die 11 amptelike tale). Die geskiedenis van oorloë, uitwissings en oornames sit diep gesetel onder alle rasse en stamme, om oorvertel te word aan die volgende geslag en sodoende wrewel te koester.

Die vraag is wat JY daaraan gaan en kan doen. Plaaslik gebeur baie dinge. Daar word hard baklei vir minderheidsgroepe se belange – jou belange. Onderlinge ondersteuning is ʼn daaglikse sieraad wat ʼn mens in die nuus raaklees. As jy hier wil bly, sal ook JY hiermee moet help. Jy sal moet uitspring – vind uit hoe en waar. EN doen dit.

Jy sal meer moet doen – gemeenskaplik – om jou eiendom, toekoms en lewe (ook spaargeld en gesondheid) te beskerm en bewaar, so ook dié van jou medeburgers.

Opsigtelike rykdom is taboe. Dis ʼn doring in die vlees van dié wat dit met ʼn honger maag moet aanskou – hoekom sukkel mense so om dit te besef? Jy lyk nie goed in ʼn luukse voertuig nie, jy lyk weliswaar baie sleg. Jy lyk nie sterk as jy iemand “op sy herrie gegee het nie” – inderwaarheid kom jy baie swak oor.

Betaal veel eerder jou lidmaatskap aan behoudende instansies – wees deel van die oplossing.

ʼn Fantastiese studie oor grondbesit en grondgebruik in Suid-Afrika is al redelik ver gevorder – dit sal deurslaggewend wees op vele vlakke. Dit is ʼn bultaak en ek bewonder die instansies wat daarby betrokke is. Ondersteun hulle finansieel.

Ander opsies vir jou is sekerlik legio. As jy nie hoogs gekwalifiseerd is nie, of dalk juis is, kan jy jou dienste en ervaring tydelik oorsee bemark, daar is vele lande wat werkers en opgeleide professionele kundiges soek. Jy kan selfs deesdae om asiel aansoek doen elders – om daagliks te vrees vir jou lewe is ʼn geregverdigde en legitieme rede. Dit bied egter nie die oplossing waarvoor Afrikaanse Suid-Afrikaners hulle moet beywer nie.

Vir Suid-Afrika is alle emigrante ʼn groot verlies, doen dus alles in jou vermoë om hier te bly – daar is baie wat jy kan en moet doen. Dis ons plig teenoor mekaar. Dit is my plig teenoor jou en joune teenoor my.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Produksie, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

My kop is reeds onder die kombers… Mammie ek voel olik… Hoe lyk dit met ‘n koppie koffie… Net nie weer die koerant nie… en ‘n hoofpynpil… daai sterkes… Dankie Mammie… en sit tog af daai tv… Ons sal moet begin spaar vir die groot droogte… Mammie kyk tog hoe trap die brakke modder in na die baie reen… Ek slaap nou maar ‘n bietjie Mammie…

Francie ·

“Jy lyk nie goed in ‘n luukse voertuig nie…..”?
Ekskuus? Gaan kyk gerus vandag op die snelweg wie die meeste luukse voertuie ry, oor die algemeen is dit jong, jongmense wat dit verseker nie betaal het óf daarvoor gewerk het nie. Neem gerus ‘n passasier saam, die meeste voertuie se vensters is donker, wat dit moeilik maak om mooi te sien.
Hulle is egter makliker om te identifiseer wanneer jy hulle bestuursvernuf dophou, die lisensies het sommer saam met die sleutels gekom.

Lee-anne ·

M Pienaar, ek stem saam met jou. Maar ek wonder bietjie oor die ‘opsigtelike rykdom’ -deel. Hier in die Kaap is ek in ‘n interessante posisie waar ek hier op Skuldbult baie bevoorreeg voorkom (alhoewel ek sukkel om kos op die tafel te hou) en ek kry die gevoel dat dit respek afdwing by sekeres (alhoewel ek so nederig voel soos die ou wat by robot staan elke dag). Ek word met ‘n groot ‘smile’ gegroet as ek in die geleende ‘grand’ kar by die petrolpompe stop, en laat ek nou in my eie skedonk daar stop, kry ek skaars ‘n halwe kyk. Dit laat my wonder oor hoe die mense werklik voel oor opsigtelike rykdom. Ek dink ook aan al die plaashuise waar aanvalle was – definitief geen opsigtelike rykdom daar nie. Kan dit wees dat opsigtelike rykdom dalk juis respek afdwing???

Han ·

Ek is n wets-gehoorsame burger wat belasting betaal maar ek word uitgebuit om elke hoek en draai. Die regering dra nie my belang op die hart nie en roof en besteel die staatskaste leeg. Die gemeenskap ook nie, hulle beroof en besteel my eiendom en person net waar hulle kan. Om van my te verwag om nog finansieel by te dra tot enige instansie is belaglik en het net my eie verarming tot gevolg. Wanneer ek op pension gaan, gaan daardie instansies vir my sorg? Nee, maar my spaargeld word ook belas? Ek moedig my kinders elke dag aan om die land te verlaat. Ek is oud en oor die muur en dit is te laat vir my, maar hulle, hulle moet gaan. Hulle moet hulle kennis neem en belasting gaan betaal in n land waar hulle waardeer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.