Lesersbrief: Kan ons nog sing ‘Afrikaners is plesierig…’?

tafelberg-kaapstad-suid-afrika

Foto: Arno Smit/Unsplash

Erik Coetzee van Bloemfontein skryf: 

Is dit nog moontlik om positief te wees in hierdie geknelde land? Die redes wat ons negatiwiteit voed is legio. En waag dit net om positief te wees, dan word jy sommer vinnig deur jou medemens goed vasgevat met die feite!

Kom ons kyk eers na die faktore, net onlangs, wat ons so negatief maak.

Vir baie professionele Afrikaners, veral dié in die gesondheidsorg, was die voorstelling van die nuwe NGV die laaste strooi. Heelwat dokters, verpleegsters en ander persone in die gesondheidsbedryf het ná die aankondiging huis toe gegaan en hul koffertjies gaan pak en vliegtuigkaartjies gekoop.

Dan is daar die Afrikaners wat veral aanstoot neem oor die ou vlag wat onlangs as haatspraak geklassifiseer is, die vreeslike geweld teenoor vroue, veral die afgelope tyd, asook die onlangse plundery in Gauteng.

Hierdie (redelik onlangse) gebeure het ons negatiewe emmers voller gemaak sommige Afrikaners se emmers loop al lankal oor. Minder onlangse voorbeelde is, onder meer, die grondkwessie, regstellende aksie, die verhoogde werkloosheidsyfer en misdaad in die algemeen.

Dis nogal moeilik om iets oor die positiewe te skryf. Dit hang ook natuurlik af van hoe vol of leeg jou emmer nog is. Miskien gaan dit goed met jou en jou gesin, julle het werk en sukkel nie finansieel nie, lees ook nie veel nuus nie en het tot dusver misdaad meestal ontduik. (Al lê die pepersproei in die bedkassie en sluit jy jouself en gesin behoorlik toe snags – dalk selfs met ’n hek in jou huis se gang.) Of, miskien is jy die slagoffer van regstellende aksie of ernstige misdaad en dit beïnvloed jou natuurlik geweldig negatief.

Dus, hier is my klipharde, positiewe poging…

Ná die onlangse kwartaallikse bekendmaking is verneem dat ons ekonomie meer groei as wat ons verwag het. Alhoewel die werkloosheidsyfer toegeneem het tot 29%, word daar dikwels versuim om te noem dat die werkloosheidsyfer onder gegradueerders aansienlik minder is en ongeveer op 7% staan.

Volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se bevindings in hul 2017/’18-verslag, leef slegs 1% van Suid-Afrika se wit mense in armoede. (In vergelyking met 64% swart, 41% bruin en 6% Indiër).

Alhoewel baie Afrikaners slegter af mag wees as in die verlede, gaan dit nog eintlik heel goed met die meeste van ons in vergelyking met ander groepe in ons land. Ons huidige president, alhoewel nie baie gewild onder Afrikaners tans nie, is sonder twyfel ’n verbetering op ons vorige president en natuurlik beleef die meeste van ons nie daagliks rassisme soos wat sensasionele groepe en die nuus soms wil beweer nie, en leef ons meestal in vrede saam met ons medeburgers. Dit verskil ook van persoon tot persoon, en waar jy bly, beïnvloed hierdie seining baie.

Die groot vraag, wat baie glo hulle kan beantwoord, maar wat niemand van ons eintlik vir seker weet nie: Wat van die toekoms? Wat van ons kinders en kleinkinders se toekoms? (Ek gaan ook nie probeer om dit hier te beantwoord nie. Uit die aard van die saak lyk dit nie baie rooskleurig nie, maar dis nie vir my om te besluit nie.)

In hierdie fase van my lewe is daar soveel mense wat die land verlaat. Emigrasie kry mediadekking en dit voel amper soos die Wegraping. Voorheen het ek gehoor van mense wat gaan, maar deesdae ken ek hulle. Net gister sit ek in ’n restaurant en hoor toevallig hoe ’n vrou ’n man sterkte toewens met sy nuwe werk in Nieu-Seeland. Van my oudkollegas is reeds oor die water en ander oorweeg dit sterk. My onlangse bouer se vrou is reeds oor, hy en die kroos volg kort op haar hakke. Dis maar net om ’n paar te noem.

En kyk, ek hou nie van partytjies mis nie, so vinnig klim ek toe ook op die internet. Ek vul die assesseringvorm in, praat met ’n emigrasieagent en word sommer vinnig per e-pos gelukgewens dat ek en my gesin wel kan emigreer.

Wat ’n skok en innerlike worsteling wag daar toe nie hierna op my en my gesin nie. Ek glo dit is makliker as jy weet jy kan nie gaan nie, in dié opsig dat jy nie hierdie worsteling hoef deur te gaan nie. Dan moet jy net vasbyt en aanhou hoop. En diegene wat nie kan gaan nie, voel vasgevang en sal almal wat kan gaan, aanbeveel om te gaan. Sodra jy die opsie gebied word, hardloop jou gedagtes in alle rigtings. Van geloofsoortuigings en vertroue, tot skuldgevoelens en opwinding, vrae oor of kinders wel beter af sal wees sonder hul familie en die wete dat grootouers bitter min gesien sal word. Selfs klein logistieke reëlings soos of die honde moet saamgaan, wie gaan jou lughawe toe neem (aangesien jy alles moontlik gaan verkoop) en hoe om die nuus aan jou kollegas te breek.

My emmer is egter nog nie vol nie, dit loop nog nie oor nie, en ek bly maar hoop en probeer maar positief bly. Ek was nog altyd ’n dromer en genadiglik het dit nog altyd in my guns getel.

Ek het werklike meegevoel met dié wie se emmers lankal oorloop en oordeel nie hul keuses nie. Die media skep die indruk dat “almal wat kan”, wel emigreer. In perspektief geplaas is dit glad nie waarheid nie, die meeste mense bly wel. Sommige uit keuse en ander omdat hul nie kán gaan nie.

Ek bly vir eers nog hier in Afrika – hoofsaaklik uit geloofsoortuiging. Alhoewel negatiwiteit goed gerugsteun kan word, sal dit niemand nêrens kry nie. Ek stem saam met ds. Stephan Joubert se onlangse kort artikel oor emigrasie en haal hom aan: “Soos wat ek aldag vir myself sê – enige plek op aarde is ’n lekker plek, maar dan moet ek ’n lekker mens wees. Wel, wees dit tot eer van die Heer.”

Ek gaan nog eers bietjie hang, aanhou hoop, en aanhou kies om gelukkig te wees. Dit bly egter ’n deurlopende worsteling.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

B ·

Skrap BEE (ook vir bv universiteitstoelating) en my positiwiteit en plesierigheid sal blom!

John ·

Mogabe word besing en sal ‘n grootse begrafnis kry… soos Mandela omdat hulle die begin van die ondergang van hul lande aangevoor het. Maak nie saak of armoede en ellende heers en of die bevolking halfveer weens honger en oorlog en migrasie na groen weivelde nie. Mag en eiegeregtigheid is al wat tel. Dit is die pad wat SA en die res van die wèreld mettertyd sal loop. Verkeerd is nou reg a la 1984. Net oorlog sal die stroom van agteruitgang kan stuit: Onthou oorlog is vrede. Waarheen kan Afrikaners vlug? Wie gaan ‘n uiteensetting gee van al die opsies?

kolla ·

Bly in SA en werk vir jouself, probleem opgelos. Wie wil dan nog in vandag se tyd vir ‘n baas werk, how boring.

wonder ·

“Ek gaan nog eens biekie hang” Wat gaan jy doen as iemand in jou gesin vermoor of verkrag word??? gaan jy jou self biekie hang??? wens ek het n kans om nou uit hierdie land van gemors toekom………….. Moet nie wag nie gruip die geleerdheid aan NOU!!!!!!!

Jerry ·

Die skrif aan die muur kom nie vir almal gelyktydig nie, net soos geboorte en ook sterfte, daarom is dit so dat sekere mense reeds geemigreer het terwyl ander besig is om te emigreer en sommiges nog gaan emigreer!

Leonard van der Dussen ·

Dis nie maklik op die oomblik nie. Ons voorgeslagte het uiteindelik ‘n land opgebou – deur paar geslagte, daar is nie kitsoplossings nie – wat so voorspoedig geword het dat dit ‘n toevlugsoord vir immigrante geword het, soos die vele Nederlanders wat in die 1950s na Suid-Afrika gekom het. Solank dit ons gegun word, gevare, moeites, onreg ten spyte van, is die taak ons opgelê om te weet dat daar gehandhaaf en gebou moet word. Dit kan dalk meer as een geslag neem om eers weer ‘n strydvaardige volk op te bou, krygskundig en dapper, maar vandag hou ons aan bome plant wat eers oor baie jare sterk gaan wees. En die een ding wat ons nie mag doen nie, is dat die huidige ouer geslag nie hulle selfverwyt, versuim en moedeloosheid op die jong geslag magvryf nie – die nuwe geslag het hulle vrag om te dra, en as hulle opgewonde en strydvaardig wil word, moet ons hulle help, nie moedeloos maak nie. Sing klaagpsalms, belydenis en lofpsalms en pak die stryd aan.

Maudie ·

Die President sê hy “verstaan” vroue en kinders se pyn agv verkragting en mishandeling. Huh? ‘n Man verstaan dit? Het hy nie dalk bedoel hy hóór daarvan nie? En terwyl die land brand, gaan hy na die diktator se begrafnis, seker vir die braai daarna… Alvin Tofler: The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write but those that CANNOT LEARN, UNKEARN AND RELEARN

Disselboom ·

Dit is ‘n interessante verskynsel dat die “Aitsa”-toekennings en lekker geleentheid van die FAK met Steve Hofmeyr in dieselfde tyd as baie ellende, agteruitgang, misdaad, onsekerheid, die vlagverbod ens ens gehou word. En ons kan nog vrylik kerk toe gaan, Bybels ronddra, hoewel daar baie armoede en werkloosheid is, het die land as geheel nog gerieflik baie kos, die Kapenaars kan weer bad; klomp mense het tyd en geld vir rugbytoernooie en ondersteuning daarvan. Interessante deurmekaar tye, van feeste en oorvloed wat met vrees, verval en komende rampspoed vervleg is.

Elsa ·

Ek hoop Afrikaners onthou nog watter groot man op 6 Sept 1966 vermoor is.

Verskil ·

Ek moes gaan google het van wie jy praat en verstaan nie wat dit met die artikel hierbo te doen het nie?

Jerry ·

@Leonard van der Dussen. Wat jy nou besig is om te doen is om die foute te herhaal wat Afriforum van die begin van hulle ontstaan gemaak het deur n wig in te dryf tussen die huidige geslag en die ouer geslag deur die jeug te indoktroneer met presies die valse twak wat jy hier herhaal, terwyl die ouer geslag se geld goed genoeg is. Soos wat die ouer geslag meer en meer bewus gaan raak dat Afriforum die huidige geslag opgesweep het nie net teen swartmense en universiteitsowerhede nie, maar ook teen hulle eie vorige geslag gaan julle vuilspel babbel lelik bars, dan sal julle kry wat julle toekom, dan sal julle maai wat julle gesaai het, so doen maar so voort om die Afrikaner teen die Afrikaner af te speel. Moet volgende keer nie vergeet nie om ook by te voeg wat Afriforum so graag vir Afrijeug vertel het dat die ouergarde almal nasionale party omies en tannies is wat die jeug in die steek gelaat het. Vandag is dit die wanpersepsie wat geskep was wat die jeug teenoor die ouergarde huldig. Nodeloos om te se iets gaan een of ander tyd lelik skeefloop by Afriforum!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.