Lesersbrief: Kersfees in twee kontinente

Anelia Heese. (Foto: Verskaf)

Anelia Heese van Neurenberg in Duitsland skryf:

Ek skryf uit ʼn koue, donker Duitsland. Soggens wend die son sy beste probeerslag aan om gesig te wys, en gee vóór tjailatyd moed op. Hierdie jaar voel die winter ʼn bietjie kouer, ʼn bietjie donkerder. Onder normale omstandighede sou die strate met die soet reuk van “Glühwein”, wat tydens Advent verkoop word, gevul wees. Grendeltyd maak dit hierdie jaar onmoontlik – die eeue oue Kersmark is afgeskaf.

“Glühwein” kan direk as “gloei” en “wyn” vertaal word: warm rooiwyn versnit met kaneel, koljander en naeltjies. Dis ʼn feestelike drankie wat jou binneste laat gloei met die vreugde van samesyn.

Kersfees in Europa is ʼn sprokie. Die strate blink onder goue Kersliggies, die dakke lê snoesig onder gevlokte sneeu. Dis juis dit: ʼn sprokie, ʼn halwe waarheid. ʼn Mens kan nie vir ewig in ʼn sprokieswêreld leef nie. In die een of ander stadium moet ʼn mens weer huis toe gaan. En Kerstyd is huis-toe-gaan-tyd.

Natuurlik geniet ek die fabelagtige winter hier. Almal is met vakansie en sluit die jaar met swaar kos en soetgoed af. My siel smag egter na die dolheid van Desembermaand op die plaas. Kerstyd op Augrabies: waar ons nie wyn nodig het om te gloei nie, want die son ken geen skaamte nie. Niemand is met vakansie nie, want in Desember is dit oestyd.

Almal spartel soos kaiings op ʼn rooster om klaar gewerk te kry. Met Oukersaand skep ons vinnig asem.

Tuis word die maatstaf vir ʼn magiese Kersfees nie gevolg nie. Tafels word buite gedek. Dis te warm in die kombuis om skaapboud te maak, ons braai eerder. Die aartappelslaai is ʼn koel lawe op jou bord. Daar is nie groenslaai nie, want teen die tyd wat die vleis uiteindelik gereed is en almal aansit, het die blare reeds verlep. Die porsie groenigheid op jou bord is boerbone: ʼn stoere, stewige bykos wat vir niks verkeerd staan nie. Vir nagereg word die kinders rivier toe gestuur waar waatlemoenskille met ʼn breë glimlag rivieraf dryf.

Ná ete is dit die Kersspel. Swemhanddoeke vir die herders se tulbande, ʼn stoepbesem met ʼn springbokvelletjie word ʼn donkie. Goud, wierook en mirre is ʼn toegedraaide dosie gesogte Nestlé Quality Street. Twee verse uit Lukas 2, en dan is dit “Stille Nag”. Môre jaag die hitte ons weer vroeg uit die vere.

(Foto: Valentin Petkov/Unsplash)

Ten spyte van die aangeleentheid, is ons oudergewoonte laat vir die erediens en sit gevolglik in die voorste ry kerkbanke. Die gemeente se bariton sing “When A Tjaaild Is Born” met oorgawe. Daar is ʼn samehorige sug van verligting wanneer almal die siedende kerkgebou verlaat. Mans skud mekaar die blad. Opgedolliede tannies word deur almal, van die predikant tot die prokureur, op die lippe gepik. Kinders staan verdwaas in ongemaklike Sondagpakkies rond, sommige spog met hul nuwe speelgoed. Ons wens mekaar ʼn geseënde Kersfees toe, en keer terug na ʼn oase van oorskiet.

Suid-Afrikaanse emigrante sal vir my sê hierdie Kersfees is ʼn mite. Sien ek dan nie die misdaad, die moord, die val van die rand nie? Word tog wakker!

Ek moet bieg, ja, dalk is dit nie meer so nie. Dalk was Kerstyd nooit só mooi nie. Maar, in dieselfde asem is die storie van Jesus se geboorte dan ook ʼn sprokie: die onskuldige maagd, die engele, die gasvryheid van die herbergier, die duursame geskenke… dalk is dit alles nonsens. Daar was dan rowers op die pad, blindes, melaatses, ʼn korrupte koning!

Kersfees vertel die verhaal van die geboorte van ʼn messias. Dit is egter ook ʼn verhaal van twee mense wat ʼn spesiale gebeurtenis – die geboorte van hul eerste kind – in ʼn vreemde land, onder moeilike omstandighede, moes deurmaak.

Ek is seker Maria sou eerder tuis wou wees, met haar suster aan haar sy. Josef sou dalk graag sy kind se koppie in ʼn mooi wiegie wou neerlê. Kersfees, die eerste Kersfees, vertel ʼn verhaal van ʼn spesiale geleentheid wat vir ʼn jong gesin nie volgens plan verloop het nie.

Hierdie Kersfees gaan vir baie van ons nie volgens plan verloop nie. My plan was om huis toe te vlieg, by Kaapstad se lughawe in ʼn huurkar te klim, die lang pad na Augrabies aan te durf, my swaar winterjas uit te trek, en die son op my lyf te voel.

Hierdie jaar se planne vir Kersfees werk nie so mooi uit nie. Ek is nie tuis nie. My familie is nie naby nie. Ek is egter steeds van plan om mense te nooi vir ʼn fees, aldus ʼn kleiner fees. Dit sal nie sprokiesmooi wees nie, maar dit sal ʼn geleentheid skep om nuwe lewe, die Lewe, te vier. Teen Kerstyd het die son reeds gedraai, en die somer is weer op pad.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.