Orgaanskenkertjie red vreemdeling se lewe

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Deur Tanya Venter

My sussie, Michelle Vermaak (27), is blind en sy hoor deur middel van ʼn kogleêre inplanting. Sy ly ook aan kroniese nierversaking en het tuis dialise ontvang.

Ons familie is deur ʼn baie moeilike tyd die afgelope paar maande. In April is my pa oorlede aan leukemie. Hy het in Australië gewoon, so dit was regtig moeilik vir my en my sussie. In Mei het Michelle ʼn soort stuipeaanval gekry en was baie ernstig siek. Haar bene was dik geswel en haar bloeddruk gevaarlik hoog. Al haar bloedtellings was deurmekaar. Ek en my ma het gevrees vir die ergste.

Maandagmiddag net ná 17:00 het ons die nuus gekry dat Michelle dringend hospitaal toe moet gaan. Daar was ʼn geskikte nier! Sy het toe dieselfde aand 20:00 ʼn nieroorplanting gekry. Alles het goed verloop. Sy is steeds in die hoësorgeenheid, maar sterk baie goed aan en die nier werk so mooi! Die dokters is tevrede met haar vordering.

Ons het nooit gedink sy gaan ʼn skenker kry nie. Sy is baie klein en die dokters het gesê sy sal ʼn kind se niertjie moet kry.

Ons besef dat daar ʼn gesin is wat hul kind Maandag verloor het. Dit is so hartseer. My ma het ook al ʼn kind verloor. My boetie is vyf jaar terug oorlede – dis hartverskeurend om ʼn kind so af te staan. Ons ken nie die omstandighede van die skenker se familie nie. Ons gaan ook nie maak asof ons enigsins hul pyn verstaan nie, want elkeen se situasie is anders. Ons wil net ons simpatie aan hulle betoon vir hul verlies en ook ons ongelooflike dankbaarheid vir die groot geskenk wat Michelle ontvang het. Baie, baie, baie dankie vir die groot geskenk.

Michelle se lewe is reeds so beperk deur haar blindheid en gehoorverlies. Die dialise en beperkte dieet het haar lewe net meer beperk. Nou het sy meer vryheid. Dit was so ʼn wonderlike geskenk!

Michelle is so ʼn inspirasie vir elkeen van ons. Sy het nooit negatief geraak nie, en so getrou haar dieet gevolg en haar pille gedrink. Sy het altyd bly glo sy gaan ʼn nier kry. Sy was so opgewonde Maandagaand. Glad nie bang vir die operasie nie, net bly oor haar nuwe nier!

Baie dankie aan die skenker se familie. Ons prys ook ons hemelse Vader vir hierdie groot geskenk!

Besoek die orgaanskenkerswebwerf en sluit gerus vandag nog as ʼn orgaanskenker aan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Goeie goed, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wat-ek-lees ·

GENADE is en bly onbeperk. Daar is GEEN voorwaardes daaraan verbonde.

Pops ·

Wonderlik dat daar uit iets hartseer iets goed kan ontstaan. Mag jou sussie sommer ‘n voller lewe van nou af lei. En ons dink in ons harte aan die gesin wat iemand aan die dood afgestaan het En so onbaatsugtig was om iets vir iemand anders te doen.

Uiltjie ·

Alle GELUK Mitchell!! God in beheer!!!! X ook op tuis dialise. Weet wat Jy moed deurmaak! Ek het ook my hele lewe vir God gegee on the handel na Sy goeddunke.

Marinda ·

Middag.

Hoe vind julle uit wie is die skenker? My neef het Vrydag hart ontvang en ek wil graag al is dit dit dankie briefie skryf. Almal wat ek vra sê ek mag nie weet nie.

Hoop julle kan my help.

Groot asseblief

Sue ·

Jy kan die brief vir die mense wat met jou Nefie werk gee. Hulle Sal sorg dat dit by die regte mense uitkom

Karma ·

Marinda, miskien kan julle die Orgaanskenkingsvereniging van SA kontak met ‘n dankbetuiging aan die skenker se familie. Jy sal nooit die skenker se identiteit ken nie, maar moontlik (as dit deur hulle gewerk het) kan hulle die dankbetuiging aan die familie oordra? Ek dink maar net so ……

Wenner ·

Die Here het gegee, en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here

Charmaine ·

Prys die Here,voorspoed Michelle,en simpatie aan die skenker as familie.

Christine ·

Met al hierdie dankbaarheid wat ek lees, is ek nou meer as ooit oortuig dat dit die beste besluit ooit was jare gelede om orgaan skenker te wees. Al is dit my laaste wens om iemand daardie tweede kans te kan gun , bly dit wonderlike gedagte. Sterkte aan alle familie wat hierdeur gaan.

Annamarie Trollip ·

Sjoe…ek is in trane.
Die aand van my Seun se afsterwe was dit die laaste ding waaraan enige een van ons gedink het. Tot vandag toe weet ek nie wat ek sou sê as iemand my daai vraag sou gevra het daardie aand nie maar vandag weet ek dat my Chris-kind JA sou sê….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.