Kleuterskoolhoof se ope brief

Anéll Engelbrecht, skoolhoof van die kleuterskool, by die bankies in die foto. Foto: Phillip Bruwer

Anéll Engelbrecht, skoolhoof van die kleuterskool, by die bankies waar die veelbesproke foto geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Anéll Engelbrecht, die hoof van die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Centurion, het ʼn ope brief geskryf na aanleiding van die afgelope week se gebeure.

My beskermende, bevoorregte wit Suid-Afrikaanse lewe het binne 48 uur radikaal verander en sal nooit weer dieselfde wees nie…

Rassisme… Ons hoor dit daagliks, lees daarvan orals, maar die laaste twee dae het dit my gedagtes oorheers en my persoonlik geraak.

Ek deel my lewe elke dag met soveel swart mense wat ek finansieel, emosioneel, liggaamlik en geestelik versorg. Ek eet, huil, lag, werk en bid saam met hulle en hulle bel my enige tyd dag of nag as daar krisis is. ‘Jy is ons ma.’ Hulle is soos al my wit vriende, my dierbares…

Ek ken Thabo en Nishani omtrent ʼn jaar. Sy het Nishani by my skool in Irene ingeskryf, maar ons het eers ongeveer drie maande gelede vriende geraak toe sy haar na my kleuterskool in Heritage Hill geskuif het. Sy is ʼn enkelma en omdat ek self vir ‘n lang tyd ʼn enkelma was, het my hart onmiddellik uitgereik na haar. Haar familie is in Botswana en haar helpers laat haar keer op keer in die steek. Haar grootste krisis was vervoer omdat sy lang ure werk en ek het aangebied om haar kind elke dag by die voordeur op te tel, skool toe te vat en in die middag weer huis toe te vat.

Ek doen hierdie vir geen ander kind by die skool nie. My man moes later begin help, want ek het ‘n kleuterskool om te bestuur. My dogter smeek dat ek Nishani in haar klas moet indeel, want sy is so ʼn cute dogtertjie.

Ons het nie swart kinders in ons skool nie. Behalwe Nishani, het ons net vir Emma, wat ek ook finansieel help en soms ook met vervoer help. Hoekom net twee swart kinders? Swart ouers stel nie belang om hulle kinders Afrikaans te leer nie. Het ek al ooit swart kinders weggewys by my skool? Nooit!

Nishani begin binne ‘n paar weke woordjies sê en my man is baie in sy skik want een van die eerste woorde is “uncle William”. Hy stap soggens soos ʼn trotse pappa met haar in sy arms by die skool in. My dogters kry raas want Nishani kry nie kans om te loop nie, sy is heeltyd in hul arms.

Sy is mal oor haar juffrou en roep heeltyd “Ané!” Ons word uitgenooi na haar doop, kry foto’s van hul naweke, ek praat Thabo moed in as sy huil op my skouers oor uitdagings by die werk, ek verseker haar die agterstallige skoolfooie is nie ʼn probleem nie, ens.

Ons is saam bekommerd oor Nishani se “nappy rash” wat toe al die tyd ʼn infeksie was. Ons is vriende…

22 Junie, 11:00 verander hierdie vriendskap in rassisme…

Thabo se optrede stel ons skool se voortbestaan in gevaar. My lewe en my gesin word gedreig. Ek kry rassistiese oproepe wat dreig om my skool af te brand en my te kom “uitsort”. Ek kry e-posse wat my ʼn barbaar, rassis, evil en verleentheid vir Christene noem!

My kinders verstaan nie. “Mamma hoekom doen Nishani se ma dit?” “Gaan ons nooit weer Nishani sien nie?” “Hoekom dink die tannie ons was lelik met Nishani?”

Vir die eerste keer moet ek rassisme aan my kinders verduidelik…

My dogter is gebreek. Sy wil opskop en nie meer onderwys studeer nie. Sy wil nie meer ʼn juffrou wees nie. Nishani was elke dag in haar klas en sy is nog nooit anders behandel as ander maats nie. Nooit!

Nadat die stof gaan lê met mediaonderhoude, EFF-betogings en honderde oproepe waarin ek heeltyd omstandighede rondom die foto moet verduidelik, besef ek drie dinge:

  1. Gebede van gelowiges is AL wat mens dra in krisistye
  2. Wanneer daar rassisme in jou hart is, sal jy dit in alles sien. Die teenoorgestelde maak dat jy ʼn foto stuur sonder om te dink en te kyk, want jy glo daar is verhouding…
  3. Ons moet ERNSTIG bid vir ons land!

Mev. EFF wat my nie in die oë kan kyk wanneer jy vir my vertel my mense het jou mense se land gesteel nie, terwyl jou mense op en af spring en “voertsek en f***f” sing, hoeveel rassisme is in jou hart?

Thabo, jammer vir jou pyn. Jammer vir die rassisme in jou hart. Ons mis Nisha!

Of my skool toegemaak gaan word of geforseer gaan word om in Engels te onderrig, weet ek nie..

Maar elkeen moet self bepaal hoeveel rassisme in jou hart is.

Dit sal jou lewe en optrede teenoor ander bepaal en net dit sal ons land kan red!

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

65 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vanessa Cleven

Ons weet presies hoe Anell voel, vir n jaar lank het daar n swaard oor ons koppe gehang a.g.v n valse rassistiese aanklag en op die einde het sy erken sy het gejok.Na so n voorval is niks meer dieselfde nie en geen vertroue in die mensdom nie. En soos Anell sê as jy rassisme in jou hart het sal jy alles rassisties sien en ervaar. Gelukkig kom die waarheid altyd uit net jammer vir die skade wat dit rig want ook soos Anell het ons gegee en help waar ons kan maar nou sal ons nooit weer nie en… Lees meer »

Drikus

Dankie vir die besonder openhartige brief deyr die skoolhoof. Dit is duidelik dat sy deur eenogige mense te nagekom word. Wat van ‘n ope brief deur die ma wat die foto op Facebook geplaas het? Wat was haar bedoeling daarmee? En dan: Deur wie word Nisha se ma geddreig of betaal om so hartvogtig te wees. Sterkte.

Retha

Anell hou vas aan jou geloof. Dis altyd die mense wat jy die meeste help, wat jou die seerste maak. Jou vrede laat wegsteel deur leuens. Rassisme is vieslik, word vinnig uit die hoed geruk soos dit hulle pas. Met jou hart van goud, glo ek die Here sal ingryp. Ek het self die week ‘n probleem gehad met goed doen, niemand kan dit van jou af weg vat nie, net God. Sy sal haar toorn van die Here af kry, Hy slaap nie, Hy laat nie met Sy kinders mors nie. Ek hoop die ander kinders se ouers maak… Lees meer »

Daan

Dit is baie jammer dat rasisme net van een kant af kom. ‘n Oorsaak daarvan is dat ons blankes nie swart tale ken nie. As jy dit ken hoor mens baie rasistiese opmerking teenoor blankes, maar weereens is ons so opgevoed dat ons dit ignoreer.

My siening van die saak is dat oningeligte mense na die foto gekyk het, lewer kommentaar sonder om mooi te kyk en omstandighede beoordeel. My swart kolega het my die foto gewys en nadat hy die skool se kommentaar gelees het, st siening heeltemal verander

Kobus

Daan, ek is met jou. Gaan kyk gerus op ‘n vorige berig waarin dit bevestig is dat Lesufi Donderdag by die skooltjie was, dat hy met die eienares gesels en hom van die omstadighede vergewis het. Hy het daarna dit na die MRK verwys. Gaan kyk gerus sy reaksie daarop, en hy is nie oningelig nie. Gaan kyk ook gerus na die EFF mense op Netwerk24 wat daar was, hoe hulle die dame intimideer. Geen mens is daarna dieselfde nie. Ons leef in ‘n siek land. Intussen is Zuma besig om nasie te bou terwyl hy oor sy masjiengeweer sing.… Lees meer »