Lesersbrief: Knysna se laaste bosolifant moontlik in 1970 gebore

knysna-olifante-ryno-brief-2019-02-Matriarch

‘n Foto van die Matriarg, wat Johan Huiamen in 1994 geneem het. Foto: The Knysna Elephants and Forests-groep op Facebook.

Ryno Joubert, die administreerder van die The Knysna Elephants and Forests-groep op Facebook het al baie navorsing oor die woud se olifante gedoen en ʼn artikel oor die grootvoete se geskiedenis geskryf.

 Hy deel hierdie stukkie navorsing met lesers ná die plasing van die artikel ‘Knysna-bos se laaste olifant swerf nou alleen’ op Maroela Media:

Die laaste oorblywende olifant in Knysna is na alle waarskynlikheid die olifantkalf wat in Maart 1970 gebore is. Nick Carter, ʼn professionele wildbewaarder, kan die geboorte van die kalfie bevestig tydens ʼn peiling van die Knysna-olifante wat hy van 1969 tot Januarie 1970 gedoen het. Volgens bewyse was hierdie die laaste aangetekende geboorte van ʼn Knysna-olifantkalf.

Daar was gerugte dat daar ook ʼn kalfie in Januarie 1989 gebore is, maar dit was niks meer as spekulasie nie, want geen bewyse is ooit gevind nie. Dit beteken dat die oorblywende olifantkoei (wat die naam Oupoot by Sanparke gekry het), in Maart hierdie jaar 49 jaar oud sal word. Haar pa, Champion (wat sy naam by Carter gekry het), was die grootste olifant in die Knysnabos tydens Carter se opname en was (tot by sy skouer gemeet) ʼn hele 3,4 m hoog.

knysna-olifante-ryno-brief-2019-02

In die meegaande foto (wat in 1977 geneem is) is Champion, Elderberry en Oupoot aan die wei suid van die N2 in die Eden-omgewing. Foto: The Knysna Elephants and Forests-groep op Facebook.

In 1983 is die skelet van ʼn ou bul in Harkerville, suid van die N2, gevind deur mense wat varings geoes het. Dave Reynell, ʼn afgetrede bosbouamptenaar, het die skelet vergelyk met die inligting van Carter oor die grootste olifantbul wat in die Knysnabos gevind is, en het tot die gevolgtrekking gekom dat die oorskot wel dié van Champion was.

Volgens Dave Reynell is die bul tussen 2 en 3 jaar, voordat hulle op sy oorskot afgekom het, dood. Sy skelet staan vandag uitgestal in die Forest Legends-museum in Diepwalle.

Oupoot en haar ma was vir die laaste keer saam in 1987 gesien deur stappers (hikers). Haar ma, Elderberry, se oorblyfsels was in 1989 gevind, en dit was beraam dat sy ongeveer twee jaar vroeer gesterf het. Dit beteken dat Oupoot sedert ongeveer 1987 die laaste olifant is in die Knysna bos. Studies gedoen deur Hylton Herd, waar die rand van die ore op fotos bestudeer is, bevestig dat elke foto geneem sedert 1994 dieselfde olifant toon.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oupoot ·

Dis sooo hartseer dat dinge so tot ‘n einde kom. Soos ons almal.

John ·

Hoekom nie die eensame olifante maatjies gee nie. Of dieretuin toe of in Knysna saam. Dink net aan die toeloop van besoekers aan Knysna… en nog ‘n Kring in die bos…

Leana ·

Dis so jammer, dat hierdie “legendes” van die Knysna-bos nou tot ‘n einde kom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.