Lesersbrief: Koerantfiguurtjie, wat as die ysbere jou opvreet?

(Foto: Zachary Keimig/Unsplash)

Audrey Bierman van Orkney in Noordwes skryf:

Ouma het altyd gesê: “Trek vir jou warm aan, die ysbere gaan jou vang en opvreet!” Ek kon dit nooit regtig verstaan nie, want die opgestopte ysbeer wat ek as kleuter by die akwarium gekry het, was mooi, vriendelik, warm en wollerig. Die feit dat ouer mense so maklik koud kry kon ek ook nooit werklik begryp nie. Hoeveel keer moes óns ʼn trui gaan aantrek sodra ma ʼn koue luggie op háár blad gevoel het. Ek het baiekeer gewonder of dit dan in die outyd kouer geword het as deesdae, want die voorgeslagte het altyd kaalvoet deur die sneeu skool toe geloop. In die stilligheid as astrante jong tiener het ek soms my kop geskud en gedink: Nou vir wat kon julle nie loop skoene aantrek nie? ʼn Mens is mos darem nie so stupid om kaalvoet in ys te loop nie!

Maar die onskuld van ʼn kind smelt ook maar mettertyd soos die ryp en ys op plante se blaartjies, en die harde wreedheid van ʼn Hoëveld winter tref jou eers wanneer die wysheid ook al begin groei het.

Ek sit in die motor voor Spar, half ongeduldig. Moet Minique altyd tot net voor skool wag voordat sy onthou dat sy dié of dáái nodig het binne die volgende twee periodes? Haar “onthou dae” is gewoonlik ook in sync met my bad hair days, of dit val op dieselfde dag dat die melk, ten spyte van die bibberweer, suur geword het.

Terwyl Minique op haar gewone tydsame manier na die winkel se deur stap, kyk ek na die skoolrok wat bokant haar rooi knie wip. Die bene word elke derde periode met lyfroom bygekom sodat die tekens van die winterkoue-verwoesting tog net nie sigbaar is nie; eerder half gevries en geolie as om die gebruiklike lang winterskouse te dra. Wat sal haar vriendinne sê?

My oog vang ʼn roering op die sypaadjie by die tellermasjien. Iets beweeg stadig onder die koerant en geskeurde kartonboks. Ek het aangeneem dis ʼn rondloper kat wat skuiling soek teen die yswind, maar toe kom daar stadig ʼn hand bo die koerant uit. Dit word gevolg deur ʼn vuil voetjie wat die koerant trap-trap om net die vel teen die koue te beskerm. Dan lê die vuil koerantfiguurtjie weer stil.

My hart huil. Hier sit ek en kla oor die koue, oor die soveelste bottel lyfroom wat ek moet betaal en oor ʼn kind wat vrywillig elke oggend koud kry ter wille van die jongste tiener modegier, terwyl ʼn lewende wese hier voor my lê – half verkluim met net sy vodde lappies vir klere en ʼn ou koerant vir hitte. Dis amper soos Die Lappop – Carike se liedjie van ouds.

Audry Bierman (Foto: Verskaf)

Minique maak die kar se deur oop en hop in. “Ek het vir my en mamma sommer elkeen ʼn koppie sop gekoop. Ek was nie lus vir ʼn pie nie. Ek hou vir ʼn oomblik die koppie warm sop tussen my hande en voel die hitte. “Dankie my kind, maar ek is vandag effens naar. Ek sal dit maar bêre en kyk of ek later beter voel.” In stilte ry ons skool toe om die verstrooide ystiener af te laai en daarna, op pad werk toe, kies my kar sommer weer vanself sy pad tot voor die winkel waar die vuil koerantfiguurtjie steeds roerloos lê.

Ek dink aan die oggende op my fiets op pad skool toe. Ouma se ysbere was nooit baie groot nie, want hulle het my nooit verskeur nie. Dit was eerder ʼn hele spul klein beertjies. Koue, honger beertjies wat altyd eers by die vingerpunte begin knibbel het. Eers was dit gevoelig en rooi, en later was dit seer. Teen die tyd dat ek my fiets by die skool ingestoot het, kon ek nie meer een van my vingers voel nie; ek was net bewus van die konstante steekpyn wat soos messe ingedruk word, daar waar my vingers nog in die somer was. Die tone was teen dié tyd ook morsdood en dit was soms vreemd om jou tone in jou skoene te wikkel. Dit het altyd gevoel soos iemand anders se tone in my skoene.

Ek klim uit en stap tot by die koerantfiguurtjie. Oorlewing en skrik laat hom vervaard orent kom en toe besef ek dat die figuurtjie eens op ʼn tyd iemand se klein dogtertjie was.

Ek hou die koppie sop na haar uit en met ʼn skaam “dankie” vou die verkluimde vingers krampagtig om die warm koppie. Die ewe verkluimde ogies – waarin daar geen blink meer is nie – is met dankbaarheid gevul, want vandag is nie die dag waarop sy sal verkluim nie.

Terwyl ek werk toe ry, voel ek skuldig omdat ek nie meer kan doen nie, maar wat móét ʼn mens doen? Ek kan dit rapporteer wanneer ek in my warm lugversorgde kantoor instap, maar met ʼn stukkende land waar daar soveel nood is twyfel ek of selfs een grootmens in ʼn maatskaplike posisie die moeite sal doen vir een klein, naamlose koerantfiguurtjie. Wat as die ysbere haar vanaand heeltemal opvreet?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kerneels ·

Mmmm… jy kan dalk ‘n warm baadjie of kombers saamry om volgende keer vir die persoon te gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.