Lesersbrief: Lank lewe die klein skooltjie

Benton Nortman is die hoof van Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon. (Foto: Verskaf)

Benton Nortman van Viljoenskroon skryf:

Dit is weer daardie tyd van die jaar, wanneer mammas in die koffiekroeë sit en bespiegel oor watter skool die beste vir hulle kinders is. Opmerkings soos “Het jy daai astro gesien?” of “Daai skool het al ʼn Springbok opgelewer”. Die kriteria wat ons egter deesdae gebruik, dui dalk nie op die gehalte van die skool nie, maar eerder op die grootte van die skool of die prestasies wat deur die top-20-leerders in die graad behaal word.

Megaskole bemark hulself dikwels met stellings soos onder andere die volgende: “Waar elke kind iemand is”, “Meer geleenthede vir jou kind”, “Verskeidenheid vakkeuses”, “114 buitemuurse aktiwiteite”. Op sosiale media word ons met prestasies van dieselfde paar kinders uit dieselfde paar skole oorval.

Het ons skole nie in instansies ontaard wat eerder roem, eer en prestasies najaag nie? Ek het niks teen prestasies nie. Inteendeel, ons moet erkenning aan iemand gee wat presteer het.

Ek het onlangs ʼn Facebook-inskrywing van ʼn mamma raakgelees wat die wanbalans in ons moderne samelewing, aangedryf deur sosiale media, mooi opsom.

Sy skryf oor haar seun se skool se prysuitdeling waar sy aan die feilbaarheid van aanprysing en balkies aansteek gesit en dink het. Op die rand van die verhoog staan daar waarskynlik kinders wat dalk ʼn vierde plek verwerf het wat net nie goed genoeg is vir ʼn sertifikaat of trofee nie. Kinders wat nie die skool se vierde hokkiespan gehaal het nie en dus nooit op die “astro” mag kom nie. Kinders wat elke dag verby die wêreldklasnetbalbane stap, maar nooit ʼn wedstryd daarop speel nie.

Dan is daar darem nog die klein skooltjie op die platteland waar elke kind regtig raakgesien word. Skooltjies waar deelname só noodsaaklik is dat deelname, in plaas van slegs prestasie, ook beloon word. Skooltjies waar almal móét opdaag, hulle bes gee en klaarmaak. Skooltjies waar die hoofdogter nog kaalvoet by die leieropleiding sit, waar die graad 11-dogters nie skaam is om in swemklere saam met die jonger leerders by die waterglybaan af te gaan nie. By hierdie plattelandse skole móét ons ons taal, geloof en kultuur beskerm en uitleef, anders verloor ons dit. By hierdie klein skooltjies kry ʼn kind (wat in ʼn groot skool se D-span sou speel) ook die geleentheid om aan die streeksproewe deel te neem en óók die geleentheid om so nou en dan oor die verhoog te stap.

Dan laat die beeld van ons klein Afrikaanse plattelandse skooltjies my aan die temalied van die ou TV-program, Cheers, terugdink wat as volg lui:

Making your way in the world today

Takes everything you’ve got.

Taking a break from all your worries

Sure would help a lot.

Wouldn’t you like to get away?

 

Sometimes you want to go

Where everybody knows your name

And they’re always glad you came.

You want to be where you can see

our troubles are all the same

You want to be where everybody knows your name.

 

Is dit nie tyd dat ons ons kinders ʼn blaaskans gee nie? Weg van die gejaag, doellose wedywering en gesiglose massas.

Ek is Benton Nortman, trotse skoolhoof van ʼn kleiner skool op die platteland. Ek sê: Lank lewe die klein Afrikaanse skole!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anniekiewiet ·

Wonderlik! Ek is so bly my klein laerskooltjie van “many moons ago” is steeds aan die gang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.