Leser sê: Ope brief aan voorsitter van NWU-raad

Foto: nwu.ac.za

Foto: nwu.ac.za

Hierdie is ʼn brief ingestuur deur Paul Maritz, ‘n vyfdejaarstudent in Teologie (BTh Hons) aan die Noordwes-Universiteit.

Geagte Voorsitter

Ek is ʼn vyfdejaarstudent in Teologie (BTh Hons) aan die Noordwes-Universiteit en ʼn trotse PUK daarby! Die unieke kampuskultuur en akademiese omgewing van die NWU-PUK spoor my aan om deur bestaande studentestrukture ʼn bydrae tot die instelling te lewer.

Ek is by verskeie studentestrukture betrokke maar rig hierdie skrywe aan u bloot as ʼn student van die NWU. Ek besef dat my sieninge hieronder nie elke student se gevoel kan weerspieël nie, maar ek weet ʼn groot gedeelte van die studente deel die sentimente soos hieronder beskryf.

Dit is my ervaring dat die Potchefstroom-kampus ʼn omgeekampus is en ʼn kampus waar daar ʼn algemene vriendelikheid onder studente heers.

Op die oomblik is daar egter ʼn onsekerheid (en ʼn mate van ontevredenheid) oor die “proses van sentralisasie en homogenisering” van die NWU wat voorgestel word deur die visekanselier, prof. Dan Kgwadi.

Die onsekerheid bestaan omdat die voorleggings vaag en ideologies gemotiveerd is. Studente besef ook die enormiteit van die gevolge wat die voorgestelde model inhou en ek stel dit met respek dat die Bestuur van die NWU stelselmatig die vertroue van die grootste kampus van die NWU verloor. Dit was nog nooit eers ʼn moontlikheid gewees in my vyf jaar by die NWU-PUK nie.

Dit is bekend dat hoëronderwysonderrig in Afrikaans by al die “tradisionele Afrikaanse universiteite” ʼn baie onsekere toekoms het. Daar kan egter met sekerheid gesê word dat die enigste kampus (nie eens universiteit nie) wat ʼn geleentheid het om volhoubare Afrikaanse hoër onderwys te kan aanbied, die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is.

Die studente van die kampus (en ek wil selfs byvoeg voornemende studente) voel duidelik ook so. Bykans 80% van studente woon buite die Noordwes-provinsie, wat onderstreep dat daar ʼn behoefte en massiewe aanvraag is vir ʼn volhoubare ruimte waarin Afrikaans kan voortbestaan.

Alhoewel ek nie ʼn regstudent is nie, is ek (en die meeste studente) bewus daarvan dat die Grondwet ruimte maak vir Afrikaans om te kan voortbestaan waar dit “redelikerwys doenlik” is. As Senior Advokaat besef ek dat dit nie nodig is om enige wetgewing vir u aan te haal nie, maar volledigheidshalwe haal ek tog artikel 29(2) van die Grondwet hierby aan:

Artikel 29(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenlik van hierdie reg te verseker, moet die staat alle alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van –

(a) billikheid;

(b) doenlikheid; en

(c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras diskrimineer het, reg te stel. (Eie beklemtoning)

Dit is duidelik dat daar ʼn positiewe plig bestaan om toe te sien dat hierdie reg verwesenlik moet word.

Dit is belangrik om vir ʼn oomblik stil te staan by die reg soos uiteengesit in die Grondwet aan die een kant en die verwesenliking van die reg aan die anderkant:

v Daar moet beklemtoon word dat ʼn universiteit nie ʼn staatsinstelling is nie maar ʼn openbare instelling. ʼn Openbare instelling behoort aan gemeenskappe wat gedeelde eienaarskap van die instelling het en deur die betrokke instelling gedien word.

v Suid-Afrika is nie ʼn land wat uit abstrakte individue bestaan nie, maar uit gemeenskappe waaraan individue behoort. ʼn Individu se identiteit spruit uit sy of haar betrokke gemeenskap en so is daar ook ʼn Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika wat ʼn sterk behoefte het aan Afrikaanse onderrig en die volhoubare voortbestaan van Afrikaans op tersiêre vlak.

v Dit moet ook gestel word vir verdere perspektief dat verskillende instellings verskillende gemeenskappe dien. Instellings soos die Universiteit van die Witwatersrand dien ʼn ander gemeenskap as die Universiteit Stellenbosch. So ook dien die Universiteit van Kaapstad ʼn ander gemeenskap as die Noordwes-Universiteit.

v Dit is belangrik dat die Universiteit as ʼn openbare instelling nie die Afrikaanse gemeenskap wat hy dien, uitsluit en besluite neem ten koste van die Afrikaanse gemeenskap nie.

Die model wat prof. Kgwadi voorstel, is nie ʼn model wat oppervlakkige struktuurveranderings aanbring nie, maar ʼn fundamentele beginsel wat op elke vlak van die NWU gedryf word en sodoende nie net invloed op Afrikaans as onderrigtaal het nie. Die fundamentele beginsel word onder andere vergestalt in (i) die strewe na “verteenwoordiging” van studente en personeel (veral dosente), (ii) sentralisering van NWU-kampusse, en (iii) ek sal waag om ook te noem, die ommekeerbesluit van die Raad om nie prof. Van Schalkwyk se termyn as rektor van die NWU-PUK te verleng nie.

Wat prof. Kgwadi voorstel, staan loodreg teen die model wat in 2004/2005 aangeneem is, waar woorde soos “diversiteit”, “akkommoderendheid” en “veeltaligheid” die kernwoorde was. Die kernwoorde word nou vervang word met “eenvormigheid”, “sentrale beheer” en “unitêr”.

Die proses van sentralisering en homogenisasie lei die NWU op die pad na ʼn totalitêre model en alleenmag aan die visekanselier.

Voornemende studente se toegang om in Afrikaans te studeer, word sodoende geweier en die burgery, waarvan die Afrikaanse gemeenskap deel vorm, word verarm.

Vir Afrikaans en enige ander taal om as onderrigtaal te kan voortbestaan, moet daar ʼn institusionele ruimte bestaan. Dit moet ʼn realiteit wees sodat die Afrikaanse gemeenskap homself volkome kan uitleef.

Dit is my innige versoek dat u hierdie skrywe by die Raadstukke sal aanheg wanneer dit kom by die bespreking van die Universiteit se strategie. Dit is belangrik dat studente se sienswyse deel vorm van die debat in die Raad.

Beste wense

Paul Maritz

Stuur gerus ʼn brief aan ons by [email protected]

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Daan Malan ·

Kennis neem sal niks help nie. Daar moet iets drasties gedoen word.

Willie Maree ·

Baie dankie en geluk Paul met ‘n gebalanseerde en goed gemotiveerde skrywe. As alumni-lid is dit belangrik dat die nuwe geslag studente hul sienswyse ondubbelsinnig stel ter kennisname van die Raad en Bestuur van die NWU

Daan Malan ·

En wat as daar net bloot kennis geneem word,…? Ons moet opstaan en duidelik teenstand bied. Die Broederbond / Afrianerbond wat deur die Vrymesselaars oorgeneem is, het die agteruitgang soos soetkoek opge-eet en bly glo alles is reg en in plek… Maar nou skielik sit hulle soos verdwaasde hase in ‘n ry en en kla, en baie van hulle rus selfs nog steeds op hulle loure, omdat hulle nogsteeds geblinddoek glo ons Afrikaner se sake is veilig en in plek.

Johannatjie ·

Baie dankie vir ‘n gebalanseerde en mooi brief. Ons sou baie graag wou sien dat daar kennis geneem word deur die Raad.

Dup du Plessis ·

Die oplossing is eintlik so eenvoudig. Gee aan elke ingeskrewe student by PUK ‘n stem. Dit kan nog verder gesny word deur slegs PUK studente wat se rekenings op datum is toe te laat om te stem. Dan besluit studente (wat eintlik in der waarheid PUK is) oor hul eie lot en nie ‘n klomp ringkoppe wat glad nie deel is van die kampus oor die voortbestaan van die afrikaanse kultuur nie. Dink die raad dat ons as ouers studente soontoe stuur vir die raad se onthalwe of omdat PUK, PUK is en boonop nog afrikaans is. Die feit dat Kgwadi hier aangestel is, is al ‘n bitter pil om te sluk. PUK is maar net een van die 3 kampusse van die NWU en dit funksioneer100%. Hoekom word die ander 2 kampusse nie verander na wat die bepaalde behoefte van Kgwadi of die raad is nie.

Daan Malan ·

Dup, Dit is nou ;n voorstel wat tenminste vra vir optrede. Die Studenteraad moet sommer self ‘n referendum reel, En dan ruk soveel moontlik oud-pukke en ouers daar op en gee bystand en verseker veiligheid vir die studente, en dan hou ons optogte op die kampus en in die dorp.

Johann Marx ·

Die “probleem” by PUK het niks te doen met “diversiteit, akkomoderendheid of veeltaligheid” soos die skrywer dit stel nie. Die “probleem” by die PUK is Dan Kgwadi….Hy’s uit sy diepte uit, en hoort nie daar nie. Ons is te besig om salf aan kanker te probeer smeer en dan te redeneer oor hoekom dit nie werk nie. Verwyder die kanker….en die stelsel is gesond. Eenvoudig.

Daan Malan ·

Johann, hier staan jy nou die spyker op die kop! Haal die kanker uit, nie die hart nie.

Wimpie Jansen van Vuuren ·

Well done Paul. As 2de jaar teologiese student en TROTSE PUK sekondeer ek jou brief. Ons almal het pyn in ons harte oor hierdie saak. Dankie dat jy vir ons opstaan. Jy is n ware leier!!!

Disselboom ·

Ai, Wimpie. Ons praat hier van die behoud van Afrikaans, van akademiese voortsetting van Afrikaans en dus Afrikaans as trotse taal wat sy plek volstaan in alle opsigte. Ons kritiseer die regering vir sy bose minagting van Afrikaans.

Maar stry ons hiervoor terywl ons mekaar in Engels op die rug klop? Ai.

Leonard van der Dussen ·

Dit wat met die gewese “PUK” gebeur, is inderdaad ontstellend; en tog nie onverwags nie: dis logies dat ‘n oorwinnaar, soos diegene aan wie die bewind amptelik en behoorlik in 1994 oorhandig is, die dinge waaroor hy nou mag en gesag het, gaan reël soos dit hom pas. As jy die land aan kommuniste oorhandig, en dan boonop ook nog die Afrika-weergawe daarvan waar daar bewondering vir mag en magsvergryp is, moet jy noodwendig verwag dat al jou goed gegryp en met die doelwitte van die massas voor oë bestuur gaan word; ongeag die afbrekende gevolge van hierdie vergrype en dat goeie goed afgebreek word.

Dit gaan ‘n magsverskuiwing verg om hierdie proses teen te gaan en dit moet op veel groter skaal as net by een onderdeel van die samelewing, soos ‘n universiteit, plaasvind om die onderdele se saak te kan verander.

Tog is daar dinge waaroor ons dalk nog op grondvlak bietjie beheer kan uitoefen, as ons darem net bereid is om ons rug so bietjie styf te maak en manne van dapperheid te wees: ‘n klein voorbeeld, maar een wat die groot tragiese saak van ver-Engelsing van die Gereformeerde Kerke se predikantsopleiding en die Teologiese Skool demonstreer, is die epos-adresse wat aangegee word in ‘n onlangse brief wat in die Gereformeerde Kerke gesirkuleer is om bekend te maak watter van die teologiese student nou gevorder het tot by preekverlof – eposadresse is [email protected].

Ek laat dit vir oomblik eenkant dat die predikante wat eintlik onder die spesiaal-geroepte predikante se leiding by die Teologiese Skool veronderstel is om hulle predikantsopleiding te kry, in feite deur die Fakulteit Teologie van ‘n wêreldse universiteit onder kommunistiese voorskrifte en beheer opgelei word, en dat die Afrikaans-liefhebbers ‘n slag moet gaan navraag doen by die “skooltjie” oor die taalbeleid wat by dagopeninge daar afgedwing word, waar die Afrikaner ook maar gedurig net moet toegee en toegee aan die behoefte van die vreemdeling.

In hierdie skrywe gaan dit oor die ver-Engelste eposadresse: hoekom? Watter bietjie moeite is dit om by ‘n universiteitskampus wat homself nog probeer projekteer as Afrikaans-liefhebbend, darem net Afrikaanse eposadresse vir studente beskikbaar te maak?

Die punt van hierdie betoog: ons dring – met reg – as Afrikaners nog orals op ons erfgoed en ons taal aan in die openbare arena en met breedsprakigheid, maar ons sorg nie dat ons minstens daar in die klein dingetjies wat haalbaar is op die oomblik, daardie respek vir onsself en ons taal afdwing nie.

Hiermee ‘n uitdaging aan die PUK-studente, alumni en almal wat die PUK se Afrikaanse status bevorder en daarvoor wil stry, om te sorg dat hierdie klein dingetjie met groot simboliek van wilskrag of nie, reggestel word. Of moet ons aanvaar ons toekomstige predikante is maar gedweë bereid om so met die Engelse adres bekend te staan? Hoekom veg Afriforum dan vir behoud van straatname en dorpsname?

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir ‘n goeie brief, ek kan net hoop en bid dat daarna geluister gaan word. Ek is ook ‘n alumni-lid, met drie kleinkinders wat tans daar studeer en nog een volgende jaar op pad en kan uit eie ondervinding asook gesprekke met die kinders en kleinkinders feitlik elke gedagte wat in die brief geopper word, be-aam. Daar is duidelik ‘n politieke agenda. Ek het self ondervinding van die tolk-beleid wat daar met groot sukses gevolg word. NIEMAND word uitgesluit nie – saam met my in die klas was ook mense uit ander Afrika-lande.

Retha ·

Ek stem saam met briefskrywer maar as bestuur nie wil luister nie sou dit nie werk om voorbeeld van ander kampusse te volg om ‘opstandig’ te raak nie? Tot bestuur LUISTER. Ek mooi dik vir die regering se houding teenoor ons goed en kultuur en mense.

Hanri le Roux ·

Paul, jy is ‘n ware rolmodel, want jy het sopas alles wat in ons as PUKKE se harte aangaan op skrif gesit. Dankie dat jy nie bang is om vir die PUK soos wat hy nou is (en WERK) te baklei nie. Mag hierdie brief die skille van die oë van die besluitnemers laat afval en mag die PUK so behou word as die plek waar ons elkeen mens geword het!

Jeanette ·

Ek het soveel waardering vir die jongman se waagmoed, maar beskou dit as ‘n stem roepende. Die strategie wat deur die NWU-Raad gevolg word, bied geen ruimte vir hierdie jongman se standpunt nie. Hy kan hom dalk vinnig (saam met Prof. Van Schalkwyk) in die koue bevind en nie deel wees van die meningsvormers nie,

Prof. Kgwadi word aangestel deur die NWU-Raad. Die NWU-Raad is oorwegend Afrikaanssprekende (DA)lede. Prof. Kgwadi skroom nie om sy teleurstellende standpunt te stel betreffende die toekoms van Afrikaans aan die NWU nie.

Die onmiddellike vraag was of die NWU-raadslede hulle misreken het met Prof. Kgwadi se aanstelling of was dit ‘n berekende aanstelling. Alles dui daarop dat hierdie ‘n berekende aanstelling was en dat die NWU in ‘n nuwe rigting gestuur gaan word.

Prof. van Schalkwyk, ‘n voorstander vir die behoud van die Afrikaanse karakter van die NWU, word onmiddellik geelimineer. Theo Venter bekend vir sy liberale standpunte word aangestel as een van Prof. Kwadi se beeldpoetsers. Onlangs word Prof. Froneman(DA-raadslid) tot Prof. Kgwadi se span adviseurs toegevoeg.

Die DA stuur onomwonde ‘n politieke boodskap uit na die swart middelklas-kieser met die oog op die 2016-verkiesing. In die dae en jare wat kom sal seker aan ons verduidelik word waarom dit in die Afrikaanssprekende se belang was om die NWU op te offer.

DA stratege het nie nodig om die mening van die Afrikaanssprekende in ag te neem nie, want klem op die ANC-GEVAAR is voldoende om die Afrikaanssprekende se stem te verseker.

Bruno Stef ·

Die bestuurslede van NWU op die raad wat nou DA lede is was vir jare oud NP lede wat na die ontbinding van dieNP na die DA toe gehardloop het.Dit het alles n lang aanloop gehad wat begin het in die vroeg 1990 toe die Konserwatiewe party die Potchefstroom setel in n tussenverkiesing van die NP afgeneem het. Wat ek eintlik se ek vertrou nie die op die DA se stem en steun met betrekking tot NWU nie die teendeel inderdaad.

Tammy ·

Ek stem saam, verwyder prof. Kgwadi hy hoort nie op die PUK nie. Dit is absoluut polities gemotiveerd. Baie geluk aan Paul dat hy die durf het om so n omvattende brief te skryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.