Leser sê: Ope brief aan voorsitter van NWU-raad

Foto: nwu.ac.za

Foto: nwu.ac.za

Hierdie is ʼn brief ingestuur deur Paul Maritz, ‘n vyfdejaarstudent in Teologie (BTh Hons) aan die Noordwes-Universiteit.

Geagte Voorsitter

Ek is ʼn vyfdejaarstudent in Teologie (BTh Hons) aan die Noordwes-Universiteit en ʼn trotse PUK daarby! Die unieke kampuskultuur en akademiese omgewing van die NWU-PUK spoor my aan om deur bestaande studentestrukture ʼn bydrae tot die instelling te lewer.

Ek is by verskeie studentestrukture betrokke maar rig hierdie skrywe aan u bloot as ʼn student van die NWU. Ek besef dat my sieninge hieronder nie elke student se gevoel kan weerspieël nie, maar ek weet ʼn groot gedeelte van die studente deel die sentimente soos hieronder beskryf.

Dit is my ervaring dat die Potchefstroom-kampus ʼn omgeekampus is en ʼn kampus waar daar ʼn algemene vriendelikheid onder studente heers.

Op die oomblik is daar egter ʼn onsekerheid (en ʼn mate van ontevredenheid) oor die “proses van sentralisasie en homogenisering” van die NWU wat voorgestel word deur die visekanselier, prof. Dan Kgwadi.

Die onsekerheid bestaan omdat die voorleggings vaag en ideologies gemotiveerd is. Studente besef ook die enormiteit van die gevolge wat die voorgestelde model inhou en ek stel dit met respek dat die Bestuur van die NWU stelselmatig die vertroue van die grootste kampus van die NWU verloor. Dit was nog nooit eers ʼn moontlikheid gewees in my vyf jaar by die NWU-PUK nie.

Dit is bekend dat hoëronderwysonderrig in Afrikaans by al die “tradisionele Afrikaanse universiteite” ʼn baie onsekere toekoms het. Daar kan egter met sekerheid gesê word dat die enigste kampus (nie eens universiteit nie) wat ʼn geleentheid het om volhoubare Afrikaanse hoër onderwys te kan aanbied, die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is.

Die studente van die kampus (en ek wil selfs byvoeg voornemende studente) voel duidelik ook so. Bykans 80% van studente woon buite die Noordwes-provinsie, wat onderstreep dat daar ʼn behoefte en massiewe aanvraag is vir ʼn volhoubare ruimte waarin Afrikaans kan voortbestaan.

Alhoewel ek nie ʼn regstudent is nie, is ek (en die meeste studente) bewus daarvan dat die Grondwet ruimte maak vir Afrikaans om te kan voortbestaan waar dit “redelikerwys doenlik” is. As Senior Advokaat besef ek dat dit nie nodig is om enige wetgewing vir u aan te haal nie, maar volledigheidshalwe haal ek tog artikel 29(2) van die Grondwet hierby aan:

Artikel 29(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenlik van hierdie reg te verseker, moet die staat alle alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van –

(a) billikheid;

(b) doenlikheid; en

(c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras diskrimineer het, reg te stel. (Eie beklemtoning)

Dit is duidelik dat daar ʼn positiewe plig bestaan om toe te sien dat hierdie reg verwesenlik moet word.

Dit is belangrik om vir ʼn oomblik stil te staan by die reg soos uiteengesit in die Grondwet aan die een kant en die verwesenliking van die reg aan die anderkant:

v Daar moet beklemtoon word dat ʼn universiteit nie ʼn staatsinstelling is nie maar ʼn openbare instelling. ʼn Openbare instelling behoort aan gemeenskappe wat gedeelde eienaarskap van die instelling het en deur die betrokke instelling gedien word.

v Suid-Afrika is nie ʼn land wat uit abstrakte individue bestaan nie, maar uit gemeenskappe waaraan individue behoort. ʼn Individu se identiteit spruit uit sy of haar betrokke gemeenskap en so is daar ook ʼn Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika wat ʼn sterk behoefte het aan Afrikaanse onderrig en die volhoubare voortbestaan van Afrikaans op tersiêre vlak.

v Dit moet ook gestel word vir verdere perspektief dat verskillende instellings verskillende gemeenskappe dien. Instellings soos die Universiteit van die Witwatersrand dien ʼn ander gemeenskap as die Universiteit Stellenbosch. So ook dien die Universiteit van Kaapstad ʼn ander gemeenskap as die Noordwes-Universiteit.

v Dit is belangrik dat die Universiteit as ʼn openbare instelling nie die Afrikaanse gemeenskap wat hy dien, uitsluit en besluite neem ten koste van die Afrikaanse gemeenskap nie.

Die model wat prof. Kgwadi voorstel, is nie ʼn model wat oppervlakkige struktuurveranderings aanbring nie, maar ʼn fundamentele beginsel wat op elke vlak van die NWU gedryf word en sodoende nie net invloed op Afrikaans as onderrigtaal het nie. Die fundamentele beginsel word onder andere vergestalt in (i) die strewe na “verteenwoordiging” van studente en personeel (veral dosente), (ii) sentralisering van NWU-kampusse, en (iii) ek sal waag om ook te noem, die ommekeerbesluit van die Raad om nie prof. Van Schalkwyk se termyn as rektor van die NWU-PUK te verleng nie.

Wat prof. Kgwadi voorstel, staan loodreg teen die model wat in 2004/2005 aangeneem is, waar woorde soos “diversiteit”, “akkommoderendheid” en “veeltaligheid” die kernwoorde was. Die kernwoorde word nou vervang word met “eenvormigheid”, “sentrale beheer” en “unitêr”.

Die proses van sentralisering en homogenisasie lei die NWU op die pad na ʼn totalitêre model en alleenmag aan die visekanselier.

Voornemende studente se toegang om in Afrikaans te studeer, word sodoende geweier en die burgery, waarvan die Afrikaanse gemeenskap deel vorm, word verarm.

Vir Afrikaans en enige ander taal om as onderrigtaal te kan voortbestaan, moet daar ʼn institusionele ruimte bestaan. Dit moet ʼn realiteit wees sodat die Afrikaanse gemeenskap homself volkome kan uitleef.

Dit is my innige versoek dat u hierdie skrywe by die Raadstukke sal aanheg wanneer dit kom by die bespreking van die Universiteit se strategie. Dit is belangrik dat studente se sienswyse deel vorm van die debat in die Raad.

Beste wense

Paul Maritz

Stuur gerus ʼn brief aan ons by [email protected]

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
emile

Mooi gestel.
Kom ons vertrou daar word kennis geneem.

Willie Maree

Baie dankie en geluk Paul met ‘n gebalanseerde en goed gemotiveerde skrywe. As alumni-lid is dit belangrik dat die nuwe geslag studente hul sienswyse ondubbelsinnig stel ter kennisname van die Raad en Bestuur van die NWU

Johannatjie

Baie dankie vir ‘n gebalanseerde en mooi brief. Ons sou baie graag wou sien dat daar kennis geneem word deur die Raad.

Dup du Plessis

Die oplossing is eintlik so eenvoudig. Gee aan elke ingeskrewe student by PUK ‘n stem. Dit kan nog verder gesny word deur slegs PUK studente wat se rekenings op datum is toe te laat om te stem. Dan besluit studente (wat eintlik in der waarheid PUK is) oor hul eie lot en nie ‘n klomp ringkoppe wat glad nie deel is van die kampus oor die voortbestaan van die afrikaanse kultuur nie. Dink die raad dat ons as ouers studente soontoe stuur vir die raad se onthalwe of omdat PUK, PUK is en boonop nog afrikaans is. Die feit dat… Lees meer »

Johann Marx

Die “probleem” by PUK het niks te doen met “diversiteit, akkomoderendheid of veeltaligheid” soos die skrywer dit stel nie. Die “probleem” by die PUK is Dan Kgwadi….Hy’s uit sy diepte uit, en hoort nie daar nie. Ons is te besig om salf aan kanker te probeer smeer en dan te redeneer oor hoekom dit nie werk nie. Verwyder die kanker….en die stelsel is gesond. Eenvoudig.