Leserbrief: Ek is maar net ʼn onderwyser

Hendri Schutte van Viljoenskroon skryf:

Hendri Schutte

Ek is maar net ʼn onderwyser. Ek werk van 7:00 tot 14:00, op papier, maar in werklikheid hou die werk nooit op nie. Baie mense dink ek gee net skool en rig dalk vanmiddag vir ʼn uur of twee sport af. Onderwys is mos net ʼn “halfdagwerk”, maar hulle is nie bewus van alles wat agter die skerms gebeur nie.

Ek is maar net ʼn onderwyser. Ek moet elke ouer antwoord wat my bel of vir my ʼn WhatsApp stuur, al is dit laat in die aand, en bewaar my siel as ek nie antwoord nie. Ek moet elke ouer help en vergeet van my eie persoonlike en sosiale lewe, as daar ooit nog een is.

Ek is maar net ʼn onderwyser. Jy sê ek ken nie jou kind nie, maar eintlik ken ek jou kind baie goed. Ek kan sien as jou kind ʼn af dag het. Ek kan sien as jou kind siek is. Ek kan sien as jou kind gelukkig is. Ek kan sien as jou kind hartseer is. Ek kan sien as jou kind bang, angstig of bekommerd is. Ek kan sien wat in jou kind se lewe aangaan, want ek ken jou kind. Ek ken jou kind beter as wat jy dink.

Ek is maar net ʼn onderwyser. Ek het elke naweek af en ek kry vier wonderlike vakansies ʼn jaar, maar wag, wat van die hoop boeke agter in die kar? Wat van die beplanning van volgende week of volgende kwartaal? Wat van die ekstra papierwerk? Wat van elke kind wat ʼn probleem het wat my saans wakker hou? Wat van die kind wat wéér sy toets gedruip het, hoe gaan hy/ sy deurkom? Wat van die kind wat nie ʼn pen of potlood kan kry nie? Wat van die kind wat so graag wil, maar dit nie regkry nie? Wat van die kind wat vir meer as ʼn week siek is? Wat van die kind wat na sy boetie of sussie moet kyk? Wat van die kind wat gister seergekry het? Wat van die kind wat afgeknou word? Wat van die kind wat afknou, wat gaan aan? Wat van die kind wat elke dag dieselfde broek en hemp dra? Wat van elke kind..?

Ek is maar net ʼn onderwyser, maar ek sal dit nooit verruil nie. Ek kan sien hoe elke kind groei. Ek kan sien hoe elke kind iets regkry. Ek kan sien hoe gister se les nog vandag by die kind is. Ek kan sien hoe elke kind dít vind waarin hulle goed is.

Ek is maar net ʼn onderwyser. Ek word kwaad. Ek word hartseer. Ek word gefrustreerd. Ek word bang. Ek word opgewonde. Ek is ʼn onderwyser. Ek is ook nog mens.

Ek is maar net ʼn onderwyser en ek sal ook maar net ʼn onderwyser vir baie bly.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lollapot ·

Hendri daar is ouers wat jou waardeer! Ek is BAIE dankbaar vir ELKE inset in my kind se lewe, die geduld en liefde wat hy by elke onnie kry.
SONDER julle, is ons verlore!

Snowball ·

Hendri, onderwysers staan in die bevoorregte posisie om die jeug van vandag toe te rus vir môre. Dit wat ‘n goeie onderwyser (die toegewydes en roeping georiënteerdes) vir kinders beteken kan niemand in geldwaarde meet nie. Die groot beloning is waarskynlik nie die satisfaksie as daar 20% verbetering in punte is nie, maar die vertroue wat ‘n kind in jou stel; veral dié wat uit moeilike huise kom. Nie alle kinders waardeer of vorm ‘n band met jou nie, maar vir daardie twee of drie vir wie jy DIÉ onderwyser is wat hulle nooit sal vergeet nie, sal jy nooit ‘net ‘n onderwyser’ wees nie. Sterkte vir jou en al die ander leerkragte wat elke dag ‘n verskil in kinders en jongmense se lewens maak.

Marcello ·

Onthou net, jy het ‘n passie vir kinders, maar daar is ook die bullies onderwysers, ek was so geboelie as kind, en dra nou nog die geestelike letsels daarvan. Baie dankie aan onderwysers soos jy, wat ‘n verskil in ons lewens en ons kinders se lewens maak.

Marlie ·

Elke Persoon kies maar sy beroep en met elke beroep kom daar maar sekere “issues” met die job… Elkeen van ons het baie mooi geweet wat ons onsself voor ingelaat het voor ons in ons beroep ingegaan het. So ek gaan nou nie vandag ‘n opstel skryf oor my eie beroepskeuses nie. Blessings vir jou en sterkte met die pad voorentoe Hendri, dink daar is nog ‘n paar hekkies om te spring , moet jou nie te veel steur aan ander nie, elke beroep kom met uitdagings nie net onderwys nie… spring die hekkies…. een vir een Veral die een wat jy elke ouer wil antwoord op, my dogtertjie se juffrou antwoord verseker nie elke whatsapp van elke ouer nie..

Koos 100 ·

Henri, ek het 12 jaar terug ook gedink dat julle ‘n lekker werk het. Toe word ek verkies op ‘n laerskool se beheerliggaam en na so ‘n paar jaar ook die hoërskool sin. Mensig ek weet vandag baie beter. Jy kry onderwysers wat net skool gee en niks verder nie, en jy kry ander wat by die skool slaap. Ek baklei jaarliks vir bonusse virdie wat hulle kant bring. Geld maak die opoffering bietjie beter vir hulle. Baie sterkte vir jou, my seun volg ook op jou spore. Sy passie is om ‘n wiskunde onderwyser te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.