Lesersbrief: Afrikaner-afgrond?

Albert de Villiers van Kuruman skryf:

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion.

Mnr. FW de Klerk en die Nasionale Party het die beloftes oor magsdeling vir die Nuwe Suid-Afrika nie nagekom nie. Daar is swak onderhandel tydens die Codesa-samesprekings en die Afrikaner het na afloop daarvan aan die korste ent getrek. Die ANC sou op die beginsel van een man een stem alle mag in Suid-Afrika inpalm. Die Afrikaner-establishment saam met die hoofstroommedia het egter die grootste deel van die Afrikanerbevolking gepaai en dit is sonder veel weerstand so aanvaar.

Die mislukking van hierdie poging tot sogenaamde demokrasie is nou in 2020 vir meeste mense duidelik. As ons kyk hoe die Skepping kreun onder die rommel, die wydverspreide korrupsie en om nie eens te praat van die derduisende mense wat vermoor, verkrag en beroof is sedert 1994 nie, is dit genoeg om in sak en as te wil gaan sit.

Ons mag egter nie verslaan voel nie. Ja, Mnr. de Klerk en sy gevolg het ons verraai. Hier is sewe voorstelle.

  1. Fokus op die toekoms. Aan die verlede kan ons niks doen nie. Baie mense is mislei en voel verneuk. Die Groot Regter sal wel eendag kom en daar sal geregtigheid wees. Dit is ons troos. Weet egter dat u en ek ook aan onsself verantwoord sal moet wees. Ons moet hand aan die ploeg slaan en ’n nuwe dag tegemoet gaan.
  2. Veiligheid. Met ’n steeds krimpende ekonomie gaan misdaad net verder toeneem. Ons kan dit egter beperk deur veiligheidstrukture in ons woongebiede op te rig. Óns is nou verantwoordelik vir ons veiligheid. Die staat het daarin gefaal om sy burgers te beskerm. Sluit aan by ’n buurtwag of plaaswag. As daar nie een is nie, stig een. Die onus rus op jou. Niemand gaan dit doen as jy dit nie self doen nie. ’n Gemeenskapsveiligheidstruktuur is ’n wettige manier om jouself en jou geliefdes te beskerm. Vir meer inligting lees gerus Roland de Vries se boek Veiligheid vir die gemeenskappe.
  3. Ekonomie. Daar lê ekonomiese swaarkry vir ons voor. Veral nou ná die staat van inperking. Die skrif is aan die muur. Ons sal ons eie mikro-ekonomieë tot stand moet bring om te kan oorleef. Stig ’n sakekamer in jou dorp of gemeenskap. Laat die Boerebesighede koppe bymekaar sit en planne maak om te verseker dat die plaaslike ekonomie staande bly of selfs groei. Ondersteun plaaslike Afrikanerbesighede al is hulle bietjie duurder. Ons het mekaar nodig om te oorleef, probeer dus om elke Afrikaner op jou dorp te hou. Dit is nie onmoontlik om met inisiatief en ywerige hande armoede hok te slaan nie.
  4. Boikot. Laat hoe en waar ons ons geld bestee ’n weerspieëling wees van ons waardes. Moenie groot besighede en korporasies ondersteun wat nie jou belange op die hart dra nie. In ’n gulsige poging om meer wins te maak, ondersteun hulle globalisasie en multikulturalisme? Dan moet jy nie van hul produkte en dienste gebruikmaak nie. Dit mag dalk minder gerieflik wees, maar darem sal jy nie jou eie ondergang finansier nie. Die laaste ding wat ’n groot besigheid wil hê, is selfstandige gemeenskappe wat na hul eie behoeftes omsien. Hulle verkies eerder homogene identiteitslose verbruikers wat hulle maklik kan manipuleer. As jy orals hoort, dan hoort jy nêrens nie en sal jy slegs gedefinieer word deur die handelsmerk wat jy dra. Moenie hulle ondersteun nie. Dieselfde geld vir die media wat jy gebruik. Probeer ’n radio- of TV-program stadig maar seker vreemde verhoudings te normaliseer? Om eerder hul eie multikulturele propaganda aan jou op te dis as ’n eerlike weerspieëling van ons gemeenskappe? Skakel dit af. Dit is breinspoeling. Dink jy dit is per ongeluk? Hulle is besig om jou kultuur met ’n lae dosis gif te vernietig. Moenie dit duld nie! Die internet is ons redding. Daar is baie konserwatiewe alternatiewe op die web. Ondersteun hulle eerder.
  5. Protesteer, Protestant. Protesteer! Die Afrikaner het ’n ryk erfenis van verset. Skrifgetroue, beskaafde verset. ’n Nederige weersin in verdrukking. Hetsy ons Europese voorouers wat nie die knie gebuig het voor die Katolieke Kerk nie of ons Boerevoorouers wat eerder weggetrek het van en later geveg het teen Britse Imperialisme. Nooit het ons gepoog om ’n bestel omver te werp nie (dit sou teen ons Calvinistiese aard indruis) – ons het eerder gepoog om dit te reformeer. Om ons samelewing volgens die Skrif te rig. Daarom, maak jou stem dik. As die media weekliks honderde briewe ontvang van Afrikaners se misnoeë, sal hulle daaraan gehoor móét gee. Ons moenie meer tevrede wees met polities korrekte drek wat in ons keelgate afgeforseer word nie. As Afrikaners handhaaf ons ’n hoër standaard. Laat jou stem geld. Ons moet ook die buiteland oorreed om glad nie meer in Suid-Afrika te belê nie. Hoe minder geld die ANC het om sy oneerlike planne uit te voer. Hoe beter.
  6. Organiseer. Sluit by organisasies aan wat Afrikanerbelange bevorder. Moet egter nie dink jy kan net maandeliks ’n finansiële bydra lewer en dan agteroor sit nie. Raak betrokke op grondvlak. Reël self gemeenskapsinisiatiewe om jul woonbuurte skoon te maak van rommel, om by die skool Christelike onderwys te verseker, ensovoorts. Wees ook krities teenoor die organisasies wat sê dat hulle Afrikaner belange bevorder. Strook hul beleid nog steeds met jou waardes of speel hulle dalk nou ook ’n politieke spel? Ruk hulle in die bek. Te veel Afrikanerorganisasies beywer hulle nou vir transformasie en wil inklusief vir almal en alles wees
  7. Selfbeskikking. Ondersteun selfbeskikkingsorganisasies soos die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA) wat hulle beywer vir die sessering (afstigting) van die minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Gee jou mandaat op www.ulacongress.com As hulle twee miljoen stemme kry, dan maak die Internasionale Reg voorsiening dat ons kan afstig. Daar is ander organisasies ook. Selfbeskikking sal ons oorlewing verseker.

Dit sal goed wees as lesers nog self ’n paar voorstelle kan byvoeg. Ons moet saamstaan, ons is Afrikaners! Ek en jy het nie besluit ons gaan Afrikaners wees nie, die Goeie Vader het ons hier op die punt van Afrika geplaas. Met goeie rede. Ons het ’n taak om te verrig. Ons moet sorg dat ons gemeenskappe die teelaarde is vir sy Koninkryk. Mag Hy ons genadig wees en ons behoed, sodat ons sy wil mag laat geskied, nog vir geslagte aaneen.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Oorweeg wie na jou kinders omsien, huis skoon maak, tuindienste lewer, wie jy “tip” en natuurlik waar jy jou geld spandeer en/of dit ten koste van jou ondergang is.

Theuns ·

Nou dat Ramaphosa bekend raak kan mens net se, die NP se kaartmannetjies was werklik pateties SWAK om deur so ‘n swak leier uitoorle te word!
Tragiese mislukking en nooit die beste wat NP kon gebruik nie.
Klomp narre.
Help jouself. Trek na Orania of Kleingeluk en bele in jou EIE toekoms, sonder om op amder te vertrou. Enigste kans vir diegene wat wil en moet bly in die ras gedrewe land..

Dries ·

Theuns presies soos jy daar sê. Dit gaan my verstand ook te bowe. Lees bietjie du Preez de Villiers se skrywe verder aan. Sogenaamde intillektuele is maar net persone wat meer woorde gebruik as nodig is om jou te oortuig wat hyself nie van oortuig is nie. Ek kon nie glo dat Piet Croukamp waaragtig vandag op RSG nog probeer om Ramaphosa se manewales te verdedig deur die luisteraars te oortuig dat Ramaphosa nie bedoel het wat hy gesê het dat plaasmoorde niebestaan nie. Liberalisme is erger as n kanker. As hy jou vat dan sal jy met mening bakleie teen jou eie mense

Frik ·

Ondersteun die VF Plus wat ook sterk staan op selfbeskikking en laat ons daai 2 miljoen stemme kry!

Dr Pieter ·

Ongelukkig word die geloofwaardigheid van ‘n andersins baie goeie en sinvolle artikel (hoewel bra eenogig tov Codesa) in twyfel gedompel met die stelling dat Internasionale Reg voorsiening maak vir afstigting sodra 2 miljoen stemme bereik word.
Wat is die bron/gesag van sodanige stelling?
Artikel 235 van die Suid Afrikaanse Grondwet maak wel voorsiening vir selfbeskikking, maar die saak is baie meer kompleks as net die bereiking van 2 miljoen stemme. As dit so maklik was, het ons mos lankal ‘n onafhanklike staat gehad, of hoe?
Gaan kyk maar gerus na die gevalle wêreldwyd waar pogings tot afstigting geslaag of gefaal het.
Ek stem saam ons moet saamstaan en dat elkeen verantwoordelikheid moet neem vir ons toekoms en nie net wag vir iemand anders om dit te doen nie, maar ons moet met die regte feite en opregte doelwitte streef na selfbeskikking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.