Lesersbrief: André die Ruiter & mede-Eskom-Ruiters

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Eskom)

Hooggeagte meneer Die Ruiter & mede-Eskom-Ruiters

Daar is min dinge wat my deesdae buitengewoon opgewonde maak.

Die sonsopkoms oor Simonsberg, ja. Die wingerd wat doublink en woudgroen in die stilte van die oggenduur op aandag staan, wagtend op die dag se wind. Die perde wat ligvoets draf-draf uit die stalle. Lenige lywe. Fier. Die kolganse en hulle kleintjies wat tussen die waterlelies opsoek is na ʼn oggendkossie.

Daarby kan niks kers vashou nie.

Nie die Springbokke of Faf in sy glorieryke broekie nie. Nie Elon Musk met al sy aardse rykdomme nie. Nie Trevor Noah met sy mees gevatte sêgoed nie. Nie Hollywood se beeldskone, nou omstrede, Charlize nie.

Nee wat. Voel ek die dag ʼn bietjie soos Piet Verdriet met ʼn pap battery, saal ek net vir Pronk op. Gee hom vrye teuels op die plaas. Dis ʼn kitskragopwekker! En dis daar op Pronk se rug waar my gedagtes toe mos op loop gaan…

Waar sou die mensdom vandag gewees het, was dit nie vir ruiters nie? Daardie rare spesie wat met die perde kan hardloop. Wat die roeping en die prys verstaan, en te midde daarvan die hand aan die ploeg slaan. Dít maak my buitengewoon opgewonde, want dít is lewe in sy hoogste vorm.

Mag ons elkeen tydens ons beurt krag kry om ʼn ruiter te wees. En moet dit nie met ridder-wees verwar nie. Ridders en ruiters trek nie in dieselfde tuig nie.

Sonder ruiters sou die land inderdaad ʼn stikdonker plek gewees het. Terwyl daar nog lig is, mag ons elkeen kers opsteek by dié wie se lampe brand.

Boland-groete,

Charlie Greeff (skuilnaam)

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Wanneer jou eie soldate muiters ipv ruiters is… Dit is probleem waarmee De Ruyter nou sit. En diegene wat op die draad sit en wieg met hul kersies sal natuurlik moeg raak vir die koue en donker. Jare se chaos word nie in ‘n paar maande reggedokter nie. Wie sal die oorlog verder beter bestuur as die huidige dapperes deur eie vuur afgemaai word. Matashe het dalk blink planne maar hy lewer deur die jare net kritiek met duur planne sonder doen-waarde.

Wakkerslaper ·

Hoe de heng verwag die anti-De Ruyters moet hy dekades se wanbestuur en korrupsie en plunder en agteruitgang in ‘n paar maande regruk? En dit terwyl hy elke dag steeds gesaboteer en geterroriseer word?!

Chris ·

Ek is nie by magte om kommentaar op Escom se bestuur te lewer nie. Ek gaan wel op die kantlyn kritici se aanmerkings reageer. Almal skree raak ontslae van Andre de Ruyter. Goed en wel, met wie gaan hy vervang word. Ek kan verstaan dat daar uit ‘n sekere groep geskree word om van hom ontslae te raak, maar om net te skree raak ontslae van hom is nie baie slim nie. Die rede hoekom Escom is waar dit tans is, is voor die hand liggend maar niemand praat daaroor nie. Die olifant staan die kamer vol, maar niemand sien hom nie. My eerlike kommentaar sal nie geplaas word nie (soos van my vorige kommentare) Ons sit met ‘n uitdaging. Daar is ‘n voor die hand liggende oplossing, baie maklik. Niemand het egter die moed van oortuiging om dit aan te spreek nie. So karring dan maar aan

Manie ·

Mantashe verstaan duidelik nie dat Eskom nie vooruit kan gaan sonder om die kriminele elemente te verwyder nie. Die krag krisis sal nooit opgelos word solank plunderaars toegelaat word om die goeie werk te bly vernietig nie.

pokobruto ·

Sjoe! Die skryfwerk is goed.
Andre de Ruyter en al jou ander ruiters…ek haal my hoed vir julle af en het baie respek vir wat julle doen.
Baie hindernisse wat julle moet oor kom.
Galop voort ruiters.
Ek is baie trots op julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.