Lesersbrief: As ʼn boer se kind die Here kon bel

Mari Hanekom skryf:

Bosveld, gras, plaas, Pilansberg

(Foto: Lezaan Cloete/Maroela Media)

Hemelse Vader, al is die uur laat, moet ek hierdie oproep tot U maak.

Vader, ek het ʼn knop in my keel, want ek sien ʼn plasing op Facebook. My gees is oorweldig. Dit is oor ʼn boer. Hy rus in die skoot van die aarde… ʼn plaasaanval in hul omgewing; hulle noem nie name nie.

Ek is angstig om uit te vind of my ouers veilig is, maar my boodskappe en oproepe gaan nie deur nie. Ek sal U oor vyf minute terugbel.

Dit is weer ek. My ma het geantwoord. Hulle is veilig. As gevolg van beurtkrag kon ek nie deurkom nie en was daar net eenvoudig nie genoeg brandstof vir die kragopwekker nie.

My gesig wys verligting en ewige dankbaarheid vir U genade. Soos in Psalm 34:19 weet ek dat die U naby dié is wat hartseer is. U help die mense wat geestelik stukkend is. U verstaan hoe breekbaar ons mense is – U het ons dan gemaak.

Wanneer ons hierdie seer en al sy afbrekende gedagtes voor U bring, sal ons vrede, troos en liefde ervaar, maar is steeds nog ʼn boer. Hemelse Vader, hoe troos ʼn mens so ʼn gesin? Hoe gaan hul herbou met sulke seer?

Ek weet dat U teenwoordig was tydens die telefoonoproep tussen ek en my ma, toe sy haar kommer uitgespreek het oor die stukkende koelkamer en die finansiële stryd wat hulle in die gesig staar. Sy sê die werkers se betaling kom eerste – hulle het in bloedige hitte gewerk om die oes in te bring, maar sy weet dat U nie een deur toemaak sonder om ʼn ander oop te maak nie. Stuk vir stuk sal hulle deur druk.

Sy was deurgaans deur my lewe die individu wat positiwiteit uitstraal, ʼn sterk en plat-op-die-aarde perspektiefhandhawende en onwrikbaar mens. Sy het optimisties gebly in enige situasie.

Het U gesien die TikTok van die vernietigende haelstorm in hul omgewing is deur almal gedeel? Hael wat lyk soos sneeu, die grootte van gholfballe! Dit het my herinner aan toe ek vyf jaar oud was en my pa gekyk het hoe ʼn storm alles in net vyf minute vernietig het.

Toe ek die oproep na my ma gemaak het, het sy my gerusgestel dat nie ʼn enkele korrel op hul plaas geval het nie. Ek is seker dat dit U welwillende hande was wat soos ʼn groot sambreel hulle op daardie dag beskerm het.

Ek weet ek gesels nou lank, maar ek moet vertel. Here, vandag weet ek U het gesien, my pa se jubelende boodskap op WhatsApp, waar hy groot trots uitgespreek het oor ʼn oorvloedige en pragtige oes van soetrissies. Op die foto kan waargeneem word hul lewendige rooi en geel kleure wat glinster soos kosbare juwele terwyl dit versigtig in kratte geberg word.

Ek weet dat U verenig was met die hande van my ma en my pa in die grond. U was verenig in elke doudruppel wat in die oggendsonlig skitter. U is verenig deur die gebed wat aan U naam gewy is in dankbaarheid.

Alhoewel my woorde dalk lank geword het, kan ek nie vertrek sonder om my uiterste dankbaarheid uit te spreek nie. Dankie, liewe Here, dat U my seën met ʼn moeder wat onwrikbaar aan my pa se sy staan, nederig en gewortel. Die persoon wat ek bewonder, vir my pa die boer, die persoon na wie ek opkyk en dat ek, ʼn boer se kind, U kon bel.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.