Bouwe van der Eems van Milnerton skryf:
Die wysigingswetsontwerp vir basiese onderwys, meer bekend as die Bela-wetsontwerp, word tans deur die parlement oorweeg. As dit onveranderd goedgekeur word, gaan dit die grootste verandering in Suid-Afrikaanse onderwys wees sedert 1996.
Ons huidige onderwysbedeling is gegrond op die Skolewet van 1996. Volgens sy aanhef is hierdie wet ontwerp om ʼn uniforme stelsel van onderwys te vestig. Inderdaad het dit tot ʼn byna uniforme onderwyslandskap gelei. ʼn Donker oseaan van lae standaarde, waaraan internasionale opnames ons gereeld herinner.
Vir toegewyde ouers is daar egter enkele eilande van uitnemendheid wat uitkoms bied uit die oseaan van lae standaarde. Vir welgesteldes bied privaatskole uitkoms. Vir die wat nie so welgesteld is nie, is daar nog enkele goeie openbare skole. Beheerliggame van daardie skole gebruik die reg om toelatings- en taalbeleid te bepaal om kwaliteit te handhaaf en ook die kulturele identiteit van hulle gemeenskappe te bewaar. Tuisonderwys bied uitkoms vir alle ouers, ongeag hulle inkomste. Buite die bedeling van die Skolewet het ook nog ʼn diversiteit van klein sentrums opgeskiet. Hierdie eilande het politici se droom van uniformiteit versteur.
Die Bela-wetsontwerp beoog daarom om hierdie onderwyslandskap radikaal te verander. Politici beweer dat beheerliggame hulle regte misbruik om leerders uit te sluit. Terwyl daar ander middels is om misbruik aan te spreek, word dit as regverdiging gebruik om beheerliggame se regte weg te neem.
Politici beweer dat sommige ouers tuisonderwys as ʼn rookskerm gebruik om kinderverwaarlosing weg te steek. Terwyl die kinderwet meerdere middels bied om dit aan te spreek, word dit as regverdiging gebruik om tuisonderwys te transformeer in onbekostigbare staatsonderwys tuis. So wil politici die eilande van bekostigbare kwaliteit onderwys in die donker oseaan laat verdwyn en slegs onbekostigbare privaatskole vir rykes en kaders toelaat.
Diegene wat ʼn toekoms wil hê vir hulle kinders en kleinkinders moet nie slegs die Bela-wetsontwerp keer nie, maar hulle beywer vir ʼn totaal nuwe onderwysbedeling. ʼn Bedeling wat nie uniformiteit probeer bevorder deur regte weg te neem nie, maar een wat uitnemendheid bevorder deur vryheid te gee. ʼn Bedeling wat ouers bemagtig, in plaas van om ouers te beheer. ʼn Bedeling wat die reg op onderwys bevorder, in plaas van werksekerheid van vakbondlede. ʼn Bedeling wat voorsiening maak vir ʼn diversiteit van onderwysbenaderings en -vorms, in plaas van om alles te probeer omvorm in staatsbeheerde skoolonderwys.
Om dit te bereik moet die burgerlike samelewing en vryheidsliewende politieke partye nie net die Bela-wetsontwerp bestry nie, maar ook werk aan ʼn private wetsontwerp wat ʼn sinvolle alternatief daarvoor kan wees.
Die sukses of hulle afrikaans gaan knak sal afhang van die ouers van die skole wat die finansiële bydra gee ,stop die geld en sien hoe heroorweeg hulle hierdie ondeurdagte agteraf plan.