Lesersbrief: Charlize, ek wens jy kry soos ek ook vrede oor jou herkoms

Elna Potgieter skryf:

Charlize Theron by die Oscars (24 Februarie 2019) (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Hallo Charlize

Ek skryf aan jou in Afrikaans, want alhoewel jy sê dit is ʼn taal wat uitsterf en ʼn taal wat geensins hulpvaardig is nie, weet ek jy verstaan dit baie goed.

Dit is immers die taal waarin jy vir jou ma sê jy is lief vir haar met verjaardagboodskappe op Facebook. Dit is ook die taal wat julle gebruik om oor mense te skinder by lughawens. Onthou – jy het dit gesê in ʼn onderhoud.

In elke ander onderhoud waar jy gevra word om iets in Afrikaans te sê, is al wat jy egter kan onthou kru terme. Hierdie goed spreek boekdele oor jou menswees. Onthou jy die Afrikaanse sê-ding wat lui “Bo blink, onder stink”? Jinne, dit klink of die skoen jou so goed sal pas, maar ek is nie hier om te oordeel nie.

Skop jou spykerhakke uit en sit terug, want ons moet gesels. Hierdie brief is ʼn medelye, ʼn danksegging en ʼn aanmoediging. ʼn Medelye oor jou oikofobie, en ook ʼn aanmoediging om daaraan te werk.

Alhoewel ek in Afrikaans skryf, moet ek eers om verskoning vra. Ek skryf al vir so bykans 15 jaar, maar het dit tot nou nog net in Engels gedoen (jy sal later verstaan hoekom). My woorde is dus nie so blink gepoets soos ʼn Dana Snyman of my eie gunsteling, Antie Koekie, nie.

Ek glo tog dat jy dit steeds sal kan verstaan. Vergewe my maar, dit is my eerste stuk wat ek skryf in Afrikaans ná skool.

Ek val sommer met die deur in die huis en sê vir jou dankie. Dankie dat jy my opnuut laat besef het dat ek my talent om te skryf in my moedertaal moet laat groei!

Skink gou daar ʼn glasie van jou gunsteling-Blaauwklippen-wyn. Jy het immers tydens ʼn 2012-onderhoud met Gilbert & Gaillard gesê dat dit jou gunsteling-wyn is. Ek moet erken, dit mag dalk moeilik wees, want in dieselfde onderhoud het jy gesê dat dit altyd beter is om wyn verniet te kry as om dit self te moet koop. Dalk is die “Vicente Gandia Cava Whatever It takes Charlize Theron” dalk ʼn beter keuse. Jou lewe is immers ʼn rondomtalie van “Whatever it takes, Charlize Theron,” nie waar nie?

Ek kry jou jammer. Jy sien, ek probeer altyd verstaan hoekom mense dinge sê en doen. Vir jou verstaan ek baie goed. Ek verstaan jou goed, want ek was waar jy is. Nee, nee, nie in Hollywood nie. Hygend hert, ek was nog nooit eens uit my geliefde Suid-Afrika nie!

Ek praat van op ʼn sielkundige vlak. Ek praat van jou menswees in die dooie uur – jy weet, daardie laaste 10 minute voor jy aan die slaap raak. Alles is stil en donker om jou, en dit is net jy en jou gedagtes en jou God wat oorbly. Dit wil blyk dat al die jare se sielkundige behandeling jou nog nie vrede kon bring in daardie stille tyd nie, en daarvoor kry ek jou jammer.

Ek verstaan jou goed, want ons paadjies het baie van dieselfde kinkels.

Op 16 is jy hier weg Milaan toe na jou ma in selfverdediging jou pa dood geskiet het. Jy het “ontsnap” uit Benoni om jou drome na te streef. Ek wonder of jy al ooit terug was Benoni toe? Deur die jare het jou beskrywing van die plek verskriklik verander.

Dit was eens ʼn klein dorpie in Suid-Afrika. Op ʼn kol het dit verander na ʼn klein plasie in Afrika. Op ander tye beskryf jy dit as “a rural village where you had to milk cows to make butter”.  Rêrig? Ek kan nie glo Benoni het so gelyk 30 jaar gelede nie?!

Jy het vergeet waar jy vandaan kom en met die jare saam het dit ʼn verwronge beeld geword. Ek verstaan nie hoekom jy moes ontsnap na jou pa se dood nie – hy was dan nie meer daar nie. Ek sou eerder sê jy het ʼn klein dorpie verlaat om jou drome na te jaag. Dit klink mos nou na meer van die waarheid, nie waar nie? Ek wonder of die waarheid vir jou minder sprokiesagtig en heldhaftig klink?

Op 18 het ek self “ontsnap” uit ʼn dorpie in die Vrystaat, dalk so groot soos Benoni, dalk nie. In elk geval, ek het ook “ontsnap” – nie na Milaan of New York nie, maar na die helder liggies van Johannesburg. Niemand ken rêrig die dinge wat jy en jou ma beleef het nie, maar ek en my ma was deur hel op aarde.

Is jy ooit in die hospitaal in geslaan deur jou pa? Het hy onmenslike dinge aan jou gedoen? Ek en my ma het so ʼn man in ons lewe gehad. Dank die Vader dit was nie my pa nie, hy was ʼn dierbare man. Ek het rêrig ontsnap. Ek was oortuig dat ek daar, onder die helder liggies van Johannesburg, my lewe sou kon begin

Hierdie is die punt waar jou huidige probleem inskop. Het een van jou vele sielkundiges deur die jare al ooit met jou gepraat oor oikofobie? Vir jare na ek weg is uit die Vrystaat, het ek dit gehad en dit is my oortuiging dat jy met dieselfde probleem sit.

Oikofobie is die teenoorgestelde van xenofobie – ʼn intense haat vir jou mense en ʼn angs oor waar jy vandaan kom.

Jy sien, na ek weg is in die Vrystaat het ek gesweer dat nie ek of my kinders ooit “Afrikaans” sal wees nie. Ek het ʼn haat gekoester vir enigiets Afrikaans en toe my kind gebore is, het hy ʼn Engelse naam gekry, na ʼn Engelse skool gegaan en ek het nooit met hom Afrikaans gepraat nie. Ek het nooit my haat vir die Afrikaner-volk so openlik gestel nie, maar het dit eerder verbloem onder die voorwendsel dat die “hele wêreld Engels is en ek hom ʼn voorsprong wil gee in die lewe”.

Ek het my kind ontneem van dit waarvoor mense al oorlog toe gegaan het. Ek het my kind ontneem van ʼn skatkis van erfenis, omdat ek aan oikofobie gely het.

In daardie tyd van my lewe kon ek nie onderskei tussen ʼn erfenis wat oor honderde jare strek en die mentaliteit van een man nie.

Vir my was Afrikaans wees sinoniem met vroueslaan en dreigemente. Dit was sinoniem met vrees en angs en weghardloop van die huis af keer op keer. Ek kon nie deur my seer sien dat dit net een nietige mens was en nie ʼn hele kultuur nie.

Ek wil myself verstout om te sê dat dit juis die oikofobie is wat maak dat jy nooit ʼn goeie ding oor Suid-Afrika of Afrikaans te sê het nie.

Besef jy in watter ongelooflike posisie jy jouself bevind? Jy het die mag om ʼn rolmodel te wees vir duisende Suid-Afrikaanse en Afrikaanse dogters, wat droom daarvan om eendag in ʼn rolprent te verskyn. Jy het die mag om werklik ʼn verskil te maak, om dié gesig te wees van die stryd teen die mishandeling van vrouens en kinders in Suid-Afrika.

Jy het die mag om vir derduisende vroue wat nou, vandag, in hierdie oomblik in vrees in hulle huise sit, te wys dat daar wel hoop is. Jou Charlize Theron Africa Outreach doen soveel vir HIV, maar dit verstom my dat jy jou rug draai op die organisasies wat om hulp vra om veilige hawes vir die vroue te skep. Ek weet jy doen, want ek het al probeer.

Met die jare saam, het dit my lewensdoel geword om vroue te help wat in daardie situasie is. Aangesien ek jou storie ken, was ek vas oortuig dat jy sal verstaan. Ek was stomgeslaan met die antwoord wat ek van jou organisasie gekry het.

Ek is bitter dankbaar dat die Vader genesing bring. Ek is oneindig dankbaar vir “groot word”, want in die grootword leer ʼn mens dat een man nie ʼn volk verteenwoordig nie.

Met aanvaarding en groei en genesing leer ʼn mens dat “beef jerkey” nooit biltong kan wees nie. Mosbolletjies en moerkoffie is altyd beter as “scones and tea”. Net in Afrikaans kan ʼn mens sê wêla-ka-pêla. Net in Afrikaans kan een woord ʼn weerpatroon en ʼn waarskuwing wees.

Ek kry jou kinders jammer, want hulle gaan nooit FAK-liedjies sing langs ʼn kampvuur nie. Hulle gaan nooit weet wat dit is om saam met ouma boerebeskuit te bak of volkspele-danse te doen nie.

Jou kinders gaan nooit weet hoe lekker dit is om te langarm op “Boerepompie”, terwyl die meelwolke opgeskop word nie. Ek moes vandag weer my kind om verskoning vra dat ek hom van dit ontneem het.

Die laaste ding Charlize, want ek hoop die heimwee het jou na al ʼn traantjie laat stort in jou Brüt, is ʼn aanmoediging. Vergewe, vergeet en onthou. Vergewe die man vir wat hy ook al gedoen het. Om vas te hou aan al daardie seer en kwaad bring jou nêrens nie. Vergeet van die pyn en onthou die mooi dinge.

Onthou waar jy vandaan kom.

Onthou jou mense.

Onthou jou taal.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

melaney ·

Charlise soek net sensasie. Jou brief is goed geskryf met waarhede, maar dit laat haar tone krul. Sy is nie jou tyd werd nie.

gpsa ·

Ek dink oorsee word dit geswien as ‘n verleentheid as jy Afrikaans praat. Dink internasionaal word ons steeds gesien as die verdrukkers en ontnemers van ander mense se regte. In die tyd wat ek nog jonk genoeg was en probeer het om te emigreer was ek afgeraai om te se ek praat Afrikaans.

Ek se net wat my ervaring was.

Erika ·

Ongelukkig Het Charlize se aanmerking(sonder om te kyk na feite) oor Afrikaans het dit verkeerde aanndag getrek van sekere politieke groepe….wat nie juis ooghare het vir Afrkaans en die minderheids groep nie….. En sulkes Hou juis van ondersteuning in hulle kwaadwillige wraaksugtige agendas…

Samuel ·

Baie goeie brief. Dit is net jammer dat Charlize Theron nooit hierdie brief te siene gaan kry nie.

Kensy ·

C T kon nie kersvas hou by Elon en Trevor nie…. toe doen sy iets wat sy goed geweet het haar weer op die “map” sal sit.

Fading laaik a flower!!

Geurt ·

Ek hoor die pyn in Elsa se brief. As man vra ek verskoning dat dinge aan jou gedoen was. As man sê ek vir jou dat tussen die Afrikaans sprekendes, baie eerbare mans is wat hul vroue hoog dra. As man sal ek jou in gebed opdrae om jou kruis te help verlig. Sterkte oudste!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.