Lesersbrief: Die hartsgedagtes van ʼn pensioenaris

Manetta van Niekerk van Welgelegen skryf:

Foto ter illustrasie (Argieffoto: pixabay)

Ek loop vandag en dink aan die woordjie “pensioenaris” wat ek gister op ʼn vorm moes invul.

En skielik staan dit voor my: 71 jaar! Die verlede is verby, ek het geen roemryke lewe gehad nie en is ook nie altyd seker oor my “legacy” wat ek nalaat nie. Ek dink hoe die afgelope 11 jaar gevlieg het en ek wil vra: “Waarheen is julle?” Stop net ʼn bietjie, dat ek net kan dink en nabetragting hou oor wat alles in my lewe gebeur het.

Maar die lewenswiel gaan nie stilhou nie. Ek sal so in die ry myself moet stop en dink. Dis amper asof ek wil sê: “Nee maar ek wou nog dit en dat gedoen het toe ek 60 geword het!”. Glad nie toe bejaard gevoel nie en kon nie aan myself dink as ʼn bejaarde nie! Nee o aarde! Maar nou, 11 jaar later, lyk die bordjies ʼn bietjie verhang en ek besef ek kan nie die tyd terugdraai nie en ek wil ook nie al sukkel ek nou om al die veranderinge in die wêreld gade te slaan.

Om nie eers te praat van te probeer byhou nie!

Dis dan wat die nostalgie en ʼn amperse weemoed my beetpak as ek dink aan die plaas waar ek ʼn paar jaar van my lewe deurgebring het as klein dogtertjie. Selfonderhoudend met vleis, melk, vrugte van die bome af, druiwe soos wat ek nie in die Kaap nog ooit kon kry nie, groente uit my ma se groentetuin. Ek sien nog die rye en rye ertjies wat aan hulle peule hang…

Wat weet my arme kleinkinders van ertjies aan peule – niks nie, hulle weet net van gevriesde ertjies in ʼn sakkie wat in ʼn winkel gekoop word en met ʼn afleweringsbromponie by die huis afgelewer word.

En as dit voel of daar ʼn swarigheid op my bors kom lê van alles wat verlore gegaan het in ons bestaan en menswees, dan kyk ek weer op na die Kruis op Tybergheuwel. En dan begin ek sê: “Thank You for the Cross” en “Thank You for the Blood of Jesus”.

Dan kom lê daar ʼn gerusstelling in my hart en my oë kyk vorentoe en op na Jesus Christus met ʼn ewige dankbaarheid dat Hy nooit, maar nooit, verander nie. My lewe is geborge in Hom, ek kan skuil by die Rots van die eeue, want Sy graf is leeg.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marie ·

N.a.v die hartsgedagtes van ‘n pensionaris….ai ek is so bly ek is nie die enigste wat so voel (en dink) nie! Ek is 63 en ek voel die tyd gaan net te vinnig verby! Ek het so baie om te doen & te gee vir die lewe! Ek is ook soooo dankbaar vir Jesus; ons Vaste Rots, ons Veilige Vesting, ons Hoop op Wie ons kan staatmaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.