Lesersbrief: Dié jammer-sê kom uit my hart uit

Elize Strydom van Germiston skryf:

(Foto: Verskaf)

Maar nou spring ek na ʼn ander kleur Smartie. Ek wil vandag uit my hart uit kom jammer sê.

Jammer vir al ons oumensies, wat al die jare getrou die weg vir ons gebaan het en met swaarkry en harde werk ons land aan die gang gehou het. Wat nou in ʼn land, waar hulle alles ingesit het, só moet leef en allerhande goed moet aanskou. In vrees en angs moet bid dat hulle môre sien, want hulle lewe beteken vir ander niks.

Jammer oupatjie en oumatjie dat julle daagliks moet aanskou hoe julle handewerk in die grond vertrap word, jammer dat julle kinders julle net weggooi asof julle ʼn sak vuilgoed is, jammer dat julle moet sukkel om blyplek te kry en genoeg geld om van te leef, jammer dat julle blikkies hondekos eet terwyl julle nog kinders het wat ʼn bord koningskos eet elke dag. Boonop kry julle ook nie ordentlike mediese hulp of bejaardepensioen nie. Julle lê nagte om en bid vir julle kinders se welvaart – terwyl jy vandag net ʼn snytjie droë brood kon eet. Ek sê jammer vir al ons oumensies. As ek kon, sou ek julle almal gevat het en die lewe gegee het wat julle verdien.

Nou spring ek na ʼn ander Smartie.

Ek wil jammer sê vir al die kinders wat ʼn pad moet loop van swaarkry, dae sonder kos, dae wat julle na ʼn bakleiery moet luister, dit op julle uitgehaal word omdat daar nie geld is vir drank en sigarette nie, terwyl jou kindermagie net smag na ʼn snytjie brood. Jammer dat julle deur soveel seer, hartseer, pyn en vernedering moet gaan – dat julle moet wegkruip om veilig te wees. Jammer dat daar eers voorsien word vir drank en as daar geld oor is, vir kos. Jammer dat julle kinders moet wakkerlê oor en stres oor waar môre se kos vandaan gaan kom en waarheen julle volgende trek, terwyl julle net kinders is en eintlik moet leef sonder om te stres oor môre en wanneer die pandjieswinkel die laaste goed kom oplaai? Die skaamte as jy by die skool kom, die spot en vernedering, die hartseer as ander kinders ʼn kosblik uithaal en jy loop ʼn ent weg en staar na die wolke – net om nie te sien hoe die ander eet nie.

Volgende Smartie.

Ek wil jammer sê vir ons kinders wat daagliks gemolesteer word. Jammer dat dogtertjies van baie klein af aangetrek word in kort broekies, rompies, rokkies, toppies, en dit al is waaraan hulle gewoond is. Wanneer varke dit op ʼn jong ouderdom misbruik en nog ʼn dogtertjie se lewe hel toe draai. En klein kindertjies, ma en pa hierdie is op julle gemik – jou kind is klein. Julle sit en drink, roep boetie of sussie om gou ʼn slukkie te kom vat. Dan moet die gaste nou sien hoe word die gesiggie getrek, môre is dit drie of vier slukkies. Oor ʼn jaar is dit ʼn bottel. Op 10 of 12 is hulle alkoholiste en kan hulle nie meer funksioneer sonder die drank wat jy hulle so aangemoedig het om te drink om mee te spog voor jou vriende nie.

Dan skryf jy hulle af as gemors, want hulle begin steel om te kan drink. Ma, pa, oom, tannie – jy wat kinders se lewe op ʼn jong ouderdom vernietig het deur molestering, jy wat hulle van kleins af feitlik kaal laat loop het, jy wat so gelag het as hulle ʼn slukkie drank vat – elkeen wat ʼn kind se lewe en toekoms verwoes het deur molestering. Jy gaan voor die Here staan en rekenskap gee. Weet dit vir seker.

Volgende Smartie.

Ek wil jammer sê vir huisvrouens wat elke dag als insit, vroeg tot laat werk, die kinders versorg, die huis skoon hou, kosmaak, wasgoed was – jammer dat julle mans by die werk soveel aandag kry van skaamtelose mannejagters wat niks voel of die man ʼn vrou of kinders het nie. Hulle kom werk in klere wat hulle net sowel kon los, als wys orals, jy het nie eens ʼn verbeelding nodig nie. Hulle gaan uit om mans te vang en te laat val. Huisvroutjie, ek is jammer vir die Delilas daar buite. Jammer dat jy die seer, vernedering en verwerping moet deurgaan. Jammer dat als wat jy doen nie goed genoeg is nie, al sit jy alles in. Jy sit nie soos ʼn spinnekop op ʼn web en wag vir die volgende getroude prooi, net om nog ʼn huis op te breek nie – nog ʼn vrou wat vernietig word, nog kindertjies wat ʼn pa verloor

Als om net nog ʼn nommer op jou lys te skryf, Delila.

Jammer vroutjies vir dit wat julle deurgaan as gevolg van ander se swakheid. Jammer vir die nagte wat jy om huil en vra: “Here waarom? Wat het ek verkeerd gedoen?” Jy het nie. Jy is ʼn ma, ʼn vrou, jy verdien liefde en respek en om gekoester te word.

En vir die Delilas by die werke – dié is vir julle. Weet vandag − so seker as wat die son skyn – daar gaan ʼn dag aanbreek en jy gáán rekenskap gee vir elke man wat jy verlei het in jou skrapse klere, al het hy net in sy gedagtes aan jou gedink en na jou gekyk. Jy gaan rekenskap gee vir elke vrou wat ʼn prys moes betaal omdat jy nie respek het vir jouself of ander nie. Jy gaan betaal vir elke vrou se seerkry – elke traan wat gestort word oor jou, elke traan wat elke kind stort oor sy pa wat hy verloor, elke huis en huwelik wat jy opbreek. Jy gaan vir dit alles betaal.

Laat ek uit dié sak Smarties klim voor ek op nog ʼn kleur beland. Aan my vriende en familie – as julle my ooit nodig kry, ek is daar vir julle. Ek is lief vir julle almal.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Ek lees Elize se brief met gemengde gevoelens. Ek kan myself nie indink aan ander se stryd en swaarkry nie. Daar is baie faktore en omstandighede buite jou beheer wat direk of dalk indirek tot jou swaarkry bydra. Alle mense leef in eiesoortige omstandighede. Die lewe is ‘n tydelike voorreg. Jy het in ‘n mate beheer oor jou omstandighede. Die groot uitdaging is egter, wanneer jy val, bly jy lê of staan jy op. Jy kan jouself uit omstandighede verhef. Jy kan jouself ook van “goeie omstandighede” afgradeer. Die lewe is keuses. Jy het die reg en voorreg om dit te maak. As jy jouself aan verslawing oorgee is dit die keuse wat jyself gemaak het. As jou kind/ouer/man/vrou of lewensmaat drank of dwelms wil gebruik gee hom/haar genoeg. Hulle moet dit net een keer gebruik en genoeg daarvan dat daar nie ‘n tweede keer is nie. Die verslaafde maak dit hel op aarde vir sy/haar naasbestaandes. Niemand het gesê die lewe is maklik nie. Wend jou tot ons Hemelse Vader. Sy arm is nie te kort om te help

De Villiers ·

En wat van Dawids wat ‘n ander man se vrou begeer of net na ‘n dame kyk wat nie sy vrou is nie?

Op die ou einde soek die Dawid and Delila onder ons moeilikheid, nie een is minder of meer skuldig nie.

Nettie ·

Soveel waar woorde. Dinge wat so baie van ons voel of beleef, maar nie aldag kan sê nie, want netnou is dit “offensief” teenoor die persoon.

Ons mag nie meer vinger wys na mense wat huwelike opbreek nie, netnou maak jy sy/haar gevoelens seer.
Ons mag nie meer vinger wys na vrouens wat half-kaal rondloop nie, dan word ons beskuldig van veroordeling.
Ons mag nie ouers kwalik neem wat hul dogtertjies “sexy” laat lyk of hul seuntjies slukkies drank gee of ‘n “trek van die sigaret” gee nie, want ons is mos ook sondaars en “niks beter” nie.

Dis tyd dat waarhede weer gespreek word, soos in hierdie brief. Ons gaan almal voor God staan en elke woord en daad verantwoord.

annie ·

Aangesien die skrywe in Afrikaans is, moet ons Afrikaners intel by die chaos-skeppers. Volgens die Bybel word volke en nasies gestraf vir wat hulle doen en nie doen nie. Ons Afrikaners moet maar ophou om die voorvinger net na ander te draai. Gebeur dit wat nou met ons aan’t gebeur is as gevolg van ons eie sondes of net agv ander se aksies? As ons Hulp wil hê sal ons tot inkeer moet kom en vinger na onsself wys. Dit sluit ons geagte leraars in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.