Lesersbrief: Die vangs van die “Karoo-leeu”

Nadia Mans-Kemp het groot geword in die Karoo. Tans woon sy in Stellenbosch waar sy met woorde en syfers werk. (Foto verskaf)

Nadia Mans-Kemp skryf:

My onlangse besoek aan die Karoo val toevallig saam met die veearts se maandelikse namiddag besoek aan ʼn naburige dorp. Dit is ʼn belangrike gebeurtenis vir alle diereouers in die Karoo, insluitend my ouers. Ons kleintydse werf is gevul met allerhande diere, soos hoenders en ander vlieënde gevogeltes. Daar is ook meer honde as wat jy op een hand kan tel, insluitend ʼn bullmastiff genaamd Pumba. Kinders wat in die 80s groot geword het se helde het ander name gehad as vandag. Vandaar dat ons “Karoo-leeu” na ʼn vlakvark uit The Lion King vernoem is.

Dis nou al ʼn geruime tyd dat my ouers noem dat Pumba sy kop skeef hou en ʼn snaakse knop op sy nek ontwikkel. Pa noem dat dit onmoontlik is om Pumba by die veearts te kry, aangesien hy nie van vang of reis hou nie. Om meer spesifiek te wees, hy weeg 70 kg en wys tande as hy enigsins vermoed iemand wil net na sy seerplek kyk. Die plek op sy nek gaan egter oop en moet met die befaamde pers dieresproei gespuit word. Dit raak dus ʼn bekruipspel om na genoeg aan die “leeu” se den te kom om hom te dokter.

Nadat die kombuis se valerige Novilon-teëls ʼn hele paar moderne pers spatsels bygekry het, word daar besluit die “leeu” sal die veearts móét besoek. Pa het ʼn ysterhok wat groot en sterk genoeg is om hom in te vervoer, maar eers moet hy in die hok kom. Na ʼn hele paar pogings en beloftes van droëwors gemeng met ʼn kragwoord, het Pa hom in die hok. Nou moet die hele werf saamspan om die hok met ysterpale te lig tot op die bakkie. Daarna word die hok met skadunet toegemaak vir die tog na die dorp.

Ek het vinnig geleer dit werk anders by ʼn veearts op die platteland as in die stad. Hierdie dieremamma het al verskeie kere met haar hondebabas in ʼn blou kombersie die stadsveearts besoek om teen ʼn mooi fooi haar kleingoed se tandjies te laat poets. Daar glip jy geruisloos in op jou haaipolvaais, laai jou hondjie af en tel hom weer namiddag op. Jy betaal heelwat vir die vinnige voorreg.

Dit werk nie so in die Karoo nie. Die reëling is dat die dieredokter vanaf ongeveer twee uur die betrokke namiddag by die gholfsaal sal wees. Hy bring alle benodighede en ʼn assistent saam en slaan sy teater op. Jy stuur jou naam en hond se storie vooraf vir die ontvangsdame. Iewers deur die namiddag sal jy dan gehelp word. Op my aandrang was ons dus reeds middagete daar om solank onder die skaduweebome in die ry te val. So begin ons toe die ry met geen ander mens in sig nie. In die bakkie sit ook van my pa-hulle se kleiner honde en wag vir hulle check-ups en inentings. Skuins na twee kom daar ʼn blink mobiele wa (BMW) en ʼn gewone plaasbakkie aangery. Ah, die veearts het gekom. (Ek sou eers later sien die veearts ry die plaasbakkie).

Pa het vooraf gebel en die veearts gewaarsku oor die “leeu” wat op pad is. Hy kom dus eerste na ons bakkie en spuit hom − met moeite − ʼn kalmeermiddel in. Na ʼn hele paar kere se inloer het die “leeu” nog nie kalmeer nie. Hy kry later ʼn tweede spuit. Toe is hy eers kwaai. Niemand mag vir hom kyk nie. Hy lê later, maar knor so tussendeur. Intussen help die veearts en sy vrou verskeie honde, van inentings tot kastrasies. Ons kleiner honde kry ook ʼn beurt.

Die besoek is ʼn openbaring vir my. Niemand is haastig of druk op of in nie. Almal wag rustig hulle beurt af. Met respek vir die dieredokter wat meer as 200 km ry om hulle dierekinders te kom help. Die ry bakkies en karre staan nou om die gholfhuis. Party mense kom laai net pille op of kry hondepille. Ander wag vir prosedures.

Die bullmastiff met die naam Pumba. Die “Karoo-leeu” is na ʼn vlakvark uit “The Lion King” vernoem. (Foto verskaf)

Intussen het my ma agterop die bakkie geklim. Na vier dekades in die Karoo skrik dié vrou nie meer vir ʼn leeu nie. Sy bind toe waarlik – en nie spreekwoordelik nie – sy bek toe met ʼn tou met my pa se hulp. Toe kom probeer die veearts weer. Pumba gaan egter binne oomblikke van slapende hond na brullende “leeu”. Einde ten laaste het die veearts sy nek deur die hok bekyk. Die plek lyk nie vir hom kwaadaardig nie en kan moontlik self afval. Indien Pumba weer die veearts sal moet besoek, sal hy ʼn sterker verdowingsmiddel saambring – seker iets om ʼn wildehond of bosvark mee aan die slaap te maak. Hierdie Karoo-hondjie wat my pa soms “ou groot baba” noem is niemand se speelmaat nie…

Na die stresvolle ekskursie gaan sak ons gedaan op die stoele neer by die plaaslike restaurant. Dit voel soos ʼn oase. Elke paar minute gaan loer een van ons in by die honde. Die straat aan Pumba se kant is egter leeg, die mense stap op die ander sypaadjie. Nadat almal gelaaf is met ʼn pienk melkskommel en bessiegeur G&T het ons nuwe moed. Voor ons die pad aanpak plaas toe, bel ons eers en hoor of die veearts en sy mense nog daar is. Inderdaad! Ons vra waarvoor hulle lus is en lewer ʼn pienk- sowel as sjokolademelkskommel by hulle af.

Uit dankbare Karookind-harte bedank ons die dieredokter en sy vrou. Hulle is steeds net so vriendelik soos vroeër die middag. Dokter verduidelik aan my hulle lewer ʼn diens aan die gemeenskap. Verseker, soos dit hoort, maar nie meer so gehoord soos weleer nie. Dankie dokter en mevrou, julle is die sout van die aarde.

Ns. Pumba is weer “leeu” op sy werf en sy nek is mooi aan die herstel. Wonder wel of hy hom weer sal laat vang vir ʼn trippie dorp toe.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.