Lesersbrief: Die wysheid van goeie koffie, boeke en sjokolade

Sanette Scheepers van Pretoria skryf:

(Foto: Juanita Swart/ Unsplash)

Soms, wanneer ons op die regte oomblik opdaag, spring ʼn vuurvliegie van wysheid vanuit iemand vir ons om te vang en ons eie te maak. Ons sakkies van wyshede voel soms beperk en onvoldoende om die lewe se aanslae te trotseer, en daarom verwelkom ek elkeen.

My ma het twee wyshede tot my sakkie toegevoeg. Eerstens as dit by kos kom, tel jy alles wat jy eet (wat ek glo gerig was op my steeds mollige vierkantige liggaamsvorm) en tweedens spaar ʼn mens nooit maar nooit op goeie kwaliteit koffie nie (selfs al dra jy stukkende onderklere en al is jou koskas leeg).

Wanneer jy sien jou finansies lyk na ʼn dreigende hongersnood, gaan koop jy dadelik met jou laaste geldjie die beste kwaliteit koffie op die rak, want dis belangriker as brood. Ek glo sy het moontlik baie wyshede aan my oorgedra, maar hierdie twee is egter al wat ek onthou en onlosmaaklik deel van my bestaan gemaak het.

Ek neem soms (maar nie altyd nie) in ag dat elke wysheid gebaseer is op iemand se subjektiewe persepsie en wanopvattings en daarom is ons almal se sakkies van wyshede nie noodwendig wys nie.

My eie wyshede sluit in dat ʼn goeie boek kan terugsit waar die lewe vat en die boekman weet nou al ek geniet boeke met diepte en hart. Hy het my nou weer geleer van die noodsaaklikheid van sjokolade as emosionele ondersteuning, wanneer ʼn boek die onderdrukte trane laat uitstroom sodat jy weer kan asem haal.

Wyshede kan net waarde vind as dit toegepas en uitgeleef word en bring soms tydelik oorlewing, verligting en ontvlugting, wanneer jy dit raak vang, toepas en jou eie kan maak.

En so het ek die naweek my Boek, emosionele ondersteuningsjokolades (wat ek sal tel, want dit maak vet) en natuurlik kwaliteit koffie as emosionele ondersteuning om tydelik mee weg te kruip van die gebroke wêreld daar buite, want soms maak iemand se wysheid vir my sin.

Die ander helfte van my hart het deur die jare my wanaangepaste oorgeërfde wyshede saam my begin uitleef, want dis wat liefde doen en wanneer dit swaar gaan weet ons albei: die maand se inkopies gaan moontlik beperk wees tot goeie kwaliteit koffie, elkeen ʼn boek en natuurlik sjokolade – want die siel se behoeftes is onmiskenbaar. Troos moet daar eenvoudig wees vir ʼn bewolkte dag wanneer waansin of wanhoop toeslaan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Lekker gelees aan jou hartsopenbarings, Sanette! Goeie, haalbare raad vir vraagtekendae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.