Lesersbrief: Dis tyd dat ek en jy ʼn verskil maak

boekevat_bosveld_sonsopkoms_ReintDykema_vra-eers-toestemming.jpg

Foto: Reint Dykema

Johan Oosthuizen van Riversdal skryf:

Ek skryf na aanleiding van Mariaan Barnard se onlangse lesersbrief waarin sy wys op die belangrikheid daarvan om in ons wêreld ʼn verskil te maak.

Met die voordeel van terugblik het ek, stoere Afrikaner-nasionalis, tot heelwat ander insigte gekom sonder om skuldig te voel oor foute in die verlede. Alles in ag genome het daar, sonder om noodwendig iets prys te gee, ʼn vernuwing in my denke gekom.

Met die verloop van tyd het ek besef dat ek my veggees moes temper en die realiteit van die politieke verandering moes aanvaar om van ʼn verlore saak weer iets te maak. Die onmoontlike moet weer moontlik gemaak word.

Ek dra al vir jare ʼn hoed met die woorde “BOER IN MURG EN BLOED” daarop uitborduur. Teen die verwagting in, het dit al tot wonderlike, onverwagte gesprekke gelei.

Eendag het ek op Hammanskraal, van alle plekke, in ʼn loodgieterwarewinkel ingestap, waar ek deur ʼn jongman in suiwer Afrikaans verwelkom is. Ek het hom in Siswati bedank dat hy my so vriendelik in Afrikaans verwelkom het. Ons het van meet af dik stukke oor alles en nog wat gesels. Hy het die goed wat ek wou koop in ʼn mandjie na die betaalpunt geneem waar hy my aan sy susters voorgestel het. Ek het verder belangstellend met hulle gesprek gevoer.

Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe die Mama agter ʼn lessenaar ons dophou. Ek het haar in Siswati gegroet en bedank vir vriendelike diens in Afrikaans. Sy het opgestaan en my konfronteer.

“Ek sien jou hoed sê jy is ʼn Boer. Is jy ʼn Boer?” “Ja,” seg ek. “My oupa was ʼn Boer, my pa was ʼn Boer en ek is ʼn Boer.” Jy is dan vriendelik met ons en jy praat ons taal!” het sy verbaas gesê. “Ja,” seg ek, “My pa het my so groot gemaak. Hy het my geleer om teenoor almal respek te betoon.”

Daar was ʼn amper tasbare stilte en toe raak sy iets kwyt wat my deur ʼn nuwe bril laat kyk het. “Vandag het ek baie geleer. Alle Boere is nie sleg nie en al die swart mense is nie goed nie. Die wat goed is, moet bymekaar kom en hande vat en ons land heel maak.”

Baie dekades terug het drie staatsmanne uitsprake gelewer. “Neem wat goed is uit die verlede en bou die toekoms daarop.” “Bring bymekaar die wat by mekaar hoort.” “Skep u eie toekoms.” Min wis hulle dat dit profetiese uitsprake vir 2023 sou wees.

Te midde van die chaos wat tans in ons land toeneem, is daar toenemend landsburgers, oor alle kleurgrense heen, wat ʼn einde aan die chaos bring. Die Mama in Hammanskraal het gesê: “Die wat goed is, moet bymekaar kom en hande vat en ons land heelmaak.

In die buiteland kan ons nie ʼn verskil maak nie. Dis tyd dat ek en jy en ander hande vat om ʼn verskil te maak.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Stem volkome saam maar dan moet gepoog word om iets soos selle te vorm waar ope gesprekke kan plaasvind. Nie die mode van tans waar een met ‘n mikrofoon die praatwerk doen en die massa net luister

Andrew ·

Goed. Nou moet 10 miljoen “ander” net oortuig word om nie ANC of EFF te stem in 2024 nie. “Bring bymekaar die wat by mekaar hoort “, “talk is cheap” soos hulle sê.

Tot daai tyd kom sal ons met Afriforum en Orania , die wat wil bymekaar bring om die verkil te maak. Daar skep hulle reeds n eie toekoms, ten spyte van die choas was geskep word.

Chrisp ·

Indien ‘n mens die nuwe RSA sien as enigste uitweg na 1992 en gestem het daarvoor ,wat soos die geskiedenis dit opteken die meerderheid van die witmense wel gedoen het is die situasie nou net mooi omgedraai waar die meerderheid swartmense die verandering sal moet instem in die demokrasie daar is geen ander uitweg om die land soos hy tans bestaan te verander nie.

In bg le die probleem en oplossing gesien in die RSA soos hy nou daarna uitsien volgens die skrywer en vele ander. Daar moet onthou word dat die rede vir die ANC se afname in stemme le in hul kiesers wat uit protes wegbly en nie soseer vir ander partye stem nie die wat wel hul stem uitbring in ander partye dit grootliks plaas by die EFF en net hierin le die oplossing volgens baie ? Wat is die % van Eff en ANC gesamentlik?

In Afrika word al die oortuiging weggevreet in ‘n oogwink met die eerste populistiese toespraak van ‘n sogenaamde leier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.