Lesersbrief: Dis tyd vir nuwe bloed by US

Albin Bowler skryf uit Bellville:

Universiteit Stellenbosch (Foto: Facebook)

Die Podlitiek van 26 Mei 2023 verwys. Graag lewer ek kommentaar.

Die twee here erken dat hulle min weet van die situasie by die US-konvokasie. Hulle opsomming oor die situasie van Afrikaans is egter baie waar en belangrik.

In Rapport Weekliks van 23 April 2023 skryf Tim du Plessis oor twee sake: “Nefiegate” en Afrikaans by Universiteit Stellenbosch. Die inhoudsverdeling van die artikel is ongeveer 40% oor “Nefiegate” en ongeveer 60% oor die stand van Afrikaans. Ongelukkig word die meer opspraakwekkende opskrif van “Nefiegate” vir die artikel gebruik.

In die deel van die artikel wat oor Afrikaans geskryf word, noem Tim dat prof. Wim nie die persoon is wat Afrikaans nek omgedraai het nie. Hy gee ʼn feitelike oorsig, maar baie mense het waarskynlik nie die deel oor Afrikaans gelees nie.

Adv. Jan Heunis en dr. Leon Schreiber poog om hulle as die beskermers van Afrikaans by US voor te hou. Die geveg tussen konvokasielede het niks met Afrikaans of nepotisme te doen nie, alhoewel Heunis en Schreiber dit so wil kleur. Die geveg gaan oor Heunis en Schreiber se arrogante, baasagtige en onsmaaklike eise dat rektoraatslede moet bedank, sonder om konvokasielede te raadpleeg.

Deur hulle te kleur as die helde, ignoreer hulle belangrike feite:

  • Die ANC-regering probeer al vir etlike jare om Afrikaans as uitsluitingstaal, en gevolglik as diskriminasie en rassisme, uit te beeld.
  • Al die voormalige Afrikaanse universiteite het al die oorgang gemaak.
  • Niemand sal dit waag om Afrikaans terug te bring nie, want so ʼn persoon se motor sal beskadig of uitgebrand word, en moontlik selfs met sy liggaam boet.
  • Tans is byna 55% van alle studente se moedertaal aan US nie Afrikaans nie. Daarvan verstaan die helfte nie Afrikaans nie. Teen 2023 sal meer as 60% ʼn ander moedertaal as Afrikaans hê.
  • De Villiers se termyn verval in 2024. Die kanse dat ʼn blanke persoon weer rektor sal wees, is nul.

Wat doen die leierskap van die US-konvokasie? Help hulle om projekte tot voordeel van die universiteit te inisieer, soos die leierskap van ander Suid-Afrikaanse konvokasies? Ongeveer ʼn honderd jaar gelede het mnr. Jannie Marais byvoorbeeld ʼn groot bedrag geskenk om Afrikaans by US in te stel. Heunis en Schreiber kon lankal konvokasielede inspireer om fondse in te samel om Afrikaanse klasse aanlyn beskikbaar te stel in moeilike vakke of moeilike modules van ander vakke. Die 200 000 plus lede kon jaarliks miljoene rande ingesamel het.

Die meerderheid konvokasielede is hoogs ontevrede met die ondemokratiese optredes en kinderagtige eise van adv. Heunis en dr. Schreiber. Hulle manier van doen, lyk soos sommige arrogante optredes van Malema.

Aangesien Heunis (met bykans twee termyne) en Schreiber die basiese rol van die konvokasie geminag het, is die meerderheid lede se wens: dis tyd vir nuwe bloed!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

De Bok ·

Stellenbosch het geval. Ek is ‘n Stellenbosch alumnus, maar ek sal waarskynlik nie my kinders soontoe stuur as hulle hul studente-jare bereik nie… tensy iets drasties verander.

Republikein in die Wes Kaap ·

As oud student traak dit my nie meer wat daar gebeur nie. Geen plek om op trots te wees nie.

Piet Snot ·

As jy nie vanaand teen die oornamepoging stem nie, het jy nie die reg om te kla nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek kla nie. Ek stel bloot net nie meer belang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.