Lesersbrief: Dit is tyd vir konsentrasie, nie emigrasie nie

Argieffoto (Pixabay)

Marianne Barnard van Durban skryf:

Januarie 2023 – ook alweer amper verby en die ekonomiese en ander doemprofete, uitgediende politiese twis-gevegte, uitmergelende hitte, en natuurlik, Eskom (spare me), is genoeg om my tenk ook half vol te laat. Nes die Nieu-Seelandse premier wat onlangs bedank het.

Tog, raak ek skielik weer hoopvol, te danke aan al die pragtige jongmense van ons land. Suid-Afrika is vol slimkoppe met wonderlike prestasies wat my hart warm laat klop! Geluk aan iedereen.

Ons ouer garde kan gerus by hierdie jongmense leer. Drome, hoë verwagtinge en ʼn positiewe lewensuitkyk het hulle beslis, ten spyte van dieselfde uitdagings wat ons almal in die gesig staar.

Hulle het nie tou opgegooi nie. Inteendeel, hulle bly fokus op wat belangrik is, werk hard en doelgerig, maak soms opofferings, pas dissipline toe en hou bloot aan om uiteindelik die vrugte te pluk.

Dis presies wat ons almal in hierdie land weer moet doen. Natuurlik gaan dit iets kos van onsself, maar ons het nie ʼn keuse nie.

Daar moet veel eerder minder gepraat word en meer koppe bymekaar gesit word om saam oplossings en positiewe resultate te vind sonder enige verskonings. Onbevoegdheid en uitgediende doellose handelinge moet geensins meer geduld word nie.

Dis tyd vir die sterk leiers in die samelewing om op te staan en leisels vas te vat om die pas aan te gee. Wanneer almal in Suid-Afrika, veral op grondvlak, in dieselfde rigting doelgerig begin kyk met dieselfde kleurblinde brille op, sal die wiel begin draai en positiewe resultate aan die orde van die dag wees.

Die mense van Suid-Afrika soek na ʼn leier wat die land en al 60 miljoen mense na eenheid, vrede en vooruitgang kan lei. Vergeet van verdeling saai – die ou dae, laer trek, emigrasie en semigrasie. Dis nou tyd vir konsentrasie!

“Elke persoon beskik oor die buitengewone vermoë om deur goedheid en deernis die lewens van andere aan te raak en ʼn positiewe verskil te maak. Dit is twee noodsaaklike eienskappe van ʼn gemeenskap wat die fondament vorm van ʼn samelewing en waarop gebou moet word.” ʼn Vryvertaling van Koning Charles III se woorde.

Die eerste verandering begin by jou, my en elke Suid Afrikaanse burger – ons menswees, om te begin anders dink, voel en doen. Ongelukkig is daar by sommiges jarelange denke en harte wat bitter erg besoedel is.

Ons mag nie toelaat dat ons mooi land verinneweer of vernietig word nie. Ons skuld dit aan ons nageslag. Hierdie kinders het nie verniet hard gewerk om nou hul prestasies en drome te verloor nie. Die jeug van Suid-Afrika is ons trots en toekoms. Kom ons fokus, sit skouer aan die wiel en pluk saam die vrugte!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kragaap ·

Ongelukkig is die ergste nog aan die kom, en ongelukkig is ek meer van ‘n realis as ‘n optimis. Al vanaf 1994 hoor ons by die optimiste “moet nie so negatief wees nie” …….wel verduidelik EEN sukses van SA (ek praat nie van sportprestasies nie) wat die kwaliteit van lewe vir SA’nrs verbeter het tydens die ANC se beheer van die land. Pragtige jong, optimistiese slimkoppe wat matriek deurgekom het met 30% …..? Dink dit gaan bietjie meer vat as dit. Net my opinie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is net nog ‘n Afrikaland. Niks spesiaal nie.

Frank ·

Net ‘n stiksiene kan dink dat mense emigreer “oor die ou dae” en ek dink jy rig jou skrywe aan die verkeerde groep , so asof jy vir “alewig meer moet opoffer jantjie” probeer predik wat HY nog moet opoffer of doen sodat hy nie deur die veel groter groep wat maak wat hulle wil geboelie word nie.

gatgogga ·

Die skrywer van hierdie artikel vra dat ons tog iets positiefs probeer doen, om reg te maak wat ons saam met de Klerk verbrou het. En kyk net watse reaksie kry die skrywer. Dit vertel jou wat van ons nasie geword het. Pateties.

kragaap ·

Daar is nie veel oor om te doen nie. Net nog ‘n gefaalde Afrika land wat alreeds in 1994 voorspel is.

quartus ·

Verskoon my, maar ek het niks verkeerd gedoen nie. Maar ek weet van miljoene ander in die land wat BAIE verkeerde dinge doen. Eeen van hulle se van begin met n Z

Danie ·

Liewe skrywer. Na verwysing na die slimkoppe met hul merwaardige graad 12 prestasies. Soos u noem, het van hulle werklik merwaardig presteer en ek haal my hoed af vir hul harde werk. Ek wil egter ook byvoeg dat daar baie van hierdie studente is wat besef het hoe belangerik dit is om sulke punte te behaal SODAT HUL BEURSE KAN VERSEKER OM IN DIE BUITELAND TE GAAN STUDEER! Meeste van hulle, glo ek, het lankal ook besef dat hier nie n vreeslike merkwaardige toekoms vir hul voorle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.