Veronica Classen skryf in antwoord op Hendri Schutte se brief, “Ek is maar net ʼn onderwyser”:
Ek is maar net ʼn ouer. Ek staan maar teen 3:30 op sodat ek net ʼn oomblik op my knieë kan deurbring voor ʼn warrelwind-dag.
Ek is maar net ʼn ouer. Ek maak ontbyt en pak kosblikke, stryk gou ʼn hemp of broek terwyl ek probeer om ten minste net een slukkie Milo te drink voor die wiele moet rol.
Ek is maar net ʼn ouer. Laerskool en hoërskool toe voor die klokke, 10 minute uit mekaar, die begin van my harteliefies se skooldag aankondig.
Ek is maar net ʼn ouer. Vinnige soentjies en drukkies en ʼn lekker dag toewens vir die hoërskoolseun wat nie voor pêlle wil wys dat sy ma steeds eintlik sy beste vriend is nie.
Ek is maar net ʼn ouer. Middagtyd weer ʼn gejaag om harteliefies by die skole op te tel, nou begin sport en kultuur.
Ek is maar net ʼn ouer, ek wag en ondersteun. Ek is maar net ʼn ouer wat ʼn eina van ʼn onderwyser se opmerking of gebrek aan ondersteuning moet pleister.
Ek is maar net ʼn ouer wat ʼn afgebreekte gemoed − oor hulle nie die beste, vinnigste en oulikste is nie − moet optel en heelmaak.
Ek ken my kind, want ek is die ouer. Ek weet wanneer hulle moeg, bang, gefrustreerd, gelukkig of hartseer is. Ek is die ouer en het geen vakansies en af tye nie en my werk, dit hou nooit op nie.
So ja, ek is die ouer en ek is hartstogtelik lief daarvoor.
Elkeen maak keuses. Hoe jy reageer op jou ervarings, dit is die geheim.
Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus later weer!
Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.
3 Kommentare
Jy sal my nou nie glo nie maar meeste onderwysers is ook ouers…