Lesersbrief: Ek is ʼn boeremeisie, en ek kom terug SA toe

Mari Ferreira skryf:

Mari Ferreira.

Toe ek ‘n jaar terug besluit het om Amerika toe te kom, het ek dit gedoen omdat ek nog altyd wou boer. Ek het as ‘n ware boeremeisie grootgeword op ‘n plaas tussen Pretoria en Brits. Op skool het ek het hard gewerk vir goeie punte en op Sondae het ek kerk toe gegaan en daarna gerus.

My pa, Lukas Ferreira, het my van die lewe geleer. Hoe om draad te span, hoe om te werk, te wees en ook hoe om ander met respek en waardigheid te hanteer. Danksy hom kan ek vandag met trots sê dat ek ‘n volwassene met waardes, deursettingsvermoë en geloof is.

Ek het in 2016 by die Pretoria FM-span aangesluit, nadat ek ‘n beurs, met die hulp van AfriForum, Pretoria FM en Solidariteit gewen het. Ek het my BCom-graad in ondernemingsbestuur deur Akademia in 2019 voltooi en toe reeds voltyds by Pretoria FM gewerk onder leiding van Hennie Koortzen. Ek sal altyd dankbaar wees vir diegene wat my ondersteun, gelei en beskerm het. Danksy hierdie instansies kon ek leer, werk en presteer.

Toe ek in 2019 die geleentheid gekry het om te boer, was ek oorweldig en vreeslik opgewonde. Ek kon uiteindelik lande bewerk, plant, stroop en deel wees van God se natuur. Ek het die geleentheid dadelik aangegryp, my tasse gepak en Amerika toe gekom!

Daar is egter ‘n spreekwoord wat sê: “Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie”. Ek kan daarvan getuig, maar ek sal die ervaring en lesse wat ek in Amerika geleer het, nooit vergeet of vir enige iets verruil nie.

In Amerika het ek nie net geleer hoe om te boer nie, maar ek het ook baie vinnig grootgeword en belangrike lewenslesse geleer. Ek het geleer wat dit beteken om 15 000 km van my familie en vriende af weg te wees. Ek het geleer wat dit beteken om nie meer Afrikaans te praat nie, om nie meer my kultuur te kan uitleef nie en om nie meer daar te kan wees wanneer dit nodig is nie. Ek het mense verloor en kon nie daar wees vir begrafnisse, verjaarsdae en troues nie. Selfs God het ver gevoel, maar vandag is ek nóg nader aan my Hemelse Vader as ooit vantevore.

In Amerika het ek geleer hoe om regtig te werk. My hande is stukkend en my vel is bruin gebrand van die son, ek het bloukolle en gekneusde bene. Ek het die jaar om gebid en elke oomblik gewens dat ek in Suid-Afrika was.

Ek mis my land, my familie, my taal en my kultuur. Ek mis die klein dinge, soos ‘n ordentlike koppie koffie, Toyota Land Cruisers, om by Wollies-diereskuiling ‘n draai te maak en lekker boeremusiek.

My hart bloei vir Suid-Afrika en ek voel skuldig en soos ‘n verraaier omdat ek nie daar is nie. Ek het politieke- en ander nuusgebeure op Maroela Media en sosiale media platforms dopgehou en ‘n groter belangstelling vir die gebeure in SA ontwikkel. Ek wou in Senekal wees, ek wil saam met AfriForum, Pretoria FM en ander instansies veg vir dit waarin ek glo. Ek is ‘n boeremeisie en wil ander boere help. Ek wil my passie uitleef en ‘n verskil maak saam met ander wat in óns toekoms glo. Daarom het ek besluit om terug te keer Suid-Afrika toe. 

Ek wil die onbekende aanpak en probeer om ‘n verskil te maak. Dit is stresvol, maar my hart is vol hoop en geloof. Ek is hardwerkend, doelgerig en meer gefokus as ooit tevore. Ek het volwasse geword, lewenservaring opgedoen en waardering gekry vir soveel meer. Ek staan sterk in my geloof en vertrou dat die Here vir my deure sal oopmaak.

Ek kan nie wag om terug te gaan nie, ek kan nie wag om iemand in Afrikaans te groet of om weer egte Suid-Afrikaanse produkte te gebruik nie. Ek kan nie wag om my passie uit te leef en om werklik ‘n verskil te maak nie. Ek gaan terug huis toe, na my land toe waar ek my vlag kan waai en my sade saai.

  • Mari Ferreira is ʼn Suid-Afrikaner wat die afgelope jaar in die VSA gewerk en verskeie posisies beklee het, van ʼn kinderoppasser en huishoudster tot handearbeider op ʼn plaas.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kirst ·

Welkom terug meisie. Met jongmense soos jy kan ek glo in ‘n beter toekoms vir SA.

Trotse Boervrou ·

Mari, hierdie is die mooiste berig wat ek nog gelees het in ‘n lang tyd. Pragtig. Dit laat ons net nog trotser voel om ‘n boer te wees. Jy laat baie harte sterker klop vandag. Ek hoop daar is nog baie ander wat soos jy voel en terugkeer. Ons het elke liewe een nodig. Dink net wat ons kan vermag indien ALMAL terugkeer. Sterkte en mag jou plaaspad en voetpad net seëninge inhou vorentoe.

J ·

‘n boere gees lê dieper as jou vel!

dis in jou hart, lewer, niere en verstand!

viva die boeregees!

Jaco ·

Om nie Afrikaans te praat nie en om nie jou kultuur uit te leef nie, is bittere klein opofferings in vergelyking met wat jy in SA gaan kry:
Beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Swak onderwys waar leerders onderwysers mag aanrand
Regstellende aksie
Plaasaanvalle
Plaasmoorde
Net ‘n algemene anti-wit houding van die owerhede
ASSEBLIEF Juffrou, dink BAIE MOOI of jy regtig wil terugkom.

Frank ·

Mari, ons het “manne” soos jy hier in ons land nodig, meer as ooit tevore. Mense met hoop in hulle harte en ‘n wil om dinge ten beste vir Afrikaners te laat werk.
Verder, hiers ‘n man in SA wat graag met jou sal wil plekke ruil. Sy naam is Jaco. Hy wil graag daar in die VSA die BLM se snert, protes geweld asook sommer die algemene linkse totale aanslag op konserwatiewe normes en waardes gaan ervaar.

katerinadiekat ·

Daar is miljoene der miljoene konserwatiewes in Amerika. Ten minste die helfte vd bevolking, miskien meer. BLM en Antifa se nonsens is in die linksgesinde stede te vind, glo my, hulle sal hul rieme styf loop op ander plekke. Die mense buite die stede se hande jeuk vir hulle.

Sarel ·

Ons het die Jeug nodig en u is elke mens se respek waardig. Welkom en glo u Ouers kan reg trots wees op u. Kom wys bietjie die jong mannetjies hoe om te werk en te boer

Pio ·

My kinders en kleinkinders is almal in Nieu Seeland. Dankie Vader hulle is ontslae van die gemors in hierdie land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.