Lesersbrief: Erosie ook al in die regbank

Adamus Stemmet van Durbanville skryf:

ʼn Vriend sê die anderdag dat dit vervelig geword het as mense telkens kerm oor alles in die land wat in duie gestort het of op pad is daarheen.

Die lys is ook te lank en dit is makliker om die paar te noem wat nog werk. Hy noem dan, onder andere, die parlement en howe wat nog goed funksioneer.

Wat die parlement betref het die vriend natuurlik nie geweet dat sekere instansies deesdae gemaklik daarin slaag om die parlement se oorsigfunksie te systap én daarmee weg te kom nie. Om slegs twee voorbeelde te noem:

Op 19 Februarie 2020 ontduik die voorsitter en hoofuitvoerende beampte van die staatsdienspensioenfonds voor die staande komitee oor finansies suksesvol 74 vrae deur lede van die komitee. Sommige vrae het oor moontlike ernstige misdadige transaksies van miljoene rande gegaan. Die antwoorde is nog uitstaande.

Op 14 Junie 2022 toe die openbare beleggingskorporasie aan ʼn parlementêre komitee verslag doen, verswyg hulle ʼn diefstal van R 150 miljoen – weereens van geld wat aan die staatsdienspensioenfonds behoort. Niks gebeur nie.

Ons weet dat die regstelsel ernstige probleme ondervind en dat dit soms jare neem om strafsake af te handel. Ons glo egter dat die probleem nie by die howe lê nie, maar eerder by swak ondersoekwerk. Die stelsel wat jarelange vertragings toelaat (soos in die geval van oudpresident Jacob Zuma) kry en verdien ook skuld.

Vir baie van ons bly die howe egter bakens van hoop. Ongelukkig het die erosie ook by die howe begin intree.

Ons lees van ʼn jarelange gesukkel om teen ʼn regterpresident op te tree en hom uit sy amp te onthef. Selfs die stelsel om dit te doen, is gebrekkig. Toe kom nuus van seksuele klagtes teen ʼn ander regterpresident. Pas word verneem dat ʼn ander regter voor die hof moet verskyn as gevolg van beweerde misdadige optrede deur hom in verband met die beweerde misdadige hantering van ʼn eis teen die padongeluksfonds wat hy voor sy aanstelling as regter as prokureur hanteer het.

Wat ons nou bitter nodig het, is ʼn onkreukbare regbank met onkreukbare bekleërs van die amp van regter en landdros. Die vraag is of so iets moontlik is met die huidige stelsel waarvolgens regters aangestel word en politici, wat meer bekend is vir die ontwrigting van die parlement as vir hul kennis van die reg, groot seggenskap het.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Die lys van onbevoegde en polities gemotiveerde uitspake deur regters en landroste is al so lank.As iemand dalk ‘n boek wil skryf daaroor ??

Fluisterwind ·

Die regbank is niksseggend KYK NET NA DIE ZONDO verslag! Niks gaan gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.