Lesersbrief: Gee asseblief tog net vir die orreliste Kersdag-krag!

Isabel Kruger by haar geliefde orrel (Foto: Verskaf)

Isabel Kruger van Heilbron skryf namens die orreliste:

Versoek van al die orreliste aan mnr. André de Ruyter.

Mnr. de Ruyter ek wou nou die brief begin deur te sê: “Goeiedag”. Maar met almal wat u op hierdie stadium heeldag met byvoeglike naamwoorde toegooi, sal ek maar net begin met “Hallo meneer”.

Jy ken my nou van geen kant nie, en jy sal heel moontlik ook nooit. Ek is die orreliste in ʼn gemeente in Kroonstad met ʼn pragtige 3-manuaal-orrel. (Ek weet nou nie of u enigiets van kerkorrels af weet nie, maar sommige van ons is fanaties oor hierdie orrels!)

Nou wonder jy seker wat dit nou met jou te doen het? Moenie bekommerd wees nie, ek gaan gou tot my punt kom.

In Suid-Afrika is daar nog duisende mense wat Sondae daarvan hou om kerk toe te gaan. Ons weet dat daar “beurtkrag” is. Dit het gemaak dat baie van ons orreliste ook ons vingers op die klaviere meer begin gebruik. Dankie daarvoor ook.

Ons het heelwat ou klasieke werke gaan afstof vir Sondae se diens. Die gemeente geniet dit geweldig baie, en omdat hul dit so lanklaas gehoor het, word ons almal vergewe vir die foute wat dalk insluip. Weet egter dat ons almal weer ons klaviere waardeer. Nie dat ons dit agterweë gelaat het nie, maar daar kom darem niks by ʼn kerkorrel nie.

Met 3 000 pype blaas jy elke stofkorrel uit die mense se ore. En moet ook nie vergeet dat die gemeente dan sommer harder en uit volle bors sing nie, want jy weet meneer, ons Suid Afrikaners hou van sing.

My rede vir die skrywe aan jou is die volgende. Ons het net een Kersdag in 365 dae (ek het amper vergeet van die ¼ dag).

Wil u nie asseblief op Kersdag vir elke gemeente die geleentheid gee om Kersoggend dit uit volle bors te doen met orrelnote wat oor Suid-Afrika dawer nie?

Elke orrelis in die land het ʼn spesiale program of item vir Kersoggend. “Lofsing die Heer” met ʼn oorgang na “Kom buig in aanbidding” en ʼn lekker huppel in die sang met “Herders op die ope velde” (en ek sien sommer in my geestesoog hoe die skape oor die velde huppel).

Ons sluit êrens in die program “Stille Nag” in met fluite en trompet, en moenie vergeet van die saxofoon nie. Die klokke beier en elke mens kry ʼn knop in sy keel wanneer die orrelpype die blye boodskap oor die klankgolwe laat jubel met die begin van “Somerkersfees”.

Ons kan geen beplanning doen nie, want soos u weet mnr. de Ruyter – Eskom verander soos die weer. En hier is die donderslae ook van pas!

Namens elke orrelis in hierdie land, Suid-Afrika, rig ons hierdie versoek – geen beurtkrag die 25ste Desember 2022 tot en met 12:00 nie. Dit sal elke orrelis en gemeente die vreugde van Kerstyd kan laat uitsing en jubel, met orreltone wat die blydskap saam uitsing dat die Christuskind gebore is.

“Gee vir ons ʼn helder Somerkersfees in hierdie land O Heer.”

Mag hierdie feestyd ook vir u tot seën wees.

By voorbaat dankie vir die krag wat aan sal wees op Kersdag!

Kersgroete (eintlik moet ek sê Kraggroete, anders word dit verkeerd gelees),

Isabel Kruger – orreliste, Kroonstad.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.