Lesersbrief: Hoe gemaak met dissipline as jou hande afgekap is?

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Geagte Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeder (SARO)

Ek lees aandagtig die artikel rakende die ligte straf wat onderwysers kry as hulle kinders slaan. Onmiddellik is ek ontsteld.

Julle noem dit aanranding. Dis rof. Dit laat onderwysers klink soos monsters. Julle het duidelik geen simpatie nie. Ook geen empatie nie. Ek kan dit eintlik verstaan. Wag laat ek verduidelik.

Hierdie twee kollegas van ons (almal in die professie van onderwys is kollegas) het kinders geslaan. Klink vir my die bloed het gespat! Dis heel moontlik die waarheid, anders sou hulle nie skuldig gewees het nie. En glo vir my dat ek en die meerderheid van ons nie hierdie gedrag goedkeur nie. Daar is geen verskoning wat hierdie gedrag kan goedkeur nie, maar…

As u en ouers nie vir ten minste ʼn dag ons skoene gedra het nie, moet eerder nie klippe gooi nie. Elke dag word ons uitgejou, getart, gevloek, met disrespek behandel. Ons kan mooi praat. Ons kan die ouers laat kom om oor swak gedrag te praat. Ons kan soebat. Smeek. Preek. Noem maar op. Ons hande is afgekap.

Die stelsel het ons gefaal. U het ons gefaal. Kinders word aangemoedig om aanspraak te maak op hulle regte. En die verantwoordelikhede? Reg op veiligheid? Verskoon my as ek effe onsimpatiek is met u stelling. Die kinders se veiligheid of die onderwysers se veiligheid? Ja, ja ek weet – albei se veiligheid.

Hoe kan ek my klas beskerm as ek self geen beskerming geniet nie? Hoe kan ek my ouers ondersteun as kinders hulle regte misbruik? Hoe kan ek opstaan vir wat reg is as kinders gemotiveer word om verkeerd te doen?

Het u enige idee wat presies dit behels om elke dag jou passie te leef in vrees? Het u enige idee wat dit behels om die vloeke en skelle te berispe sonder om kop te verloor? Dis hier waar kollegas alle logiese denke verloor. En soms neem woede oor.

Jy moet mooi trap met wat by jou mond uitkom. Jou selfbeheersing om nie met ʼn kind aggressief te word nie, is uit ʼn ander wêreld. Om te verstaan wat ek vir u sê, is empatie. Die begrip vir die situasie.

Die meerderheid van onderwysers in ons empatielose land is nie skuldig aan hierdie geweld in ʼn geweldige onveilige omgewing nie. Ons probeer elke dag harder. En môre nog harder. Ten spyte van disrespek. En natuurlik het ouers geen skuld aan hierdie situasie nie. Hulle maak mos net die kinders groot tot hul skoolgaande is. Daarna is dit die skool se probleem.

Dalk moet die hele samelewing hand in eie boesem steek en vrae begin antwoord. Oplossings begin soek vir kernprobleme. Hulp begin aanbied.

Vandag salueer ek elke eerbare opvoeder. Elkeen wat sy beste en nog meer gee. Ongeag die omstandighede. Elkeen wat elke dag sy tong raak byt net om selfbeheers te wees. Die wat nie daar staan nie sal nooit verstaan nie.

Die wat oordeel en klippe gooi is dalk ouers in glashuisies. Wie sal ooit weet. En wat die regte aanbetref. Ons het ook regte. Gebruik soos nodig. Loop verby die geweld. Moenie skaam wees om op te staan nie. Ons het mos ook regte?

Of hoe geagte SARO?

Vriendelike groete,

ʼn Empatiese onderwyser

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Harley Davidson ·

Die onderwysers moet saamstaan privaat skole stig met reëls en regulasies waarby gehou moet word waar die leerder wat hom skuldig maak uitgeskop word en by daardie skole moet ‘n eerste wêreld standaard gevolg word soos die Cambridge sisteem.Ek stel voor by die skole moet moedertaal onderrig met engels as tweede taal gehandhaaf word en Lezufi moet toegang tot die skole verbied word.

kaplyn ·

Ek dink nie die onderwysers moet privaatskole stig nie, die ouers moet privaatskole stig. Ons as ouers het verskeie Christelike Volkseie Skole (CVO) gestig en die ouers en onderwysers het nie belanggestel nie, want die CVO skole was nie onmiddelik vooruitstrewende sportskole nie. Die ouers het eerder sport verafgod en hulle kinders in vooruitstrewende sportskole gehou. Vir ons as ouers van CVO skole is die balans tussen akademie en sport belangrik, maar die heel belangrikste was die Christelike en Volkseie lewensuitkyk. Ek reken ons het by verre in ons doel geslaag. Ek is nie meer ‘n CVO ouer nie, want my kinders het al almal grade behaal en leef in die buiteland waar hulle en die kleinkinders uitstekend aangaan – vry van die rasmal SA wat ons ken. En ek en my vrou kan nie wag nie om die laaste stof van die land van ons voete af te skud nie. Dit lyk my dat dit so binne ‘n jaar die geval gaan wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Duidelik het die realiteite lank terug reeds by jou ingesink, kaplyn.

Marianna ·

Ek dink die tyd van openbare skole is aan die sterf. Meer en meer jongmense verlaat die professie en die ouer geslag kan nie wag vir hulle aftrede nie.

Antie Sarie ·

Almal wat so roep na privaat skole? Hoe gaan die gemiddelde man op straat dit bekostig. ‘n Begin retail salaris is ongeveer R15000 tot R20000 pm. Meeste werk in retail. Skoolfonds by bv ‘n bekende privaat skool in Centurion is R15000 PER LEERLING. Wie kan wiskunde doen?

Antie Sarie ·

Dan is hul maar net nog n staat skool. Privaat skole is n besigheid wat moet wins maak.

Nici ·

Dis jammer die lat is verbode. Dit het gewerk vir uiterste gevalle.

ENFM ·

Vroeër, het die hele gemeenskap bygedra tot kinders se opvoeding.
My mond hang deesdae oop vir wat ek sien en hoor en om in ‘n onderwyser se skoene te staan, moet jy hare op jou tande hê.
Kinders (en grootmense) tree op na aanleiding van die voorbeeld wat hulle sien.. Waar kry hulle die voorbeeld?

Ann ·

Ek het deur skool gegaan met straf. Ja, lyfstraf. Ek het boggerôl oorgekom daarvan, en my ma het ons gereeld getug. Dit was niè mishandeling nie. Inteendeel, dit het ons nèt goed gedoen. Hierdie nuwe wet dat kinders nie getug màg word nie, is die grootste onsin wat ek nog gehoor het. Dissipline begin by die huis. As jy as ouer te sleg (of te bang) is om jou kind reg op te voed, kan jy maar weet dat daardie kind geen respek vir ouer mense sal hê nie.

Norries ·

Ek werk by n privaart skool en ons pas reëls streng toe met behulp van ons Gedragskode en uniform reëls. Hulle pas of aan en volg die reëls of hulle soek n ander skool. So maklik soos dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.