Lesersbrief: Liewe Charlize, jy skuld ons ‘n regstelling

Rudi Swanepoel skryf:

Charlize Theron (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto)

Liewe Charlize

Dit lyk of dit baie goed gaan met jou daar in die grote VSA.

Ons is mos nou al lankal ontsettend trots op jou, genade! Kyk wat het jy al bereik! Die wêreld weet boonop jy is eintlik ʼn Suid-Afrikaner; jy is ʼn uitsonderlike ambassadeur vir ons kosbare land. Jy is sterk, bekwaam en net geheel en al lieflik.

Maar ek dink (en dis my beskeie mening, en jy weet nie eers wie ek is nie) jy het ʼn foutjie begaan. Maar moenie komkommer nie, ek skryf nie vir jou om jou in te lig dat ek jou nou cancel nie. Daai is nou een moderne ding wat ons nie vorentoe vat nie, inteendeel.

Ieder geval. Terug by die klein foutjie.

Afrikaans is ver van dood af. Afrikaans is ook nie siek of sterwend nie. En sy/ haar/ hulle lewenskragtigheid is van só ʼn aard dat die 6,885 miljoen van ons wat vandag Afrikaans gaan praat daagliks die skoonheid, die passie, die kleur, die soepelheid en die karakter van ons taal geniet.

Moenie my verkeerd verstaan nie: as ek jou vertel dat Afrikaans nie siek of sterwend is nie, bedoel ek nie dat dit nie letsels het nie. Ons taal is ʼn komplekse moeder, ʼn vervaarde vader en (soms) ʼn stout kind. Ons taal kan warm wees en koud, hy kan streel en snou, sy kan nadertrek en afstoot, hulle kan baie praat of min.

En hy het al uitgesluit en seergemaak.

Maar leef, leef ons.

Dis so half jammer dat dit lyk asof jy nie weet van ons kunstefeeste en ons verhoë nie. Ek sou jou wou vertel van ons boeke, liedjies, toneelstukke en TV-reekse. (So gepraat van laasgenoemde: het jy al Nêrens, Noord-Kaap gekyk? Ek belowe jou: jy sal aan die einde van elke verdomde episode jou oë uithuil en jou verwonder aan die strakke skoonheid van die Groot Karoo, die brute krag van watermassas; jy sal ween as jy die binnekant van ʼn Afrikaanse kerk aanskou en sien hoe elegant ʼn mens in Afrikaans kan vloek, effens meer só as in die meeste Amerikaanse reekse en films.)

En dan praat ek nie eers van raad- en skoolsale waar ons vlugvoetig beweeg tussen ʼn spul Suid-Afrikaanse tale en waar vriend en vyand jou soms verras met ʼn Afrikaanse woordjie of frase – alles uiters behulpsaam, kleurvol, prettig en moer snaaks.

Charlize, laat ek dit probeer saamvat, en hoor asseblief my hart.

Ek dink jy skuld jou volgelinge, jou vriende en vir ons (jou fans) ʼn regstelling. Dit sal wónderlik wees as dit publiek kan wees, soos jou onlangse podsending.

Sal jy asseblief vir die wêreld sê dat daar nie net 44 mense oor is wat nog Afrikaans praat nie?

Sal jy vertel dat Afrikaans nie in die hospitaal is nie, maar dat Afrikaans ʼn vol lewe leef?

Sal jy dit uitbasuin dat ons lees en skep en vry en lag en huil en selfs stil is in Afrikaans?

Sal jy onthou en vertel hoe ons ʼn selfstandige taal (weliswaar uit ander tale, maar dis tog nie abnormaal om voorouers te hê nie, of hoe?) geword het?

Dalk is dit te veel gevra dat jy sal sê dat Afrikaans ʼn toekoms het, want daai weet niemand nie.

Maar vir nou, is Afrikaans nie dood nie. Wil jy ons nie help om hiérdie waarheid te versprei nie?

Ek gaan afsluit.

Ek weet nie hoe baie jy in Suid-Afrika kom nie. Maar as jy weer hier is, kom kuier. Soos in regtig kuier.

Kom eet Bertus Basson se kos.

Kom slaap in die Dorp Hotel in Kaapstad.

Kom hoor hoe rol Afrikaanse klanke van Ilse Klink se tong af en laat Azelia Morkel jou vertel wat haar planne is vir Afrikaanse TV.

Kom lag vir ʼn lekker Afrikaanse grap en gaan luister ʼn histeriese Nataniël-storie.

Hier is baie om te sien, te proe, te hoor en te vóél.

Ons bly lief vir jou,

ʼn Afrikaanse Suid-Afrikaner

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

groenboer ·

Weet nie waarom enigiemand hulle steur aan enigiets wat een of ander Hollywood-ster te sê het nie…

Republikein in die Wes Kaap ·

Verkeerd, ons volkie is mal oor konings en prinsesse, en Hollywood sterre. Hou veral van die skindernuus.

Sanet ·

Stem 110% saam met jou groenboer. Stel glad nie belang wat die siel se en doen nie. Het jare gelede, ek dink daar in 1996 laas n fliek gekyk. Siestog los die ou oningeligte siel, Dalk, net miskien skrik sy eendag walker.

Kobus ·

Waarom die bohaai? Sy kry seker nie ‘n rol nie en probeer nou aandag trek. Sy is skaam oor haar herkoms, los haar. Sy is nou ‘n US Citizen, praat hogere engels en is lank reeds verdgete in SA. Het ook net een van haar flieks gekyk en my nie beindruk nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Wel Kobus, sy is seker ook skaam oor die vervalle land waarin sy grootgeword het. Die vrot reuk hang maar rondom ons wat dit toegelaat het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarom die gewip? Meeste Amerikaners weet nie eers waar is haar geboorteland nie. Nog nooit van Afrikaans gehoor nie, en stel ook nie belang nie. Net so min as wat ons in die Kurde se lot belang stel.

Estelle ·

Pragtige brief, maar jammer ek is en bly nie lief vir jou nie, Charlize. Ek is eerder lief vir ons Suid-Afrikaanse akteurs wat deur alles hier bly en aanhou, maak nie saak wat nie. Hulle verdien die eer, nie jy wat jou herkoms minag nie.

Elma ·

Sy kan gerus gaan lesse neem by Neil Sandilands. Suksesvol in Amerika en steeds trots Afrikaans. Die pragtige reeks van Namibie wat so rukkie terug op KykNet was, het hy in die mooiste Afrikaans gedoen. Hier en daar n Engelse woord laat deurglip, maar eintlik doen ek self dit ook maar.
Charlize, kyk na Refentse en die nuweling Dodo – pragtige Afrikaans en dis nie eers hulle moedertaal nie. Jy behoort jou te skaam en terloops, jy lyk oud met swart hare.

Alexander ·

Ag nee jinne mense kalmeer jul is effe hipersensitief oor jul taal :)

JN ·

Veragtelikke persoon die Charlize…
Skatryk miskien maar in geheel n power kunsmatige aktrise met n “chip on the shoulder” teenoor Afrikaners…
Sy leef in haar weelde maar probeer van haar familie se donker geskiedenis en Benoni Afkoms vlug..
Hoe vinnig vergeet sy van haar herkoms..
Duidelik is daar diep wonde wat sy probeer toeplak en haal maar haar bitterheid uit teenoor haar eense
moedertaal sprekende nasie…
Onthou Jy nog Charlize wanneer jy vir die eerste keer begin Engels praat het? Hoe oud was jy toe?? Hipokraties…

Andries ·

Hoogmoed het al baie mense tot ‘n val gebring. Die vrou kyk neer op haar herkoms en ek is seker sy kry skaam om te sê sy kom van die “R of SA” vandaan. Ons moet net pasop dat onsself nie die baba saam die badwater uitgooi nie… sy ken dalk net 44 mense wat Afrikaans praat. Wat ook ‘n skande is. Die res is mos ons 7499956….

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek is ook skaam om te sê ek kom van hierdie hool.

Koos 100 ·

CT. In Argetiniëe praat daar mense ook Afrikaans. So drie maande op Kwela was daar ‘n Ier wat vlot Afrikaans praat. Skaam jou man. Deesdae is daar krag woorde wat in Afrikaans ontwikkel het wat gebruik word in UK tv. Ons pla jou nie daar waar jy is nie, los my taal uit!

Jan ·

Charlize het lankal teen haar Afrikanerherkoms kant gekies met haar pro-BlackLivesMatter uitlatings. Sedert daardie tyd steur ek my min aan haar manewales en nou nog veel minder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.