Lesersbrief: Meer ‘slaai-dae’ vir my kind

Mandy-Michelle Thackwray skryf:

“Slaai dae” (Foto: Verskaf)

My sestienjarige seun is baie kunstig. Dit klink soos ʼn tipiese ding wat ʼn ma van haar kind sou sê, maar ek belowe, dit is die waarheid. Hy moes ʼn selfportret skilder as deel van ʼn skoolprojek. Hierdie portret is intussen professioneel geraam en hang tans in my kantoor. Pa was só trots, dat die portret selfs ʼn goue plaatjie gekry het met die titel: ‘Slaai dae’.

Nou kyk, Pa is ʼn diep en sentimentele mens, so ek wou dadelik weet wat die betekenis hiervan is. Daar word toe vir my gesê dat die skildery so kleurvol is, en dat daar soveel diepte en kontras is, net soos ʼn heerlike mengelslaai wat jy met aarbeie en eetbare blommetjies opgedollie het. Daarna het ‘slaai-dae’ vir my sin gemaak.

Maar helaas, na ʼn lang navorsingsessie vir ʼn gepaste titel vir ons kind se meesterstuk, het manlief met hierdie Shakespeariaanse idioom opgekom wat verwys na ’n tydperk van sorglose onskuld, idealisme, en plesier geassosieer met die jeug.

Dit het my laat besef dat my kind juis hierdie werk in ʼn tydperk van sy lewe geskep het waar hy oor niks bekommerd is nie. Hy is sorgeloos, kreatief, sien die wêreld deur sy unieke lens, het groot drome en ideale en wil net die lewe geniet. Hy doen nog dinge omdat dit vir hom lekker is, nie omdat hy moet nie, soos byvoorbeeld om sy kamer aan die kant te hou. Hy kom vinnig oor enige terugslag wat oor sy pad mag kom, en ma, pa en sy vriendekring is alles in sy lewe.

Dit bring my by my wens vir hom en elkeen van ons se kinders – mag hulle altyd vashou aan hul drome en ideale. Mag die lewe hulle goedgesind wees sodat hul nie net suksesvol sal wees nie, maar ook die vermoë sal behou om altyd vriendelik te wees, om om te gee, respek te hê vir mens en natuur, en diep lief te hê. Ek wens dat alle ontnugterings positief oorkom sal kan word, en dat elke donker wolkie ʼn definitiewe silwerrand sal hê.

En, al is jou eie ‘slaai-dae’ al lankal iets van die verlede, hoop ek dat jy ook kan terugdink aan goeie tye, die seëninge sal tel wat al op jou pad was en wat kom, en dat jy steeds mooi drome sal droom, want nes my kind se portret ʼn meesterstuk vir my is, is jy God se meesterstuk.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kremetart ·

Gelukkige jy. My tiener is so vol nonsens dat ek redelik moedeloos is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.