Meer

Ryno en Rosa Duvenhage (Foto: Verskaf)

Deur Rosa Duvenhage

“Wil jy sien hoe die son opkom?” vra hy saggies naby my oor.  Daar is vir ’n breukdeel van ʼn sekonde ’n toutrekkery tussen my vlees en my gees, maar voor ek my kon kry, sit ek met my boude diep in die seesand. Dis op die kop vyfuur.

Daar hang ’n mislagie oor die baai en die soel oggendluggie waai die slaapnewels uit my siel. Die lug ruik na sout en seewier en ’n meeu sweef laag oor die water.

Ek het nooit besef watter roerende ervaring dit is om die son te sien opkom nie tot my man my gereeld douvoordag laat opstaan het om die son op verskillende plekke te sien opkom. Wat ʼn mens nie alles vir liefde sal doen nie!

Dis ook nie sommer net ’n sit en kyk na die son nie; dis ’n ervaring. Hy het my geleer om doodstil te sit en al my sintuie te gebruik om werklik die oomblik te ervaar.

Vandag nog as ek ’n sonsopkoms misloop en hy kom met sy lang treë en leë koffiebeker aangestap, lyk hy anders. Dis asof hy weet hoe om die son se strale bymekaar te maak en dit iewers in sy siel te bêre vir wanneer hy dit kan nodig kry.

My gunstelingtyd is egter die paar minute voor die son se strale deurbreek. Dis ’n heilige tyd waar dit voel of die heelal asem ophou.  Dis ’n oomblik swaar belaai met misterie, potensiaal en energie.  Hierdie paar heilige minute laat my dink aan dooiegety waar die water nie trek of stoot nie, aan ’n niemandsland of ’n wapenstilstand waar alle partye of magte wat betrokke is net vir ’n oomblik asemskep en seker maak die kompas wys nog noord.

Daar word gesê dat die persoon wat jy oor vyf jaar van nou af gaan wees, bepaal word deur die boeke wat jy lees, die mense met wie jy jou omring en die kanse wat jy waag. In my persoonlike boekie las ek die aantal kere wat ek die son sien opkom by.

Dis presies nege minute oor vyf toe die nag plek maak vir die dag.  Goue sonstrale tuimel geruisloos oor die horison en verander die mislagie oor die water in ’n manjifieke spookasem.  Iewers roep ’n seemeeu.  Die wind speel met my hare.  Die hitte van die son raak liggies aan my vel.  Growwe seesand kielie my voete en my man se hand vou warm om myne …

My woord vir hierdie jaar is “meer”.

Ek wil meer ervaar, meer voel, meer in die oomblik leef.

Meer lag, meer gee, meer tyd maak vir die dinge wat my siel voed.

Ek wil meer lees, meer sinvolle gesprekke hê en myself meer kere in niemandsland bevind, daar waar die water nie stoot of trek nie en die mense nie oorlog voer nie.

Ek wil meer liefhê en soos my man die kuns aanleer om genoeg van die son se strale bymekaar te maak en dit op die spesiale plekkie in my siel vir die donker dae te bêre.

Ek wil meer in verwondering oor God se skepping wees en wanneer my siel roer, wil ek bid: Meer van U en minder van my!

  • Rosa Duvenhage woon saam met haar gesin in Groot-Brakrivier. Duvenhage is ‘n onderwyser by Laerskool Vorentoe en ‘n ma van twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie Gildenhuys ·

Sjoe! Hierdie Laerskooljuffrou mág maar skryf! Rosa, jou skryfstyl voer ons mee in beeld en betekenis. Net soos jou man jou aangemoedig het om jóú sintuie in te span, so vang jy ons sintuie meesterlik vas sonder dat ons die ervaring direk deel. Absoluut bevoorreg is die leerlinge wat in Juffrou Rosa se klas gaan wees vanjaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.