Lesersbrief: ʼn Onproduktiewe ma…

Karyna le Roux van Pretoria skryf:

Karyna le Roux en haar gesin (Foto: Verskaf)

Ek onthou die dag toe my man by die huis kom en ek in trane vir hom sê: “Ek het vandag absoluut níks gedoen gekry nie. Ek voel so onproduktief!”.

Baie verbaas antwoord hy my toe:

“My vrou, jy het 5 kinders aan die lewe gehou. Weet jy hoe baie het jy gedoen?”

As ʼn ma voel ek baiemaal regtig onproduktief.

Want al was die huis iewers deur die dag skoon, is hy alweer vuil. Al was daar iewers deur die dag geen vuil klere nie, is daar alweer ʼn hele hoop wasgoed. Al het die skottelgoedwasser meer as een keer sy kant gebring, is daar alweer vuil skottelgoed! En dan praat ek nie eers van die boodskappe wat nie beantwoord is nie en die ellelange doen-lysie wat nie afgemerk is nie!

Die regte antwoord

Ek weet die regte antwoord op my moedelose klaagrede is: “Jy doen baie as ʼn ma. Jy sorg vir die kinders, jy ry hulle rond, jy is besig om hulle groot te maak. Dis belangrike werk”.

Maar hierdie antwoord laat my steeds nie “produktief” voel nie. Al is die huishouding soms redelik onder beheer. Al het ek almal se broodjies vir skool ingepak of die klere vir die fotodag onthou of die vrywaringsvorm vir die skool ingevul. ʼn Mens kom net nooit voor nie. As jy kinders grootmaak en ʼn  huishouding aan die gang probeer hou, is daar altyd maar weer iets wat jy moet doen.

Niks kry ooit end nie!

Totdat ʼn mens begin dink oor jou “werk”, jou roeping en jou doel in die lewe.

Vra die Here regtig van my om “produktief” te wees? Vra Hy regtig van my “om dinge gedoen te kry”? Om my lysie af te merk en ʼn sug van verligting te slaak as die dag verby is?

  • Of roep Hy my om my tyd goed te bestee? (Efesiërs 5:16)
  • Of is Sy wil vir my nie dalk om te groei in heiligmaking nie? (Levitikus 11:44)
  • En is Sy doel vir my lewe nie dalk om Hom te verheerlik nie? (1 Korintiërs 6:20)
  • En my roeping as mamma – is dit nie dalk om dissipels te maak van die klein mensies in my huis nie? Om die kindertjies na Jesus te lei nie? (Lukas 18:16)

Dinge moet gedoen word

Ons kan nie verby die feit kom dat dinge wel gedoen moet word nie. Die klere moet gewas word, die huis moet skoongemaak word, die inkopies moet gedoen word, die kos moet gemaak word. Al hierdie dinge is nie ons einddoel nie.

Regmerkies agter elke item op my lysie is nie die doel van my lewe nie. Dit is slegs die middel tot ʼn  doel. Dit is die trapklippies wat my help om by my doel uit te kom.

As daar nie kos gemaak is nie, kan ek nie my kinders van die Here leer nie. As die huis deurmekaar en vuil is, kan ons nie huisgodsdiens hou nie. As ons nie by ʼn slaaptydroetine hou nie, is almal moeg en bakleierig die volgende dag. Al hierdie dinge wat ek “moet doen” is deel van ʼn groter doel.

Wat is die doel van my moederskap dan?

Dit is ʼn geldige vraag. Het jy al ooit gedink oor jou doel as ma? Waarvoor roep die Here jou nou eintlik as Hy jou roep om ʼn ma te wees? Want jy is nie sommer net per ongeluk ʼn ma nie. Jy is geroep om ʼn ma vir jou kinders en ʼn vrou vir jou man te wees.

Ek moet bieg, ek raak gereeld moedeloos en dink:

“Is dit nou dit? Is daar nie meer aan die lewe as doeke ruil en snotneuse afvee, toebroodjies pak en kinders rondry nie. Ek wil nie hierdie onbelangrike dinge doen nie. Ek wil eerder die wêreld verander! Ek het soveel gawes, soveel potensiaal. As die kinders my net wil kans gee om iets gedoen te kry. As ek net nie nou moes boeke oortrek of ʼn bakleiery uitsorteer of elke twee minute water ingooi nie.”

Dan moet ek myself weer herinner: Ek is besig om die wêreld te verander – een kind op ʼn slag. Een pleister, een doekruil, een verjaarsdagkoek, een trane afvee, een bord kos, een leesboekie, een troos, een drukkie, een glasie water ingooi op ʼn slag!

Ons leer so mooi die voorbeeld by ons Here Jesus. Hy het net 12 dissipels gekies en hulle in diepte geleer. Hulle het saam met Hom geleef, geëet, gestap, gebid. Dan het Hy hulle so deur die loop van die dag en die lewe alles geleer wat hulle moet weet. En aan die einde van Sy lewe hier op aarde het Hy gesê:

Johannes 17:4: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.”

Die Here kies jou, mamma. Om dissipels te maak van die kindertjies in jou huis (Matteus 28:19). Om die kindertjies na Hom toe te bring (Markus 10:14). Wie sal dit doen as jy dit nie doen nie? Sal jy ook vir die Here kan sê: “Die werk wat U my gegee het hier op aarde, het ek klaargemaak”?

Neuse afvee, doeke ruil, stryery uitsorteer, troos, water vir ʼn dors kind ingooi en kosblikke pak is nie dinge wat jou “uit jou werk uit hou nie”. Dit ís jou werk. Werk wat deur die Here vir jou gegee is. Dit is deel van jou roeping. En daar is spesifieke goed wat niemand anders vir jou kinders en jou man kan doen nie. Die Here het jou geroep om dit te doen.

Dit is ʼn wonderlike voorreg en eer en belangrike taak wat jy ontvang het, mamma! Dis seker die belangrikste taak wat jy ooit sal verrig. Mag jy jouself voortdurend daaraan herinner en mag jy elke oomblik van jou roeping as ma koester en geniet!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LIEZL ·

Jy is in meer as een opsig produktief. Ek wens ek kon sê ek het vuil wasgoed vir 5 kinders, 5 gesiggies wat vir ons nag sê, 5 gesiggies wat vir ons goeiemôre sê, 5 gesiggies wie se trane jy kan afvee of kielie of drukkies gee. Jy het in oorvloed liewe produktiewe mamma. Dankie vir jou en soveel ander mammas wat net so hard werk na die groter doel. Wens ek kon deel in dit, maar vir nou is daar ‘n ander doel met my, wat net ons Vader weet.

Delia ·

Pragtige artikel. Ek het dit sommer vir almal in ons familie met klein en groot kinders aangestuur.
My man het eendag vir ons dominee gesê dat hy soms sleg voel dat ons agv al die 3 kinders se sportbedrywighede nie elke Sondag in die kerk is nie. Die ds se antwoord was…onthou om jou kinders reg groot te maak is ook kerk werk.
My vriendin het al 2 van 3 kinders aan die dood afgestaan. Geniet jou bondel van 5.

Eclectus ·

Eers na my eerste vrou se dood het ek besef hoe baie vrouens in en om die huis doen, selfs al werk hulle. My tweede vrou is net so besig en ek probeer nou so veel as moontlik help. Ek het vrede gemaak met die feit dat ons nie ewe veel status in die lewe geniet nie, maar ons almal het ‘n funksie. Daar is net plek vir een klip aan die bo-punt van die piramide, maar sonder al die ander klippe ondertoe sou daardie klip nie daar wees nie.

Barney ·

Dankie vir hiedie brief. Ek verstaan presies hoe jy voel. Baie dae voel mens lus vir tou opgooi en wonder of dit regtig al is waarvoor mens goed is. Ek self moes baie keer luister na ander se kommentaar oor ek so onambisieus was op my graad te mors en loopbaan op te gee om kinders groot te maak. Vandag weet ek dat dit die grootste seën is wat God mens kan gee. Dit gee mens weer nuwe moed om te hoor ander voel ook soos jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.