Lesersbrief: ’n Oop Gesprek

Tobie Hart van Pretoria skryf:

Tobie Hart.

Dankie, Susan(na) Lombard, vir jou besonderse Maroela Media-skrywe van 29 Mei 2020. Lyk my ons het nog vroue wat die huidige “Drakensberge” kaalvoet sal aandurf. Ten minste dan vir sover dit as ‘n wil om iets aan die huidige omstandighede te wil doen, beskou kan word.

Selfs in die grendeltyd is almal egter nog steeds “so besig”, dat daar min tyd oorbly om regtig te besin oor waarheen ons op pad is. Daarby is daar soveel terreine waarop ‘n mens sou wou (en dalk moet) walgooi, dat die gevoel van magteloosheid oorweldigend raak – in elk geval vir ‘n (ou) man, amper soos die een in 28 Februarie se artikel. Ná heelwat pogings kan hy skynbaar net nie daarin slaag om tot mense deur te dring nie. Sou dié mense dalk, soos die destydse persone in Susanna Smit se tyd, met ander dinge besig wees? Kan tog nie wees nie. Dus maar weer en aanhou probeer soos ‘n stem des roependes in of vanuit ‘n woestyn.

‘n Klompie weke gelede het dr. Pieter Mulder, in ‘n skrywe die vraag gestel of dit nie miskien tyd is om weer ‘n “oop gesprek” te begin soos die een wat N.P. van Wyk Louw al meer as ‘n halfeeu gelede gevoer het nie. Mulder se oproep kom ná ‘n soortgelyke gedagte (in Julie 2011 al uitgespreek) waarvan daar, na my wete, nie veel gekom het nie. Die tyd is, myns insiens, meer as ryp vir sodanige gesprek, spesifiek oor die Afrikaner in hierdie tyd van verwarring oor die verlede en onsekerheid oor die toekoms.

Ek kan my goed indink dat so ‘n gesprek heelwat vonke kan laat spat, maar hopelik sal dit ook meer soberheid bring en veral daartoe lei dat mense – manne, maar blykbaar dan veral vroue, na vore sal kom wat ‘n roete sal kan aandui. ‘n Roete wat selfs moeiliker sal wees as die een vanaf of vanuit die Drakensberg. Daar moes skynbaar “op die rand van ‘n krans… terwyl uitgekyk word oor ‘n vlakte… met die rug gekeer op KwaZulu-Natal”, opdraand geloop word na die Vrystaat en ‘n nuwe begin.

‘n Soortgelyke oproep om aan die loop te kom, kom uit die artikel van Alida Kok van 25 Mei. Hier gaan dit, onder meer, oor vrystede. ‘n Konsep wat blykbaar in die Ooste gebore is en dalk nie so maklik hier – onder huidige omstandighede – gaan wortelskiet nie. Van die Ooste gepraat. Dat Afrika vinnig besig is om ekonomies en dalk ook ideologies ‘n deel van China te word, is seker nie meer ‘n geheim nie. Bloot volgens getalle kan dit seker nie anders nie. Veral as ons ons ander ankers teen die talle storms verder verwaarloos. Maar dan, wie is die “ons”?

Gelukkig is daar darem ook twee ander artikels wat genoem kan word. Die een van 25 Mei wat, onder meer, handel oor ‘n goue kalf en die ander van 23 Mei wat kaalkop verwys na gebrekkige leierskap. Stylvol en tog skerp, lê twee weerbare en kundige manne, dié keer sake en leemtes bloot waarvan almal betrokke, ernstig kennis moet neem.

Soos selde in die verlede het die volk (kan ons nog sê “ons volk”?) werklike leiers nodig – anders as dié soort waaroor Sir de Villiers Graaff jare her vanweë sy vreemde uitspraak spot moes verduur. Maar dis ‘n grappie vir ‘n ander dag.

Kom ons begin ook om met mekaar te gesels in plaas van om by wyse van monoloë die wind te toets. Op sigself seker ook ‘n noodsaaklike aksie, maar tog een wat selde die akkers voorberei vir die nuwe plantseisoen.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae