Lesersbrief: Ondertekenaars kan nie net sit en toekyk nie

Dink Self van Malmesbury skryf:

(Foto: VF Plus/X)

Dood en lewe het altyd ʼn oorsaak. Die Afrikaner-verklaring is gebore uit ʼn wesentlike vrees onder ʼn beduidende groep landgenote, wat as Afrikaners identifiseer, dat hul kosbare kultuur stelselmatig deur ʼn Engels-behepte, swart meerderheidsregering, toegeploeg word.

NP van Wyk Louw ondersteun in Liberale Nasionalisme Thabo Mbeki se aanbeveling van ʼn nasionale dialoog in so ʼn situasie, soos volg: Wanneer ʼn kultuurgroep weet dat sy standpunte nie meer gehoor word nie, dat sy taal nie meer verstaan word nie en dat al sy voorstelle met verdere magsvergryp beantwoord word, dan raak dit oorbodig om verder te probeer saam speel. Geen kultuur se oorlewingsstrategie behoort volkome deur sy teenstanders bepaal te word nie.

Die Afrikaner-verklaring getuig van ʼn hunkering onder ʼn behoudende groep Afrikaners om deur gesprekvoering werkbare oplossings te vind, waardeur die heterogene bevolking van Suid-Afrika, sonder uitroei en sonder toeploeg, vreedsaam naas mekaar kan voortbestaan.

Die vind van redelike, regverdige oplossings om partye of groepe wat vervreemd, bedreig of benadeeld voel, met groter begrip nader aan nasionale naasbestaan te bring, lê op die pad van eerlike polemiek en dialoog – waartydens almal se standpunte en beginsels met waaksame skeptisisme, haarfyn en sonder vooroordeel en met ʼn wil tot waarheid, wat sterker is as die wil tot oorwinning, ontleed moet word.

As daar by politici en andere geen wil bestaan om na die ondertekenaars van die Afrikaner-verklaring te luister nie en van hul verwag word om net handjies gevou in die hoekie te sit en toekyk hoe hulle kultuur vertrap en toegeploeg word, moet diesulkes nie verbaas wees as sommige voortaan nie meer met verdere saam speel wil bydra tot hul eie identiteitlose ondergang nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank ·

Is die brief net half gepubliseer of mis ek die punt van die brief wat iewers tussen die segoed versteek is?

Republikein in die Wes Kaap ·

En wat gaan die ongelukkiges dan doen?

annie ·

… Hulle sal mooi gaan smeek by die regering om te reverse want hul trok se stert hang oor in my parkeerplekkie wat ekbnog sedert 1948 gebruik. (Onthou tog die varsgebakte gemmerkoekies van Mammie vir by die tee.) En dan gaan dr ds Eloff die Bybel nader trek om soos Tutu van ouds aan te haal oor die naaste en om jou vyand liewer te hê as jouself en jou alles te gee. En dan sal Malema vra: En julle het nog dit en dat en bly hier en daar en koop nog sus en so en ek wat in die nou droë Rhodesië gebôre is en nou hier moet kom lei, sal besluit. Ga! En so bid hul deur die opvoering en neem pics van die nuwe leier van die Boerevolk in sy bruin pak wat Bringalot moes aflewer mooi onder die elfkleurvlag… En daar gaat ons maar weer nou weer onder die Son se leierskorps… oppad na nêrens…

Kokerboom ·

Die ongelukkiges gaan bly in die Wes Kaap totdat die ongelukkiges uit Oos Kaap e.a. hul daar uitleef!

OW ·

‘n Kultuur se oorlewingsstrategie behoort glad nie, deur sy teenstanders bepaal te word nie.As geen dialoog sou plaasvind nie,kan die wat in die hoekie sit en kyk hoe hulle kultuur vertrap word maar aansluit by die wat,besluit het,ons sal self,en ‘n sukses daarvan maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kokerboom, die meerderheid Afrikaners hier woon al vir generasies hier. Gelukkige én ongelukkige Afrikaners wat migreer word verwelkom. Wat die OK betref, migrante is op soek na ‘n beter lewe. Die genadelose natuur maak ‘n bestaan egter bitter moeilik. Afstigters wat grondwerk doen vind dat migrante uit die OK ook ongelukkig is met die heersersklas in Gauteng, maar hulle word steeds deur hul eie mense uitgebuit.

annie ·

Wat laat die afstig-dromers glo dat die Kaap dié paradys is waar almal gelukkig en in vrede kan bly; dat daar nooit tweespalt sal heers nie, dog sedert die grondlegging was daar nooit eenheid onder die Kaap se inwoners nie. Die idilliese dromers glo skynbaar die vele anderskleuriges daar soek net die regte base om hul te lei en dan sal hul soet en rustig wees, selfs op die onstuimige Kaapse Vlakte.

Republikein in die Wes Kaap ·

Steeds beter as in Gauteng, Annie. Terloops, na die Groot Trek het die tweespalt grootliks verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.