Lesersbrief: Ons almal kan maar oor ons erflating nadink

Jaco Swanepoel (Foto: Verskaf)

Geagte Doktor Hermann

Jou brief aan president Ramaphosa het my laat dink aan my eie erflating.

My oupa Jacob was nie ʼn digter nie. Hy was wel die skriba van die Gereformeerde Kerk Jamestown. Die gebou is nog daar – “die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie”.

Wat sou hy in die notuleboeke geskryf het? Sou ʼn mens die angs kon sien opbou soos wat meer jong mense die distrik verlaat het? Selfs die kerk kon nie die ekonomiese werklikheid omseil nie.

Oupa was ʼn boer, nie ryk nie. Hy het darem ʼn trekker (ʼn bloue) en ʼn motor gehad. Hy kon my pa universiteit toe stuur. Dit het my en ook my kinders gehelp om universiteit toe te gaan. Oupa het die Nasionale Party gehelp om aan bewind te kom. Ek kan onthou hoe trots ek as kind was om sy naam in die gedenkboek te sien.

Willem was Oupa se werker. Ek onthou Willem as ʼn groot Xhosa-man. Ek was so effe bewus dat Oupa en Willem nie lekker reggekom het nie. Een jaar toe ons op die plaas kom, was Willem nie meer daar nie. Ek wonder wat het van Willem en sy kinders geword. Ek weet nie eens wat sy van was nie.

My erflating is groter. My grootjie Christoffel Esterhuizen, stamvader van die Esterhuizens, was soos die meeste stamvaders arm toe hy hier geland het. Ek bereken sy boedel in die argiewe as tussen twee en vier miljoen rand teen die prys van vee vandag.

ʼn Groot deel daarvan was die vier slawe wat hy besit het. Hulle name was Damen, Cupido, Antonij en Elsje. Hulle is nog op die boedelveiling saam met die vee verkoop, sowel as ʼn perdewa en ʼn ossewa. Is ʼn perdewa soos ʼn Fortuner en ʼn ossewa soos ʼn Hilux?

Manna van Boegies was ook ʼn slaaf wat aan my sesde grootmoeder Judith Swanepoel (néé Van Eeden) behoort het. Dit blyk dat Manna halsstarrig was nadat haar man oorlede is. Sy het hom teruggestuur Ooste toe vir ʼn terugbetaling. Dit is onduidelik of sy die geld teruggekry het.

Ek stem saam dat baie verkeerd gegaan het sedert 1994. Ek wonder of Willem se kinders, wat my “baas” moes noem, tevrede sou wees om hulle uit die armoede op te werk? Behoede my as ek met hulle moet deel – ons het minstens hard daarvoor gewerk.

Die idee dat wit mense hard werk terwyl swart mense nie hard wil werk nie is intellektueel lui. Vra die huiswerkers, tuiniers en konstruksie-arbeiders wat elke dag in die donker opstaan.

Die verbeeldingsgemeenskap (imaginary community) wat voel dat Afrikaners anders as “hulle” op ʼn beginselvaste wyse hulself uit armoede getrek het, is rassisties. Rassisme is nie net diskriminasie op grond van ras nie, maar is gesetel in die voorveronderstelling dat my ras beter is as joune. Kyk maar in ʼn woordeboek.

Die arrogansie van die denke sal nie die probleme van Suid-Afrika oplos nie, ons het ʼn nuwe “ons” nodig.

Jou mede-Suid-Afrikaner, Jaco Swanepoel, van Pretoria.

  • Hierdie lesersbrief is geskryf in reaksie op die ope brief aan pres. Ramaphosa van dr. Dirk Hermann wat hier gelees kan word. 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

OUCH! Nou boor jy ‘n lastige senuwee raak.

Elma ·

My “erflating” is dat ek absoluut niks het om jammer voor te sê nie. Die arme Afrikaners met hulle hansie-my-kneg houdinkies!

melaney ·

Ek stem saam met jou Jaco. Daarom was dit my eie besluit om nooit van iemand te verwag om my huis skoon te hou, my tuin in stand te hou. Ek doen dit sommer self. Dit is net regverdig teenoor ander mense. Vandag kan ek darem sien hoe skoon is my huis en hoe mooi is die blomme in my tuin. Die res van die land is vrot verby, maar ek kan nie die skuld daaroor dra nie, want ander is elke maand betaal om dit te doen. Maar hulle weier. Niks met my te doen nie!

Marianna ·

Alles goed en wel maar dis jou storie. Daar is baie ander stories en vandag se storie van S.A.

annie ·

Die kruks van die debakel is die opmerking dat wittes ryk is weens ou geld… Dus ryk geërf. Nou moet ons skuldig voel soos meegaande outeur wel deeglik doen en hoop dat ons almal ook sal moet wil. Daar is gelukkig nou die ANC en die gawe Swaarheids-en-Verdoemingskommissie plus vele heilige priesters wat gereed sit vir biegsessies en ruim bydraes tot die trane-emmer. Voel vry. Paaie is nie meer vol duwweltjies nie (net goedige sinkgate) met orals onveilige OTM’s vir vinnige fonds-oordrag (en moet tog nie weens gemoedsverligting jou bankkaart daar vergeet nie!).

Isabe ·

Jaco, jy slaan die spyker op die kop. Ek dink ook as ons eerlik is, was swart mense meer as net werkers in ons geskiedenis . Dit is n bekende feit dat die Steyns en Vogese (waar ek my oorsprong het) het swart bloed in ons are het.

Vrijburger ·

My innige simpatie. Gegewe jou familie se geskiedenis van slawebesit kan ek jou blanke skuldgevoel verstaan. Maar as hierdie skulgevoel jou wil verswelg en jy dit wil weg projekteer na ander deur die rassekaart op hulle te trek, weet ‘virtue signaling’ help nie. Herhaal eerder vir jou self ‘ek is ‘n wit belastingslaaf in Suid-Afrika, ek is ‘n wit belatingslaaf in Suid-Afrika, ek is ‘n …….” En die skuldgevoel sal vanself weggaan en jy sal beter voel oor jouself.
Ps. Op ‘n ernsige, jou skrywe het soveel wye veralgemenings & aannames, intelektuele lui argumente, strooipop argumente dat ek eerder volstaan met bg.

Goldy ·

Die kultuurverskille is onversoenbaar. Jamestown is seker die eerste eens pragtige dorp wat nou heeltemal getransformeer is. En nee, mense daaar werk nie, tel nie eers die rommel op,die erf of sypaadjie op nie. Al wanneer daar gewerk word is om sosiale toelaes te gaan haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.