Lesersbrief: Ons kinders word met kritiese rasseteorie geïndoktrineer

Thinus Strydom van Port-Elizabeth skryf:

Thinus Strydom (Foto: Verskaf)

Aangaande die artikel oor diversiteitsopleiding by Fish Hoek Hoërskool. Ek sal graag kommentaar wil lewer oor die onderliggende ideologieë en teorieë wat die opleiding kon inlig en hoe dit blyk om oor die algemeen in Suid-Afrikaanse skole te begin manifesteer.

Terwyl ʼn mens kan wonder of die aanbieders van die kursus moontlik kranksinnig is, klink dit of hulle uitlatings direk in lyn is met kritiese rasseteorie en sosiale geregtigheidsteorieë.

Na jare van onderwys in Suid-Afrika, sowel as internasionaal, het ek en my vrou ondervinding in verskeie kurrikula opgedoen – CAPS, Cambridge, IGCSE en die gesogte International Baccalaureate (IBDP).

Hoewel die laasgenoemde kurrikulum nie as deel van hulle beleid die bogenoemde teorieë aanmoedig nie, het ek bevind dat die hulpbronne wat aan onderwysers voorgestel en toegedien word, dit wel doen. Die konflik tussen my eie waardes en die waardes van hierdie kurrikulum is een van die redes wat ons laat besluit het om na ses jaar in die buiteland onderwys in Suid-Afrika weer ʼn kans te gee.

Gevolglik het ek by ʼn Christelike privaat skool begin werk wat die IEB-kurrikulum volg. Ek kon nie glo hoe dieselfde teorieë, of woke-isme, in die materiaal wat aan die kinders voorgegee word ingesluip het nie. Die skool is natuurlik bewus van die risiko’s wat woke-isme vir Christenskap as ʼn geheel inhou.

Maar dit is moeisaam om deur alle inhoud te sif om die onderliggende ideologieë, wat nie eksplisiet voorgestel word nie, te identifiseer in leermateriaal. Terselfdertyd word hierdie ideologieë in universiteite versprei, waar die nuwe generasie onderwysers opgelei word. Dit beteken dat hulle uitkykpunt klaar moontlik in lyn is met die teorieë.

Sien, hierdie ideologieë streef nie daarna om spesifieke opinies te stel nie, maar eerder om ʼn gewenste wêreldbeskouing te vorm. Die sleutel om dit raak te sien? Die herkenning dat inligting wat aan leerders weergegee word, nie as blote opinies of menings voorgehou word nie – maar eerder as ʼn algemene feitelike waarheid wat hulle moet aanvaar.

Dit is in effek, propaganda.

Ek hoor bykans by my vakhoof dat die IEB self stel dat hulle van mening is om die tale te dekolonialiseer. Wat presies beteken dit? Dat in die Engelse klaskamer George Orwell vervang gaan word deur ʼn lukrake skrywer waar die enigste kriteria die kleur van die skrywer se vel is? En dan sal dit as bonus beskou word as die skrywer se inhoud handel oor ras, geslagsrolle, of seksuele identiteit?

Ouers kan nie meer skole blindelings vertrou om hul kinders se beste belange ter hart te hê nie. Hulle moet aktief betrokke raak met die kurrikuluminhoud en leermateriaal – veral in die vakgebiede van die tale, sosiale wetenskappe, geskiedenis, en lewensoriëntering.

Soos die bogenoemde teorieë goed posvat en deel word van die algemene skoolkultuur, of selfs landsidentiteit, beweer ek dat tuisonderrig of klein gemeenskapskole vir baie gesinne die pad vorentoe gaan wees.

As onderwyser en ouer lê hierdie kwessies my na aan die hart.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Drikus ·

10/10 vir die artikel – Ons sal moet wakker slaap, al hoe meer agendas word in ons keelgate afgedruk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gelukkig is daar tans ‘n wêreldleier wat sy rug styfmaak teen die valshede, en dis nie Trump nie

Amelia ·

Praat jy van Putin? Hy hang dalk nie hierdie spesifieke ideologieë aan nie, maar hy het beslis ‘n stel van sy eie waarvoor ‘n mens gerus ook maar kan ligloop!

Amelia ·

Dankie vir die artikel. As ma is hierdie seker een van my heel grootste bekommernisse. Ek kan eintlik nie glo ons bevind onsself in hierdie situasie nie. Orwell is juis nou verpligte leesstof!

Windhond ·

Animal farm is eintlik n baie goeie voorbeeld teenoor wat nou in die land gebeur

Marthinus W ·

Klaus Schwab van die World Economic Forum is n kampvegter vir kritiese rasseteorie, en hy het baie invloed. In Nieu-Seeland is Shakespeare besig om uitgegooi te word, in Engeland, by van die vooraanstaande universiteite is Mozart en Bach en Tsjaikofski nou te Westers, vir Westerse musiek.

Nettie ·

Ons kort die kerke se inslae. Wys die teenstrydighede uit met die Bybel. Anders dink mense dis in lyn met Christenskap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Watter kerke? Watter slim profs? Dié wat tel se sienings het waarde. Die res is mos verkramp.

Koen ·

Die Bybel en die kerke is ongelukkig vol teenstrydighede. Weet nie eens of hulle moet groot of klein doop, is gays welkom of nie en hulle swaai di emantels na wie ook al regeer. Good Luck met daardie een.

Lillian ·

Ons kinders word al jare geïndoktrineer met ‘n klomp nonsens.
Hul kan nie spel of lees nie, het geen agtergrond van ons geskiedenis of kultuur of waar ons vandaan kom nie. Slaagsyfers is belaglik laag.
Geen godsdiens onderrig, geen lyfstraf.
Seks word op jong ouderdomme aan hul voorgelê, terwyl hul nog eintlik moet kind wees.
Ek skrik as ek sien wat deesdae aangaan in ons skole.

Johan ·

Hierdie artikel slaan die spyker op die kop! Dit is hoogtyd dat die wêreld by ons waardes aanpas en nie ons waardes by die wêreld nie. Dit is ook hoogtyd dat die “kerke” ophou om op die agtergrond te sit en hul plek begin vol staan in die samelewing. Sommige kerke pas ook net te maklik aan by die wêreld, jy kan nie die Bybel aanpas soos wat jy lus het nie. Daar word in die Groot Woord spesifiek gewys op reg en verkeerd. Onderwysers (ek is self een) moet ook nie net aanvaar wat vir hul gesê word nie, jy as onderwyser moet die kinders wys op wat reg en verkeerd is volgens jou waardes en nie volgens wat die “wêreld” vir jou sê wat reg en verkeerd is nie.

annie ·

Christenskap sal nie meer in skole voor-of agterrang geniet nie. Ouers sal hul luiheid moet los en naskoolse Bybelopvoeding begin organiseer. Later kan dit selfs in geheime selle moet geskied soos wat die gruwels vorder. Daar kom selfs nog erger bedreigings as die siek wind vanuit die VSA hierheen waai.

Johan ·

Stem 100% saam met jou, maar optrede en die voorbeeld wat in die klaskamer gestel word is baie belangrik. Die siel is soekend en die kind sal wel agterkom dat hy/sy iets mis en vrae begin vrae en dan is dit die kans om jou lig te laat skyn in hierdie donker wêreld. Daar sal altyd ‘n geleentheid geskep word om Die Woord te verkondig.

Adam ·

Ons kinders sal altyd geindoktrineer word met gemors
Hetsy dit rasgebaseerde viktimisasie of een of ander geslags identiteit gier is ( ek hou nie meer by met al die geslagte nie)
Feit is, ons moet ons kinders leer om perde keutels van vye te onderskei. Die aanslag gaan nie ophou na skool nie…. dit gaan aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.