Lesersbrief: ‘Pa, ek is nie meer bang vir jou nie’

Argieffoto

Argieffoto

Pa

’n Paar jaar gelede moes ek ’n boom in my tuin afsaag. Soms, wanneer ek dit vir mense vertel, sien ek eers die tikkie verwyt in hulle oë. ’n Mens raak mos nie van bome ontslae nie. Hulle help ons dan deur suurstof vry te stel. Maar sien, daar was ’n probleem met hierdie boom. Baie vroeg in sy lewe moes sy stam ernstig seergekry het. Dit het veroorsaak dat hy heeltemal skeef gegroei het, en namate hy groter geword het, het hy al verder uit sy plek gegroei totdat sy stam teen die heining begin druk het. Die skade wat hy veroorsaak het, het my genoodsaak om hom af te saag.

Dis vir my nogal ironies dat ek as kind gereeld gehoor het hoe jy die term “buig die boompie terwyl hy jonk is” gebruik het. Net jammer dat jy, in plaas van om die boompie te buig, sy stam geknak het, en veroorsaak het dat ek in ’n rigting groei wat vir my en die mense om my ernstige probleme veroorsaak het.

Jy sien, ek het nog altyd gedink dat ek maar net ’n introvert is, en dat my persoonlikheidstipe verkies om so min moontlik wisselwerking met mense te hê. Eers toe my vrou my oorreed het om ’n sielkundige te raadpleeg, het my oë oopgegaan vir die feit dat jy my selfbeeld vernietig het, en dat ek sosiale wisselwerking vermy omdat ek aan ’n angsversteuring ly. Volgens haar is dit grootliks veroorsaak deur die feit dat ek as kind die persoon wat my standvastigheid moes gee, gevrees het en enige tyd, sonder waarskuwing, vernedering of ’n paar warm klappe kon verwag.

Toemaar, die behandeling help baie, en ek begin die regte “ek” leer ken. Ek hou nogal van hierdie nuwe ou, en my vrou en kinders dink ook hy’s baie beter as die minderwaardige ou dikbek met wie hulle vroeër moes saamleef.

Vanoggend het my seuntjie vir my ’n prentjie gewys wat hy geteken het, en ek kon eerlik vir hom sê dat dit vir my verskriklik mooi is. Ongelukkig het dit my laat terugdink aan ’n keer (ek was seker 10 of 11 jaar oud) toe ek vir jou ’n prentjie gewys het. Ek was nogal opgewonde daaroor, want ek het gedink dat dit regtig goed was. In plaas van om my te prys het jy met my geraas omdat ek dit in ’n hardebandboek, wat na jou mening te duur was om so op te mors, geteken het. Ek hou nie van teken nie. Dalk kon dit anders gewees het.

Ek het myself belowe dat ek nooit ’n pa soos jy sal wees nie, en meestal kry ek dit reg. Ongelukkig betrap ek myself soms dat ek wel ’n paar van jou foute herhaal, maar ek doen my bes, en ek dink ek raak beter soos die tyd aanstap.

Miskien is daar in die toekoms vir ons ’n geleentheid om dinge uit te praat en selfs vriende te word, maar vir eers hou ek jou op ’n afstand, en probeer seker maak dat my kinders veilig voel by my en weet dat ek hulle grootste ondersteuner is.

Groete
Jou seun

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bjorn

Jammer om te hoor oor jou angs aanvalle en so. Ek het groot geword in die jare van sommer geklap word en lyfstraf. Ek was baie stout. Ek het deurgeloop onder ‘n stiefpa wat my gehaat het, deur die kinderhuis vir my Laerskool dae en toe Verbetering skool toe waar ek my Hoerskool volkome voltooi en geslaag het. Vandag is ek getroud met ‘n pragtige vrou en het drie kinders wat vir my innig lief is. Ja, ek is kwaai en vat niemand se nonsens. Dit het my goed gedoen en van my ‘n beter mens gemaak. Dankie vir die… Lees meer »

Anita Steyn

Ek kom ook uit so huis my pa was wreed het my eendag met vuis in die gesig geslaan en my wangbeen gekraak en baie dinge nog hy was baie onregverdig in baie opsigte en ek gli dis hoekom ek nie n goeie verhouding met my dogter het nie baie van my pa kom in my uit

Bruno Stef

Terwyl ek die artikel gelees het ivm die somtydse misverstande en wrywing tussen ouers en kinders in die verlede bly die pragtige liedtjie ” In the living Years” met sy lirieke wat se dat begrip vir mekaar somtyds net te laat kom.

Jannes

As jou pa nog lewe, stuur die brief vir hom. Dis die eerste stap om dinge te probeer regmaak.

eralda

My hart het ineengekrimp terwyl ek hierdie brief lees……dis so hartseer en soms dink mens jy doen goed om jou kind dissipliene te leer,maar elke kind verskil…..sommige het n sagte woord nodig,ander weer n paar loesings……en die belangrikste hier le in:om te kan onderskei hoe om met watter kind op te tree en ons as ouers kry mos nie n “handleiding” saam met ons kinders nie. Die feit dat jy vir hulp gegaan het is n bewys dat jy as persoon besef dit het jou geknak en dat jy daaraan moes werk…..n baie goeie positiewe van jou kant af. Mag… Lees meer »