Lesersbrief: Red Ashton se vrugtefabriek

Honderde werksgeleenthede is in die gedrang weens die moontlike sluiting van die aanleg. (Skermgreep: Tiger Brands)

Geagte mnr. Tiger Brands

Ek ken nie jou regte naam en van nie, en ek wil ook nie die brief begin met liewe nie, want in hierdie oomblik dink ek die woordjie hoort nie hier nie.

Hierdie brief gaan oor Ashton, ons buurdorpie. Op skool het ons altyd gepraat van Blikkiesdorp, want Ashton is nie ʼn sommerso-dorpie nie. Maar jy weet, want jou fabriek is daar wat elke jaar duisende en duisende blikkies inmaakvrugte vervaardig. Ons praat sommer van “canned fruit”, al is dit Engels.

Om die waarheid te sê, maak Ashton Canning al van 1959 af ingelegde vrugte. Dis ʼn baie lang tyd, mnr. Tiger Brands. Ons het in die plaasskool al begin leer van hierdie wonderlike fabriek, amper op ons agterstoep. Die papiertjies is mooi van die blikkies afgehaal, netjies geknip met ons kinderhandjies, en in ons boeke geplak. Want hierdie belangrike plek is genoem in ons skoolboeke.

Elke jaar met oestyd, ry rye en rye lorries Ashton toe, volgepak met die mooiste vrugte wat dan deur vlytige hande verwerk word en waarvan tonne en tonne oorsee gestuur word. Sonrypvrugte uit sonnige Suid-Afrika. Verwerk in een van die grootste inmaakfabrieke in die suidelike halfrond. Mnr. Tiger Brands, hierdie is nie ʼn sommerso-fabriek nie. En ʼn mens sluit nie ʼn fabriek sommerso nie.

Vir jare en jare gee die fabriek vir vele gesinne kos om te eet. Maar dis nie net elkeen met hul potblou oorjasse wat werk kry nie, dis elke boer met sy lorrie vol kratte, en elkeen wat gehelp het om daardie kratte vol te pluk. Dis soos om ʼn klippie in die water te gooi, en die kring word al groter en groter.

En nou, nou wil jy, mnr. Tiger Brands, net ʼn slot aan ʼn deur kom sit wat al ouer is as jy. Hoekom, wonder ek?

Het jy dit besluit toe daar ʼn splinternuwe brug in Ashton opgesit is, mnr. Tiger Brands? Want daar is baie slaapplek onder daardie reusebrug. Dalk moes hulle ʼn groter brug gebou het, want daar gaan nou baie mense blyplek soek vir hul honger lywe. Of gaan hulle die slot afkap, en tussen die orige blikkies en kratte bly?

En jy, mnr. Tiger Brands, gaan net ʼn nuwe fabriek iewers koop, nog meer geld maak en “canned fruit” koop wat met ʼn skip uit China kom.

So, ek vra jou baie mooi, mnr. Tiger Brands − wat jou regte naam ook al mag wees − wees ons genadig asseblief. Hierdie klippie se kringe is alreeds baie groot, en maak baie vrees in baie mense se harte.

ʼn Kameel is ʼn baie groot dier, mnr. Tiger Brands, en ʼn naald se oog het ʼn baie, baie klein gaatjie.

Groete

Anni Hoffman

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nierkie ·

Die CEO van Tiger Brands is Noel Doyle en die Voorsitter van die Raad is niemand anders as Geraldine Fraser-Moleketi nie.

Kokerboom ·

Daar MOET ‘n oplossing gevind word om dorp en sy mense te red! Kan TB nie maar hande vat met georganiseerde landbou?

Delia ·

Mooi gesé. Ek het oor die radio gehoor regering gaan hulp gee sodat boere fabriek kan koop. Hoop so daar kom hulp van iewers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.