Lesersbrief: Regering kelder Poskantoor

Trotse Poskantoor-werknemer skryf:

(Foto: SA Post Office/Twitter)

Dat die Poskantoor in ʼn groot finansiële gemors is, is ʼn feit. Dat ongelooflike swak kaderbestuur oor verskeie jare 80% van die ineenstorting veroorsaak het, is ook ʼn feit.

Die aanmerking in Podlitiek oor die poging om sekere possektore te nasionaliseer is egter net op halwe feite gegrond.

Die Poskantoor se mandaat is om posdienste oor die hele land te lewer, selfs daar waar dit geensins winsgewend is nie. Daar is ʼn verpligting om poskantore per aantal mense per vierkante kilometer te hê, ongeag waar die geld vandaan sal kom om dit te finansier. Daar word nie eens naastenby hieraan voldoen nie weens die ongelooflike koste van so ʼn staatsbeleid.

Koste om die posdiens te bedryf is gereguleer, en kos veel meer as wat die Poskantoor toegelaat word om vir dienste te vra. In geen private onderneming sou voortbestaan moontlik gewees het met die regulatoriese vereistes wat aan die Poskantoor gestel word nie.

Daar geld dekades lank al wetgewing wat die pakkiesektor van 1 kg en minder aan die Poskantoor toegewys het om hom te vergoed vir die tekorte wat die Poskantoor ly weens die gebiede waar hy sonder wins ʼn diens moet lewer.

Al wat die Poskantoor gevra het, is dat bestaande wetgewing afgedwing moes word, aangesien die Poskantoor steeds gedwing word om niewinsgewende dienste te lewer. (Andersins, hoe sou die koeriermark gereageer het as daar van sy werkers verwag word om in elke uithoek van die land items af te lewer teen ʼn inkomste veel laer as die uitgawes?)

Mark Barnes het gewys dat omkeer moontlik is en was goed op pad om dit reg te kry. Daar was ʼn ongelooflike oplewing in personeel se moreel en ʼn toekomsvisie het soos ʼn lig in ʼn donker tonnel sigbaar geraak. Selfs voorheen aggressiewe vakbonde het begin saamwerk en hulle agter die beste leier in dekades geskaar.

Die regering kon egter nie vinnig genoeg ʼn stokkie steek voor Barnes se planne nie. ʼn Radikale verandering in regeringsbeleid en wetgewing sou nodig wees om die omkeer te verwesenlik, en die regering het bloot gesorg dat dit nie moontlik sou wees nie.

Barnes het uiteindelik bedank weens regeringsinmenging en openlike teenkanting vir sy omkeerstrategie. (Interessant dat die huidige omkeerstrategie wat nou aanvaar is 99% dié van Barnes is.)

Die uitlatings van die minister van kommunikasie is beduidend van iemand wat geensins haar huiswerk gedoen het nie, soos ook soveel van haar voorgangers. Daar word nie verwag dat sy langer as enige van haar voorgangers in die pos sal uithou nie.

Daar is te veel redes om te noem oor hoeveel wetgewing (veral die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies), wat nie op die private sektor van toepassing is nie, die Poskantoor kniehalter.

Barnes se aanbod om die Poskantoor te koop is amper met ʼn gejubel van personeel begroet. Die agbare minister het dit egter vinnig in die kiem gesmoor.

Dit wil dus voorkom asof daar dalk ʼn verskuilde agenda in die regering is om doelbewus staatsondernemings te vernietig. Staan daar dalk iemand om die draai in die buiteland wat gereed is om teen ʼn premie dienste oor te neem? Of was die idee van ʼn tweede André de Ruyter te veel vir die regering se brose trots?

Mens kan net wonder.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MakersMark ·

Barnes het baie gepraat en min gedoen. Nou will hy die poskantoor koop en omdraai? Sy kredietwaardigheid is daarmee heen.

FM ·

Alle departemente moet aan die privaatsektor binne Suid-Afrikaanse burgerskap verkoop word. So alleen het ons ‘n geleentheid om ons mooi land weer positief te bedryf met winsgewende dienste wat nie geplunder word nie.
Diefstal van pakkies in die Poskantoor het my groot verlies gekos.

MakersMark ·

Vir my ook. Ek het dit na die hoogste bestuur geneem en vertel “daar was ‘n brand by een van die verspreiding fasiliteite”. Niks verder ten spyte van nog ‘n aantal probeerslae. So my ingevoerde goedere pryk erens in ‘n werknemers se hut. Ek het die goedere weer bestel met ‘n professionele courier laat aflewer dit het sonder ‘n merkie by my adres aangekom. Die gespuis verdien om toegemaak te word.

FM ·

Pakkie uit VSA was na die koerierdiens geadresseer. Dit het hulle nooit bereik nie. Talle ‘tracking’ navrae het na 3 mnde niks opgelewer nie. Pleit bewusteloos.

Luxrider ·

Ek dink nie die probleem wat ons het is die feit dat die pakkies van minder as 1kg deur die Poskantoor moet word nie, die probleem is dat mens dan niks gaan kry nie. Om die poskantoor te gebruik vir ‘n pakkie beteken die ontvanger gaan dit nooit kry nie.

Ek het al hoeveel goed bestel wat noit by my uitgekom het nie. As die Poskantoor kliente wil hê moet hulle die probleem eerste aanspreek.

Wielspore ·

Ten spyte van die inhoud van die brief kan ek nie verstaan hoekom die poskantoor jare gelede suksesvol bedryf was. Die probleem kan nie wees agv ‘n 1kg pakkie beleid, probleem gaan oor dienslewering.

Anel ·

My moeder was 85 jaar oud is en nie van beter weet nie, of gedink het koerierdienste is baie duur, het vir ‘n vriend in die Kaap en ‘n vriendin in Namibië elkeen ‘n pakkie gestuur. Aan die begin van Maart. Nog steeds nie afgelwer nie. Sy kan dit ook nie naspoor nie want die stelsel is glo af, volgens die poskantoor. Dis nou hier uit Centurion se omgewing. Ek het toe vir haar gesê dat daar goedkoper maniere is wat sy het oor die R100. 00 vir elke pakkie betaal. Maar dit is die probleem. Baie ouer mense maak nog steeds staat op die poskantoor want dit het nog altyd vir hulle gewerk. Baie hartseer.

Dries ·

Ek het n brief van Absa-versekering op 26 Maart 2022 ontvang. Die brief is gedateer
Vrydag 1 Januarie 2010. Dis korrek, 12 Jaar,, Kon my oë nie glo nie. Almal skud net kop vir wie ek dit wys.

Jack ·

Probleem nommer een is die vakbonde. Die vakbonde oa die Communications Workers Union an all ander vakbonde wat in die COSATY stal is deel van die regering, met die gevolg dat die bestuur van enige staatsonderneming via politieke inmenging na die werknemers se pype moet dans .

Probleem nommer twee is statutêre monopolie. Monopoliee het geen rede om doeltreffend en diensgerig te wees nie.

Probleem nommer drie is dat ongeag hoe swak die Poskantoor bestuur word en hoeveel verliese hulle ly, die belastingbetalers daarvoor Pa moet staan.

Oor probleem nommer 4, die werksetiek wat vanuit sosialisme spruit, hoef ons nie eers te praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.