Lesersbrief: Sannie sê Sannie sal die seeskulpe uitlos

Elanke Snyman skryf:

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

(Foto: Nathan Steyn)

Hier is ons nou, pens en pootjies in November, en ek kan al die sout en sonbrandroom van Desember se seevakansie ruik.

ʼn Groot gros mense sal iewers tydens die komende vakansiemaand een of meer van Suid-Afrika se pragtige strande besoek, dalk is jy een van hulle.

Jy het dalk ook reeds begin om jou lysie op te stel van alles wat jy moet saamvat; sonbrandroom, swemhanddoeke, allerhande versnaperinge, en natuurlik een of ander sakkie of houertjie om jou optel-skulpies en dryfhoutjies in te pak.

Dalk gebruik jy die skulpe vir kunswerke, om fotorame mee te versier. Of eerder om saam te vat vir ouma en oupa, hulle kon tog nie vanjaar by die see uitkom nie. Of jy gaan dit sommer net rondom jou huis pak, op jou vensterbank en in jou tuin.

Ek wil jou egter aanmoedig om nie hierdie jaar skulpe op te tel nie, en ook nie volgende jaar of sommer ooit weer nie. Ja, ek weet van die skulpe is só mooi, en jy wil só graag tog net ʼn stukkie van die see saam met jou Gauteng toe vat, en wat maak dit tog regtig saak as jy net ʼn klein handjievol van die mooistes optel?

Ongelukkig is ons strande en seelewe egter werklik besig om daaronder te ly. Skulpe word deur heelwat seediertjies gebruik as skuilings. Kluisenaarskrewe (‘hermit crabs’), is uiters afhanklik van skulpe wat hulle kan gebruik as klein huisies, want daarsonder is hulle kans op oorlewing klein. Seekatte en visse gebruik skulpe as skuiling en kamoeflering, en tot seevoëls maak gebruik van skulpe om hulle neste mee te bou.

Skulpe speel ook ʼn baie belangrike rol in die integriteit van ons strande. As te veel skulpe verwyder word, verander die sediment. Dit kan bydra tot vinniger verwering en erosie van ons strande. Ons strande is reeds besig om te skuif en te krimp, dit is tyd om te bewaar wat ons het.

Om skulpe te koop by een van die menigte toeriste-stalletjies is ongelukkig ook nie ʼn oplossing nie, aangesien dit gewoonlik onmoontlik is om te bepaal waar en hoe hulle die skulpe in die hande gekry het. Die skulpe wat te koop is, is baiekeer pragtige skulpe en van beter gehalte as dié wat jy self optel.

Dit kan egter wees omdat hulle die skulpe versamel terwyl daar nog lewendige diertjies in is, en dan diertjies laat vrek in die son en die skulpe skoonmaak in suur. Ek is seker dat dit nie almal is wat so optree nie, maar ek sal eerder nie die kans waag nie.

Studies wys dat die skulpe op strande reeds drasties aan die afneem is. Jy kan dalk argumenteer dat jou een skulpie nie so ʼn groot verskil gaan maak nie, en dat die maatskappye wat ons strande vernietig veel meer skade doen. Jy mag dalk reg wees – ons ekologie is egter in ʼn weegskaal, en jou skulpie mag dalk net die keerpunt wees.

Sit neer daardie skulp en beskerm ons strande.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Windhond ·

Hierdie studies maak geen sin nie, ek bly my hele lewe lank langs die see, daar is geen manier wat mense wat skulpies optel die ekologie kan beinvloed nie – meerderheid van skulpe op die strande is in elk geval reeds gebreek en word dan seegruis wat help met die vernietiging van indringende voorwerpe

piet ·

Die lewende wesens wat skuiling soek, soek dit seker terwyl die skulpvisse nog leef terwyl dit in die see is (soos visse ens.). Weet nie wat dit te doen het met skulpe wat reeds uitgespoel is en wat gewone mense optel op die strand nie. Dis ook uiters raar dat die skulpdier nog leef nadat dit uitgespoel het. Dis wel so dat sommige van hierdie skulpverkopers, lewende skulpdiere uit die see gaan haal maar die gewone ou wat net ‘n paar skulpe op die strand optel val nie in hierdie kategorie nie.

Kirst ·

Ek verstaan wat die skrywer bedoel. Ek is ook baie lief vir die natuur, en het lank in eko-toerisme gewerk. Ek het opvoedkundige lesings voorberei en aangebied oor die natuur en ekologie as deel van my werk. My gevolgtrekking was dat ons geneig is om aan die natuur te dink as iets “daar buite”.

Ons is egter nie van die buitenste ruimte af nie, ons kom ook van die aarde af. Ons is dus deel van “die natuur”. Ons leef en tree heeltemal anders op as enige ander spesie, en ons aksies het verreikende gevolge wat baie verwoesting veroorsaak. Ons getalle is ook geheel en al buite beheer. Ons word gewaarksu dat ons die aarde gaan vernietig. Ons kan nie.

Dalk kan ons ‘n massa uitsterwing veroorsaak, wat hopelik ons self sal insluit. Daar was al voorheen ten minste een massa uitsterwing, en toe het ‘n hele nuwe gemeenskap organismes onstaan (te wete soogdiere – wat ons ook is). Dalk is ons maar net ‘n vektor wat die aarde gaan verander om plek te maak vir iets nuuts?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.