Oom Johan van Riversdal skryf:
Vir baie jare het dit gevoel of die seëninge wat getel moet word, almal een van die baie geestelike seëninge moet wees, of dan nou gesondheid, voorspoed, geluk en dié soort van dinge. So met die jare kom ʼn mens agter dat mense en dit wat hulle doen, bronne van ryke seën is.
Daaroor kan ek lank voortborduur. Deesdae gaan dit vir my baie oor dit wat ek deur die media kan lees, sien en hoor. Daar het nie veel oorgebly van lees, sien en luistergenot nie, maar gelukkig is daar nog enkele uitsonderings wat dit wel verskaf.
Iewers het ek ʼn sêding raakgelees: “When I count my blessings, I always count you twice”. So voel ek oor Maroela Media. Ja, so voel ek oor die hele Maroela Media-span! Die radio bied weinig en die Burger word binne ʼn halfuur deurgelees. Ek het donkiejare laas ʼn tydskrif gekoop en vir meer as dertig jaar kom ek sonder TV klaar.
Terug by Maroela Media wat elke dag in my hartstaal, die mooiste taal wat ek ken, met my praat. Dis my seëning wat ek altyd twee keer tel. Dis nou al vir jare so en vir die jare vorentoe sal dit so bly. Maroela Media is ʼn agteroorsitlekkerte wat my gewoonlik laat wens dat ʼn dag meer ure gehad het.
Vir elke besondere seëning moet dank en waardering uitgespreek word:
Dankie vir wye nuusdekking wat behoudend aangebied word deur die kaf van die koring te skei.
Dankie vir uitstaande joernalistiek.
Dankie vir uitstaande kommentaar deur kundiges sonder verskuilde agendas.
Dankie vir die weglating van sensasionele en smerige beriggewing.
Dankie vir keurige taalversorging.
Dankie vir hoop in ʼn wêreld waar hoop vervaag.
Dankie vir moed vir die moedeloses.
Dankie vir die blou balk heel bo met sy baie venstertjies wat na hartelus oopgeskuif kan word om lig te werp op dit wat regtig saak maak.
Dankie vir lief wees en omgee vir lesers wat wêreldwyd Maroela Media lees en waardeer.
“Dankie” is die mooiste woord in die mooiste taal wat ek ken.
En nou kan ek rustig agteroorsit en al my ander seëninge tel. Daarvoor het ek baie tyd nodig want die een herinner my aan die ander. Elkeen van hulle getuig van God se genade wat vir ons genoeg is.
Dankie oom Johan dat jy ons daaraan herinner om DANKBAAR te wees. *“Dankie” is die mooiste woord in die mooiste taal wat ek ken.*
Ek is nog nie bejaard nie, maar is hopelik op pad soontoe. Baie goeie bydrae. Nou die dag noem ‘n ou van sy pyne wat hy ervaar wanneer hy in die oggend opstaan. Ek rol gewoonlik uit die bed uit. Ek noem toe aan hom dat hy is nog bevoorreg om die pyne in die oggend te kan voel/ervaar. Daar is ouens wat dit nie meer kan ervaar nie. Alles is genade, barmhartigheid en seen.